Herinneringe in ‘n blik.

Verlede jaar het ‘n blogvriendin die internettydskrif van Nico Shamrel aan ons groep bekendgestel. (Gaan soek hom gerus, hy is op facebook.) Kyk na die prent, en skryf ‘n storie van 1000 woorde daaroor, is die opdrag. Ek het gekyk, hierdie prent gekies en daaroor geskryf, dit ingestuur sonder enige verwagtinge. Ek moet sê Nico het teen sy eie beleid in, vir my ‘n epos geskryf en my storie hoog aangeskryf. Dit was nog steeds nie goed genoeg om geplaas te word nie, dus plaas ek dit nou op my blog.

Herinneringe in ‘n blik

Vriendin neem my vir tee na ‘n restourant. “Rustic” sou my dogter dit beskryf.  Eintlik kom ek min in restourante.  My innerlike introvert verkies die rustigheid van my huis met ‘n koppie tee en selfgebakte koekies.   My ouma se speserykoekies om presies te wees.  Die geur van kaneel en gemengde speserye gaan sit mos in mens se geheue, vir altyd.  

Met die instapslag sien Vriendin dadelik iets raak wat verander het.

“Mens,” begin sy, “kyk net al die nuwe goed teen die mure.  Al daai lieflike blikke!  Ek wonder waar  Kobatjie haar blikke wat so lyk gekry het.  Seker maar by haar oumagrootjie. Shame, hulle bly ook maar in ‘n opslaanhuisie agter in die uncle se jaart. Laas week was hier ‘n antieke fiets teen die muur.” 

Mens.  Sy noem selde enigiemand op die naam.  Mens of  Vriendin of Vrou! Met ‘n uitroepteken agterna.   En mens moet spring om by haar gedagtegang te hou.

Ek en Vriendin kry sit by die agterste tafeltjie, koppie tee en wortelkoek voor ons. Ek wil haar vertel van my ouma wat ook sulke identiese blikke gehad het, dis  uitgestal in my kombuis. Lekker onthougoed. Maar, sy praat, aanmekaar,  en ek luister soos gewoonlik.

“Hoor hier,” kry sy iets om oor te kwetter, “daai blikke laat my nou dink aan iets wat ek jou wil vertel.  My skoolkinders moes mos ‘n tydjie terug mondeling praat.  Bring en vertel.”  As sy opgewonde raak, praat sy in stukkies sinne.  Seker om meer vertel te kry in een asem.  “Het later gevoel as ek nog een kaas en tamatie-toebroodjie sien, gaan ek in een verander.  Ewenwel, toe kom staan Kobatjie voor die klas met ‘n blik wat net soos daardie grote teen die muur lyk. “

 “Memories are made of this, sweet sweet memories are made of this.

Die melodie van Dean Martin speel saggies in die agtergrond van die restourant.  Dis so gepas op hoeveel gebeurtenisse van mens se lewe, nie net ‘n jong liefde, huwelik en kinders nie.  Ook op oomblikke in mens se lewe wat weer wakker word met net ‘n flietende woord, prent, ‘n ou blik.

Musiek het nog altyd my aandag afgetrek en ek  verloor die lyn van die gesprek : “Vriendin, wag, stadig.  Ek het jou verloor.  Begin weer. Wat het Kobatjie en blikke en mondeling in gemeen?”

“Mens!  Wag daarvoor!  Die kind beginne toe vertel van die koekies wat sy by haar oumagrootjie leer bak het.  So met varkvet, speserye en al. Bring toe nogal ‘n stukkie rou deeg ook saam om te wys hoe mens dit uitrol. Ewe ‘n leë wynbottel ook saamgebring vir die rolslag. So bietjie sountoe rol  en dan so bietjie annerkant toe rol, sê die kind het haar oumagrootjie altyd gesê.”

Iewers in my agterkop begin daar ‘n klokkie lui.  Ou Jakobatjie wat by mý ouma gewerk het, het ook altyd so gesê.

“Vriendin, waarvandaan kom die kind?” val ek haar weer in die rede. 

Sy frons.  “Maar Vrou, ek is mos besig om te vertel, man, luister nou eers klaar! Ewenwel, Kobatjie rol toe diekant en daardie kant toe en toe vat sy ‘n mes en sny die degie in vierkante. G’n stuk niks ronde balletjies of sirkels wat uitgedruk word nie.”

Die agtergrondmusiek het oorgeloop van een lied na ‘n volgende na ‘n ander en toe kom die woorde van “It’s a small small world” deur die luidsprekers.  

Though the mountains divide
And the oceans are wide
It’s a small world after all
It’s a small small world.

Ek kan nie verder net stilbly en luister nie.

“Vriendin, hoor gou, waar kom die kind vandaan?”   Want as sy van die diep Karoo af is, dan praat mens mos van ‘n bitter klein wêreldjie hier.  Dis waar ek grootgeword het.

“Vrou, het ek dan nie gesê die kind kom uit die diep Karoo uit nie?  Bly mos nou hier by haar ouma  sedert haar oumagrootjie dood is. Arme dingetjie is ‘n wesie.  Jy weet, pa was alkoholis, ma was vergryp aan Tik, die ouma was ook hoeka nie te wel in die kop nie,  hoe die kind nog so by haar verstand kon wees gaan myne te bowe.”

Sy haal gou asem.  “Ewenwel, toe sy nou klaar die koekies so in stukke gesny het, maak sy die koekieblik oop en haal ‘n paar koekies uit.  Mens!  Die heerlikste geur van speserykoekies hang toe so in die lug. Ek het behoorlik kleiner en kleiner happies gevat van die een wat sy my gegee het net om die lekker uit te rek.”

Maar dan gaan daar tog ‘n liggie op by haar.  “En hoekom stel jy so belang in die kind?  Ek vertel mos eintlik van die blikke.”

My woorde kom stadig uit.  “Vriendin, as hierdie Kobatjie van jou verwant is aan ‘n Jakobatjie wat ek geken het, dan het ons werklik ‘n baie klein wêreldjie hier.”

Vriendin se nuuskierigheid loop oor.  “Nou toe dan, Mens, praat!  Waarvoor wag jy?”

“My ouma het ‘n huishulp gehad wat meer soos haar geselskapdame was.  Oral waar Ouma was, het Jakobatjie saamgegaan.  Dierbaarste ding op die aarde.  Altyd reg met ‘n tuisgebakte koekie.  En sy het ‘n wynbottel gebruik om die deeg uit te rol.  Altyd gesê: “Eers sountoe, dan annerkant toe”.  En sy het die koekies in blokkies gesny en in  ‘n ou blik gesit soos daardie blik teen die muur.”

Ek wil nog verder vertel, maar Vriendin val my in die rede, nie gewoond aan luister nie. “Haai, Mens, wat vertel jy my?  En toe? Wat het van Jakobatjie geword?” 

Ek gaan ver terug na my jonger dae.   “ Na my ouma se dood het Jakobatjie verdwyn.  Dis mos maar soos die lewe verloop, nie waar nie?    Mense kom, mense gaan. Ek het wel die laaste koekieblik vir my gevat en dit was vol speserykoekies.  Ek het vir weke lank daaraan geëet.  Skelm, waar niemand anders my kon sien nie.  Ek het nog steeds die blik. Dis so ‘n ek-kyk-daarna-en-verlang-ding.”

In my eenheid vlieg ‘n idee deur my gedagtes.  Dalk kan ek tog iets doen vir Jakobatjie:  kyk na haar kleinkind omdat sy nie meer kan nie. 

“Vriendin, waar is Kobatjie?  Dink jy ek kan haar ontmoet? Dalk iets vir haar doen?”

Haar oë raak donker. 

“Is te laat,” sê sy effens weemoedig.  “Covid het haar kom haal.”

In die agtergrond huil Adam Lambert:  it’s a mad mad world.

Liedere:  Memories are made of this    Dean Martin   Small world  © O/B/O Capasso Mad world    Adam Lambert

Krale en ontknopings

Terwyl Seegogga besig is om duisende knope uit te sorteer vir ‘n prent wat sy met  knope moet maak, kom die skoknuus: Daar is ‘n lyk ontdek in ‘n gastehuis in die Overberg.
Natuurlik gryp die Goue Vroue hierdie geleentheid aan. So ‘n storie moet ontknoop word!

Hierdie is die sewende deel van ‘n nuwe avontuur vir die Goue Vroue. Om hierdie vervolgverhaal te volg, klik hier.

*****************************

“Goue Vroue, ons moet gaan help. Moet ons Wildtuin toe?” Dis die vraag van Seegogga in almal se ore. En soos een man staan almal op. Wildtuin toe sal dit wees. Want dis wat die Goue Vroue doen, hulle help, hulle ontknoop en as dit moet maak ‘n hulle ‘n knoopsgat sodat iets vasgeknoop kan word.

“Frannie,” vra Appeltjie, “hoe het jy nou weer so vinnig hier gekom vanaf Rebusfontein?”

“Ek het ‘n Rebustruuk getrek, my oë toegeknyp en gewens,” antwoord Frannie, “maar ek dink nie dit gaan op Bredasdorp werk nie.”

“In daai geval, ek het nog ‘n paar vriende hier by die Lugmagbasis. Ek organiseer gou ‘n helikopter, dan kan hulle ons daar gaan aflaai,” antwoord Appeltjie. ‘n Oproep, ‘n mooi vra en ‘n uit-die-hart-uit dankie later, sit die Goue Vroue in die helikopter, gereed om op te styg. Langs hulle op die vloer is daar ‘n suspisieuse klomp sakke.

“En dit?” wil Frannie van die vlieënier weet.

” Dis julle valskerms,” antwoord die vlieënier. “Die area waar julle wil wees, is ontoeganklik vir die chopper om ‘n landing uit te voer. So julle gaan moet spring.” Hy klink jaloers.

“O nee, oor my dooie liggaam, hier klim ek af,” sê Frannie beslis. “Ek sal die toue se stringe hier vasknoop in Toorts se huis. Sorg maar net dat julle heelhuids by die toneel aankom. Ek wil nie hoor van gebreekte bene en arms nie.”

Toe die helikopter opstyg, het die hulpvaardige soldate gou-gou die Goue Vroue in die harnasse vasgegespe. “Dis baie eenvoudig,” laat een van hulle hoor. “Jy val uit, trek die koord en mik met jou voete in die rigting waar julle wil land. Links en regs toue trek werk ook. Die bome sal julle wel help om te stop en veilig op die grond te kom.” Hy greinslag.

Appeltjie trek haar wenkbroue hoop op. Sy weet dis nie so eenvoudig nie en ‘n landing in ‘n boom? Sy sien haarself al swaai aan ‘n doringboom soos ‘n pendulum, met ‘n klomp toue om haar lyf gedraai. Maar nood is nood en hulle moet nou gou maak.

Die Goue Vroue is egter nie verniet planmakers nie. In die helikopter sit en doen hulle skynoefeninge om die tou te trek, rigting te kies, veilige landings te doen. Tot die deure oopgaan en die bevel kom om te spring.

Met gille en skreeue en jippieeeeeeeeeeeees wat deur die lug weergalm, is al die Goue Vroue in die lug, sweef hulle asof hulle professionele springers is na die toneel waar die verskeurde lyk van ‘n vrou gevind is. Die landing in die bome is egter iets waaroor geen een van hulle ooit weer sal wil praat nie.

Voor hulle is die aaklige toneel van die vrou wat deur die diere verskeur is. Scrapy sit ‘n videocall deur na Una in Mosambiek sodat sy die persoon kan uitken. Una het sopas in Mosambiek aangekom, maar nog nie met die vrou in die gastehuis gepraat nie. Met die eerste oogopslag laat hoor sy egter: “Julle, dis nie Fifi nie. Fifi se hare was beslis nie vol kraletjies gevleg nie. Laat weet asb gou vir Frannie sodat sy vir kaptein Gigaba in kennis kan stel. Ek gaan gou kyk of dit Fifi is in die gastehuis.”

“Terwyl ons nou hier is, kan ons net sowel soek na die seun. Het iemand al uitgevind wat sy naam is?” vra Seegogga.

Scrapy is nog op die lyn en sy kontak dadelik vir kaptein Gigaba. Baie gou kom die antwoord dat daar ‘n seun met die naam van Petrus as vermis aangegee is deur familie in die Kaap. Die kaptein is nogal ontsteld om te hoor dat die Petrus ‘n familielid mag wees van die Blouknoopbende. Hier is groot moeilikheid aan die kom. Bendegeweld is hoeka tans ‘n probleem.

Una se oproep kom deur. Fifi sit en huil nog in die gastehuis. Appeltjie dink aan ‘n idee. “Una, vra vir Fifi of sy en Petrus dalk ‘n geheime kodewoord het wat hom sal laat veilig voel. Ek het ‘n teorie oor wat gebeur het in Baadjiestraat. En in daai geval gaan ons slegs vir Petrus sover kry om ons te vertrou as ons hulle kodewoord het.”

Una se oorredingsvermoë werk en kort voor lank kom die antwoord: “Knopies”. Regtig? So eenvoudig? Maar as dit so is, is dit so.

Die Goue Vroue verdeel in groepe, kry die bymekaarkomplek se koördinate op hul selfone en versprei. Iewers is daar ‘n hol boomstomp of ‘n erdvarkgat of iets waarin Petrus kon kruip en kry sal hulle hom kry. ‘n Paar uur later stuur Appeltjie die boodskap deur: ek het hom. kry julle by die bymekaarkomplek.

Die wildtuinpolisie laat toe dat die Goue Vroue en Petrus in hul kantoor wag vir kaptein Gigaba om sy rang te gebruik sodat almal na Una se eiland toe kan gaan om daar saam te wag vir watter owerheid ook al gaan opdaag om die saak af te handel.

Appeltjie is aan die woord: “Hier is my teorie. Fifi was die bendeleier A se verloofde. Hy was een van ‘n identiese tweeling. Petrus was sy seun. Fifi het snuf in die neus gekry van onheilighede maar kon nie ontsnap nie. Toe hulle dus in Napier beland op wat veronderstel was om ‘n liefdevolle naweek te wees, het die broer, kom ons noem hom B, daar opgedaag, hom uitgedaag en vermoor. Fifi en Petrus kon wegkruip. Toe hulle in die groen kar ontsnap, het Petrus by die venster uitgehang en gegil in skok, asof hy sy pa so wou terugbring. Dis wat die mense gesien het. Ek dink hulle is nog op die vlug vir Broer B. Fifi het vir Petrus afgelaai en gesê kruip weg sodat Broer B hom nie kan opspoor nie. En nou is Petrus by ons en moet ons vir hom en Fifi veilig kry.”

Positief, jy is volgende. Hoe gaan ons dit doen?

Kersfees op Rebusfontein

Uitgeput strompel Appeltjie Rebusfontein binne. Moeg, leeg, niks meer om vir iemand te gee bly in haar oor nie. Die jaar het sy tol geëis. Die pad na haar huis voel lank. Sy sien nie eens die nuwe vetplantjies in haar tuin raak nie. In haar kop rol alles wat gedoen is en wat nog gedoen moet word voor die nuwe skooljaarbegin, soos wasgoed in masjien deurmekaar – opgebondel en gekoek.

Hoe laat gaan mens vir 4 weke onafgehandelde sake? Na die tyd is dit net weer daar, groot en dreigend soos voor die tyd. 

Haar brein en haar persoonlikheid is in stryd met mekaar.

Brein: “Jy weet die nuwe klasse wat moet op en waarvoor daar speelgoed gekry moet word, is nie jou verantwoordelikheid nie.”

“Maar dit was tog van die begin af my projek en toe is ek daarvan afgehaal en toe weer teruggesit en toe draai hoofkantoor tot op die laaste nipper met die toestemming. En ek het die ouers belowe ons vat ‘n stap in geloof en die 6-jariges sal op 17 Januarie in ‘n klas instap.”

Brein: “Maar jou nugtere denke moet jou mos laat verstaan dat jy nie mensalleen kan instaan vir alles nie. Tot op die einde het jy ‘n kursus bygewoon, jy het ‘n man en ‘n huis en ‘n familie wat ook jou aandag wil hê. Wanneer dink jy moes jy tyd inruim vir nog iets?”

“Mense maak staat op my. Hulle weet as ek iets aanpak, dan word dit onberispelik afgehandel. Dis hoekom hulle moeilike projekte vir my gee. En dis kinders se leertoekoms waarvan mens hier praat. Daar moet legkaarte en boublokke en fantasiespeelgoed en leermiddels wees as die kleintjies kom.”

Brein: “Ai Appeltjie, haal daai label van perfeksie van jou nek af. Jy is net ‘n mens. En die persoon wat jou wil aanvat omdat jy nie bloed uit ‘n klip kan tap nie, moet daai klip oorvat en self daai bloed uitdruk.”

Buite hoor Appeltjie haar Rebusdiere speel op die balkon. Van die meer se kant af hoor sy die gelag van die Goue Vroue. Sy kyk na haar hande – vir ‘n oomblik flikker haar goue vingers ‘n warm gloed en dan trek die goud terug binnetoe. Tot haar goudheid is moeg. Rebusfontein het ‘n harde werk voor om haar energie te herlaai.

Sy stap oor na Seegogga se huis toe. Dalk sal die vrolikheid van die ander haar laat beter voel. Met leë hande, sonder ‘n spesiale rok, eetgoed of ‘n kerskousie, net met haarself stap sy die huis in. Met die verbygaan glip ‘n stukkie van Toortsie se vrugtekoek sommer so vanself in haar hand. Die liefde daarin proe heerlik in haar mond, glip warm in haar keel af.  ‘n Skulpie van Una af kom vou saggies om haar nek.  “Jy is spesiaal,” fluister die wind in die skulpie. Miskien sal Virgo weet wat om te doen om haar uit die gat uit te kry.

Die Goue Vroue wat reeds opgedaag het, giggel en lag en jil dat mens hul wie-weet-waar kan hoor. Tog vlieg die vrolikheid oor Appeltjie se kop. En die ander let dit op. Dit raak stil toe hulle haar gewaar. 

“Kan ek maar net met myself hier by julle kom sit?” vra sy .

Die ander skuif op, maar ‘n sitplekgaatjie, omring haar met hulle verstaan. Hulle het self almal bagasie van die jaar wat iewers geparkeer staan. 

“Wees maar het hier,” hoor Appeltjie vir Una sê. “Jesus het aarde toe gekom vir oomblikke soos hierdie. Hy verstaan. En ons is almal hier vir jou. En vir mekaar. Ek het lank op die maan gesit, ek verstaan hoe jy voel. Maar nou het ek ‘n see en kilometers sand en Hy het dit vir my gegee. Hou uit, jou uitkoms is om die draai.”

Appeltjie vee ‘n moë traan weg. Sy voel hoe die knop op haar maag begin sag raak. Nog nie weg nie, net sagter. 

Here, dankie vir die Somerkersfees saam met geliefdes. Dankie vir 10 000 redes om U Naam te prys. Bless the Lord, oh my soul, there are 10 000 reasons to praise Him.

Sestien vyf twee, Van Riebeeck vaar oor die see. hfst 11

Die Goue Vroue is ’n groep vindingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Klik op die volgende skakel as jy lus is om te loer wat ons hierdie keer aanvang…

https://fresh.inlinkz.com/party/dd0d1dc46eb64ccf9ede0f8f19d43711

***********************************************************************************************************

Intussen, ‘n hele ent van die hawe en die muitery af, loop Appeltjie, Toorts, Positief en Scrapy  Goewerneur Jan se manne wat kom help met die elande, raak. Maar hulle kan sien die manne is haastig, want daar is niks van ‘n ogie gooiery of sterkman aktiwiteite nie.  Nee, dis gryp, gooi op die wa, en jaag terug.  “O, fokkendonnertjie tog,”  laat Positief haar gunsteling sêding kwyt, “wat op die aarde is nou aan die gang?”  

Die Hollandse manne verstaan die strekking van die saak en laat weet vinnig: “Er is  een grote puinhoop in de haven.  ‘ n Seerowership ontvoerd de vreemde vrouwen en de gouverneur is onderweg met al zijn soldaten om hen te gaan redden.”

Die 4 Goue Vroue vergeet van die elande, spring op hul perde en begin jaag.  Arme Toorts wip hierdie kant en daardie kant toe maar slaag darem daarin om bo te bly.  Appeltjie vergeet van seesiek wees op ‘n perd, en Positief en Scrapy lê plat op hul perde soos hulle jaag.  Agter Tafelberg steek die blou onweerswolke op.  Is dit dalk ‘n teken van wat voorlê?

Net toe Goewerneur Jan met sy soldate die skip wil bestorm, jaag die Goue Vroue die hawegebied binne.  Oral staan daar net mense rond wat arms swaai en die een plan na die ander uitskree.  Chaos se moses. 

Eenkant staan die Goewerneur, Aalsie en Renier Boom.  Mev van Riebeeck, haar slavinne en die ander Goue Vroue bondel ook op ‘n hoop saam.  Appeltjie skraap haar moed bymekaar en gaan praat met die Goewerneur. 

“Goewerneur, asseblief, wag met die aanval.  Ons Goue Vroue is gewoond daaraan om mekaar uit benarde situasies te red.  Gee ons net ‘n gou ‘n kans om te beraadslaag.  As ons plan u nie geval nie, kan u voortgaan met u eie plan.”  Appeltjie weet net hoe om met die bevelvoerder om te praat.  Maak asof hy die wenner gaan wees, asof hy die arme vroulike geslag ‘n guns doen deur hulle ook ‘n kans te gee.  Die man se bors rys van belangrikheid en hy staan terug. 

Onmiddellik is die Goue Vroue op ‘n hoop, Maria ook.  Toorts, Positief, Scrapy, Aalsie,  Una, Christa, Trommeltjies en Frannie.  Renier Boom stap ook vasberade nader, maar besluit baie gou dat hy in hierdie geselskap eerder net moet luister.  Hier kom ‘n  plan soos nog nooit tevore nie. Die inwoners van die Kaap kyk hoe die Goue Vroue sirkel roer en beweeg, hoe koppe skud en knik.  Dan word daar hande hoog in die lug teen mekaar geklap en die vroue spat uit mekaar.  Een groepie waarvan Aalsie en Renier Boom deel is, draf see se kant toe.  Die ander groep waarvan Toorts een is, draf links om na die ander vissersbote toe.  Net gou volg daar onderhandelings oor die gebruik van ‘n paar bote.  Die seile word gespan en die bote gaan neem stelling in links en regs van die seerowerskip. 

Appeltjie het na die rivier se kant toe gehardloop met ‘n paar manne op haar spoor.  Sy wys hulle gou hoe om ‘n paar lang, dik riete te sny en ‘n gaatjie te maak sodat mense daardeur kan asemhaal.  Terug by die groepie op die strand, kry elkeen ‘n lang riet en oefen hulle gou die tegniek.  En toe, tot die toeskouers se grootste verbasing, of dalk ontsteltenis en beslis belangstelling uit die manlike geslag, begin die groep hulle lang oorrokke uittrek.  Die Goue Vroue het besluit dat die bloomers en kort onderrokkies lyk soos moderne swembroeke vir ouer dames en daar spring hulle in die see in en begin swem, riete in die mond.  Die riete lyk soos seegras wat deur die water dryf.  Geen seerower sal dink hier kom ‘n reddingspan aan nie.  Die plan is gereed:  Aalsie en Renier Boom sal teen die kant van die skip opklim terwyl die vissersbote se Goue Vroue ‘n lawaai sal maak om die muiters se aandag af te trek aan die ander kant.

Die branders begin nou opstaan soos die koue front die Kaap nader vanuit die ysige Antarktika.   

Intussen sit Seegogga, Sonell, Ekmyself, Lolla en Kameel in ‘n klein kajuitjie toegesluit.  Die seerowers het darem nie gedink om hul hande ook vas te bind nie. 

Die volgende oomblik begin ‘n skeepsklok hard beier en ‘n benoude stem gil uit:  Brand!  Brand aan boord!

Trommeltjie, sal jy ons kan red hier?

Dawie is siek

“Kwaak, kwaak!”

Dawie spring regop waar hy oënskynlik vas slaap op Menspappa se skoot. Hy hoor die verdekselse padda wat hom so treiter. Die padda het besluit hy woon by die swembad. Daar kwaak en kliek hy vir Dawie om hom te jaag. Sodra Dawie dan daar aankom, hop hy tot in die swembad en koggel hom van daar af. Maar vanaand het Dawie ‘n plan. Die verdekselse padda gaan vanaand sy moses teëkom.

Dawie spring van Menspappa se skoot af en glip by die skuifdeur uit. Dan skuur hy langs die woonkamer muur verby, af met die trappe en draf styf teen die vetplantbak langs verby die swembad tot by die onderste tuin. Die padda moet dink hy wat Dawie is, ignoreer hom.

Buite sig van die padda draai Dawie om en sluip op sy magie nader. Baie versigtig. En werklik, sy plan werk. Daar sit die padda nog op die rand van die swembad, gereed om in die water te spring as hy Dawie gewaar. Maar Dawie kom geruisloos nog ‘n bietjie nader, span sy spiertjies saam en spring! Voor die padda kan reageer, het Dawie hom in sy bekkie. Die padda spartel verwoed en toe hy nie kan loskom nie, gebruik hy sy geheime wapen. Hy stel ‘n bietjie skuim vry wat Dawie se bekkie irriteer.

Dawie skrik groot, en met die loslaatslag sluk hy ‘n bietjie van die slym. Jiggggg! Dit smaak sleg. Dawie spoeg en spoeg om van die slym in sy mondjie ontslae te raak. Hy neem tot ‘n slukkie water, maar dis nog ‘n groter fout, want nou gaan nog van die goed in sy keel af.

Dawie draf op huis toe. Mensmamma moet help. Hy voel so naar! Hy strompel by die skuifdeur in. Maar voor hy ‘n tjankie kan gee, voel hy hoe die naar in sy keel opstoot. Sy magie kramp en trek saam en daar kom die slymgemors uit. Reg voor Mensmamma op die skoongewasde deurmatjie.

“Lief!” hoor hy haar gil. “Dawie is siek! Kyk hoe gooi hy op! Foeitog, my arme dingetjie. Wat het jou oorgekom? Het jy weer ‘n by ingesluk?”

“Bedaar Vrou, hy het seker net weer met die padda gelol en nou brand sy bek,” laat hoor Menspappa rustig.

“Maar ek moet hom help! O griet, hier kom nog ‘n opgooi. Okay, my liefie, Mamma het jou. Kom ek hou jou magie vas. Daaaaaaaars hy, spoeg al daai gemors uit.” Mensmamma se hartjie is baie klein. Sy hou nie van siek hondjies nie. Dawie onthou toe hy nog ‘n babahondjie was, het hy nie geweet wat ‘n by is nie. Toe die zoemende ding so voor hom gevroetel het, het Dawie gereken dis iets wat hy kan eet. Daarom het hy die ding platgetrap, dit geproe en per ongeluk ingesluk. Die by se gif het hom erg siek gemaak. Hy het vir ure lank so opgegooi dat Mensmamma later gereed was om hom dieredokter toe te neem. Sy het selfs ‘n ou handdoek op haar bed oopgegooi sodat hy daarop kan lê terwyl sy hom vashou, sodat hy kan opgooi sonder om haar duvet vuil te maak. Daar het hy sy les geleer oor bye.

Maar nou voel sy magie net so seer. Wag, daar gaan die yskasdeur oop. “Lief,” lig Mensmamma vir die klaarblyklike ongevoelige Menspappa in, “ek gaan vir Dawie melk ingee. Onthou jy my kollega het laas gesê dit sal die seer in sy magie laat bedaar en dalk help om die gif te laat uitkom?” Sy maak die melk effens lou en gooi dit in ‘n poedingbakkie sodat hy maklik kan lek.

Eers gee hy teensinnig net ‘n paar lekkies. Maar toe Mensmamma hom aanmoedig, maak hy die bakkie leeg. Toe neem sy hom na die wasbak toe, draai hom toe in ‘n handdoek en was die slymgemors van sy bekkie af. Hy hou niks van die water nie en probeer hom losvroetel. Maar Mensmamma se greep is stewig en baie beslis hou sy aan met was tot sy haartjies weer skoon is en lekker ruik. Sy vryf hom droog en sit hom neer op die grond. Maar sy hartjie voel klein en hy sit sy pootjies teen haar bene. Dit beteken: tel my op asseblief. Hy laat toe dat Mensmamma hom liefderik in haar arms optel en op haar skoot neersit. Sy vryf sy koppie, krap sy ruggie en streel sy magie. Oooooooo dis lekker. Van tyd tot tyd kramp sy magie nog, maar die opgooi is weg.

Later die aand, toe dit slaaptyd is, kruip hy styf agter Mensmamma se rug in. Hy snuif haar bekende reuk diep in sy longetjies in. Gee haar ‘n liefderike leksoentjie om dankie te sê.

“Kwaak, kwaak!” hoor hy deur die venster. Blessitse padda, kwaak maar. Met jou is ek klaar.

Tot volgende keer, ten minste.

Badtyd vir Dawie.

Dis herfs.  Die dae begin kort raak en die aande koud. Dawie se haartjies het goed gegroei vandat hy die eerste keer geskeer is as jong hondjie.  Hy kry nie meer so koud saans nie, omdat sy haartjies langer is.

Menspappa hou daarvan om vir Dawie op te tel en sy haartjies te vryf.  Eers trek hy sy vingers van voor tot agter deur die sagte lyfhaartjies.  Dan streel hy hom onder sy kennetjie en vryf sy oortjies.  Dawie se ogies gaan toe van lekkerkry.  Hy strek sy beentjies voor- en agtertoe sodat Menspappa langer kan vryf van voor na agter.  Hy voel die liefde in elke aanraking. 

Maar dan kom die gevreesde woorde:  Dawie, kyk hoe lyk jou haartjies.  Het jy al weer ‘n gat gegrawe?  Jy moet ‘n slag bad.  Dis Mensmamma.  Dawie trek sy oortjies plat en probeer op sy magie uit die situasie kom. Hy kruip tot by Menspappa en en gaan lê agter sy voete. Mensmamma is reg.  Hy het ‘n paar gate gegrawe.  Ai tog, niks ontglip haar oë nie.

Dan kom die gevreesde geluid uit die badkamer.  ‘n Kraan wat oopgedraai word.  Water wat in ‘n badjie inloop.  En dan Die Woorde:  Kom, Dawie, dis badtyd!  Moet sy dit so na ‘n heerlikheid laat klink?  Dis nie!  Hy probeer weghardloop, maar Mensmamma vang hom.

In die badkamer laat sak Mensmamma hom versigtig, agterpootjies eerste, in die louwarm water.  Dan gooi sy bekersvol water oor sy agterlyfie.  Die babasjampoo met ekstra versagmiddel in word oor sy lyfie gestreel.  Dit maak seepborrels op sy haartjies.  Hy het al gehoor Mensmamma sê Yorkies het regte menshaartjies.  Die seep word afgespoel.  Hy gryp sy kans aan en gee ‘n goeie skud.  Water spat die wêreld vol. Dawie!  Ag nee, staan stil.  Nou is my bril vol water, raas Mensmamma.

Dan voel hy die water oor sy gesiggie. Neeeee!  Hy probeer uit die badjie klim.  Maar Mensmamma het ‘n stewige greep.  Sy vryf oor sy gesiggie, haal die grondklontjies by sy ogies weg, vryf sy neus en onder sy ken.  Hy nies  en lek die seep oor sy lippies en neusie weg.  Jiggggg, dit smaak sleg.  Dan voel hy hoe die skoon water oor sy lyfie stroom.  Dankie tog, amper klaar. 

Mensmamma maak hom staan teen die bad se rand.  Sy druk die oortollige water uit sy haartjies, van ‘n handdoek en draai hom toe van kop tot tone.  Begin hom stewig afdroog.  Oe, hiervan hou hy.  Hy voel hoe hy opgetel en kamer toe gedra word. Die haardroeër word aangeskakel. Die borsel met die skerp tandjies trek deur sy haartjies.  Hy draai sy lyfie rond en bont sodat Mensmamma beter kan bykom.  Dis ‘n lekkerte wat skrik vir niks. 

Uiteindelik is sy klaar.    En dan kom die volgende woorde waarvoor hy wag:  Lief, roep vir Dawie!  Dawie, waar is Pappa!  Soek vir Pappa.  Hy staan regop.  Sy haartjies voel veerlig, roer saam met hom. 

DAWIE!  Hoor hy Menspappa se sterk stem roep.  Hy trek weg en hardloop.  Sy haartjies staan behoorlik agtertoe in die wind.  Tot by Menspappa en in sy arms in.  Dan roep Mensmamma: Kom, Dawie, kom!  Hy trap vas, spring uit Menspappa se arms en hardloop terug,  maak ‘n omdraai net voor sy hom kan vang en storm gang af terug na Menspappa toe. 

Sy lyfie voel skoon en lig. 

Badtyd is op die ou einde tog lekker.

moving to instagram

I post this note for all my followers. And at the same time I need to add that not in my wildest dreams I ever thought I would use that word. However, blogging found me, I found Cee Neuner and so my venture into photography started.

I went wild with my photos, without properly doing my research first (something which goes totally against my personality). Thus I do not have any more space in my media library. I tried to replace the photos and very soon realised the futility of that exercise! Then my niece advised me to try Instagram. Which I did.

And I found my second niche. I now have an Instagram account @adrierwee and I happily place a photo (or two or three) daily. Much to my amazement (after adding #s on advise from my daughter) people all over the world started sending likes and within three weeks I already have 28 followers, some of whom are leaving complimenting comments! The mind boggles. But there it is.

So, Dear Friends, if you would like and I would appreciate it, please check in at adrierwee on Instagram and start following me there. I will not leave my blog. I still write stories there with the group of women – the Goue Vroue (Golden Girls) and I definitely check into the photobloggers that I am following, from whom I still draw inspiration. But my photos will in future only be on Instagram.

Thank you for everyone who thought my efforts to be worth a second glance and to be follow-worthy.

Die Goue Vroue hou partytjie op Rebus #4

Die Goue Vroue is ‘n groepie verbeeldingryke dames wat wonderlike avonture saam beleef in die kuberruim. Hulle het al met ‘n vlieënde tent om die wereld getoer, met ‘n luukse strykyster plesierboot die oseane verken, Jumanji in Afrika gespeel, deur die ruimte getoer, partytjie gehou saam met ABBA en nog baie ander avonture beleef. Hulle woon op hulle eie dorpie, Rebusfontein, waar dit altyd mooiweer is.

Nou gaan hulle partytjie hou op Rebus en wie weet wat gaan gebeur? Ons sal moet wag en sien!

Om nog te lees, klik gerus hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5330572ab12247dfafd5de0b9c14dd82

Appeltjie is besig met vroetel in haar huisie. Sy weet die ander Goue Vroue het al een-vir-een aangekom op Rebusfontein om vir Lolla en Scrapydo welkom te heet op hul dorpie. Sy dink terug aan haar woorde by Seegogga op die stoep: “Mense, dan is dit nou amptelik. Elke persoon bring iets lekkers te ete en te drinke na die meent toe. En ‘n lekker musiekie. En sommer ‘n resep ook. En iets spesiaals uit jou rebushuisie as tafelversiering, of wat julle graag vir ons wil wys.”

Vandat Appeltjie youtube musiek ontdek het en dit kan speel met die fibre wat hulle nou onlangs laat insit het, word haar hele huisie gevul met die wonderlikste Afrikaanse boudwikkel musiek. En haar boude wikkel, haar tone roer en haar hele lyf beweeg saam met die aansteeklike ritmes.

Sy dink terug aan haar en VirgoC se gesprek: “Ek het begin met CBD olie vir my seer rug. Die gedroogde plantjies is by die Rasta op die hoek gekry, die resep is nagevors en toe maak ons dit. Nou drink ons saans 2ml van die gedokterte olie vir my seer en sy slapeloosheid.” Virgo is genader vir haar opinie want sy is mos die een wat alles van alternatiewe geneeskunde af weet.

Die botteltjie gedokterte olyfolie staan op die rak. Dit moet nog gebêre word. Die bestanddele vir die spinasietert is voor haar uitgepak. Net toe Appeltjie haar hand uitsteek na die mes, hoor en voel sy ‘n oorverdowende geknal. Sy storm uit die huis en sit die pad in af na die meent.

Daar staan Toortsie, Aalsie, Seegogga en ‘n witvaal-geskrikte Una by ‘n krater in die grond. Uit ondervinding weet sy dat kraters nie altyd goeie nuus bring nie. Dit het die ondervinding met die onderwaterse avontuur hulle geleer.

Onder in die gat roer daar iets. ‘n Klein ietsie. Appeltjie hou haar braaf en stap ‘n tree nader, loer oor die rand, net om verstom te staar na die lewende figuurtjie.

“Julle, verbeel ek my of sien ek ‘n drakie?”

Die ander vroue staan nader. Loer versigtig oor die rand en stem saam. Dit lyk soos ‘n drakie. Of ‘n klein dinosourtjie. ‘n Puntige bekkie met baie fyn tandjies, vlerkies wat besig is om droog te word soos ‘n skoenlapper s’n, voetjies wat baie lyk na kloue met sterk naels.

O magistraat. Klein dinosourtjies broei uit eiers uit. Ek hoop nie hier is iewers nog ‘n groot mamma-dinosour wat wag hou nie.”

Una se Daniehond wikkel sy pruik stewiger vas op sy kop. Hiermee lyk hy dalk minder na ‘n happie vir ‘n groot uitgehongerde dinosour.

Ek dink dis eerder ‘n drakie” meen Appeltjie beslis. “Ons is op Rebusfontein, hier is ‘n feetjie, ‘n verskeidenheid van diere van reg oor die wêreld, hoekom sal ‘n drakie nie hier uitbroei nie? Una, ek dink jou ontploffing was net wat nodig was om die grond bo die eier los te skiet en die hitte het hom laat uitbroei.”

Scrapy en Lolla staan verstom. Hulle het al genoeg gehoor van die wonderaardighede wat plaasvind op Rebusfontein, maar om dit sien in die werklike lewe is ‘n ander saak.

Lana staan nader. Sy het ook weer onlangs haar herverskyning gemaak op die dorp en wil haar staal wys. “Wat gaan ons maak met die diertjie?” vra sy die vraag wat verseker in almal se kop maal.

“Eish, ek is besig met my spinasietert, ” raak Appeltjie haastig. “Dalk moet julle maar net hier ronddwaal en kyk wat gebeur. Ek wonder of ons ander diere gaan kom kennis maak.”

Terug in haar huis, gryp sy vinnig die bottel olie naaste aan haar hand, gooi in die pan, soteer die uie, sout en speserye, snipper vinnig die spinasie in stukkies vir roerbraai, klits die eier en room en roer alles saam. Die blaardeeg is klaar in die pan, die oond is gereed vir die bakslag, nog net die gekrummelde fetakaas oorstrooi en siedaar – spinasiepastei. ‘n Heerlike geur hang in die kombuis.

Net toe sy die pastei uithaal, hoor sy ‘n angswekkende gil. Weer storm sy af meent toe, seer rug van al die gebuk vergete. Daar staan Lana, met ‘n klein drakie wat beangs teen haar bors vasklou. Sy papierdun vlerkies klap verwoed. Kermgeluide skeur oorverdowend op uit die dun keeltjie. “Iemand, doen iets!” roep Lana benoud. Met die een hand probeer sy die skerp kloue uit haar vel hou en met die ander hand probeer sy haar ore toedruk.

Wat op die aarde voer mens vir pas uitgebroeide drakies? Melk? Met daardie tande, op dees aarde, nooit. Reg, dus vleis of groente. Niemand het tans vleis nie, so Appeltjie draai om en draf terug huis toe, gryp die afgekoelde spinasiepastei en draf terug. Vanaand is haar rug af van al die gedrawwery.

Terug by Lana, sny sy ‘n skyfie van die pastei en hou dit voor die drakie. Hy draai sy koppie, kyk een-ogig daarna en gryp dit dan met sy tandjies. Dan word die koppie agtertoe gegooi en daar gaan die skyfie, keelaf. Die bekkie word oopgemaak vir nog ‘n happie, en nog een en nog een. Teen die tyd dat die helfte van die tert keelaf is, begin sy vlerkies ontspan. Toe raak sy ogies lam en meteens hang daar ‘n lomerige drakie aan net sy naeltjies aan Lana se bors.

Appeltjie, wat was in hierdie tert van jou? Die arme dingetjie lyk skoon bedwelm?” vra Lolla.

Appeltjie se oë rek groot. Die olie! Sy het haar tuisgemaakte medisinale olie in die tert gegooi. Die hele koppie vol! En nou sit hulle met ‘n bedwelmde drakie. Maar dankie tog vir daardie fout, want nou is die drakie stil en die Goue Vroue het nog al hul sinne bymekaar.

Orraait almal, ek het nog die regte olie oor. Ek gaan bak gou nog een. Ek dink dis tyd dat hierdie partytjie begin. Alle drama is nou verby. Aalsie, jy weet mos van partytjies gooi daar in Bredasdorp. Kry asb hierdie een aan die gang!

Rebus, hier kom ons weer #3

Die Goue Vroue is ‘n paar besonder vroue wat allerhande wonderlike avonture saam beleef. Hulle het hulle eie dorpie, Rebusfontein, hier êrens in Suid-Afrika. Daar word ontspan, Franjeliko gedrink en dis altyd mooiweer. Hulle het pas teruggekeer  van ‘n rit op ‘n luukse seiljag (waar hulle ‘n ongelooflike avontuur  in die diepsee beleef het), en almal is op pad terug na Rebusfontein toe. Maar ‘n mens weet nooit wat volgende gaan gebeur nie, want waar die Goue Vroue is, gebeur altyd iets!

Hierdie is Hoofstuk twee van ons nuwe avontuur. As jy hierna verder wil lees, klik hier: https://fresh.inlinkz.com/party/5ccd555160b847968834e2d35fc2042c

******************************************

Seegogga maak die deur van die geleende vragmotor oop om Scrapy se bagasie in te pak, want daar is nie plek in die bestuurskajuit nie. Die tweede wa het reeds met die uitstapslag uit die doeanegebou Scrapy se aandag getrek. Lang ysterpale en seile wat nog puntige goed bedek is duidelik sigbaar. Dankie tog dat daar nog ‘n wa aan die agterkant is. Haar paar tasse sal beslis hier inpas.

Nê? Toe Seegogga die trokdeur oopmaak, is daar ‘n stortvloed van stowwerige, harige goeters, nog goeters en nog meer goeters wat oor hulle tuimel. Arme Scrapy is nog seesiek van die boot wat teen ‘n massiewe spoed en die wind van agter af oor die see gestorm het en haar ‘n dag te vroeg by die Kaap afgelaai het. Sy maak haar mond oop om te praat maar sluk in die proses ‘n mondvol stof. Sy hoes en proes en hyg na asem. Seegogga gil toe sy die stof uit haar oë vee en aangesig tot aangesig kom met ‘n opgestopte beerkop. Toe sy agteruit wil skuif, steek die horing van ‘n gepreserveerde Nguni os haar in die agterstewe. Wat te erg is, is te erg. Die adrenalien van skrik en vrees vir ‘n lewende begrafnis, gee hulle die krag om tussen die goeters uit te beur tot langs die kant van die trok.

Wat ‘n gesig begroet hulle nie. Behalwe die opgestopte dierkoppe, lê vismotgevrete kostuums, stukkende plastiektuinstoele, geroesde fietswiele, stukkende sement dwergiefigure en geskeurde sirkusplakate op die grond. En dis maar wat hulle kan sien. Seegogga, nuuskierig soos sy kan wees en altyd gereed om ‘n grap te maak van ‘n ernstige situasie, besef sy moet vir Scrapy aan die lag kry. Arme Scrapy het hoeka uit die verre Eiland gevlug na Suid-Afrika en Rebusfontein om weg te kom van spanning af en dis hoe die land haar begroet?

Sy begin giggel. Eers sag en toe al harder. Scrapy kyk haar skeef aan. Regtig? Wat is daar om oor te lag. Maar toe raak Seegogga se lag aansteeklik. Die humor in wat sopas met hulle gebeur het, raak aansteeklik en daar sit die twee Goue Vroue op die randjie van die pad en lag oor wat sopas gebeur het. Die ander Goue Vroue moet hiervan hoor. Blitsig kry Seegogga hulle op ‘n Zoomcall in. Vinnig en opgewonde word Scrapy eers gegroet en toe wys Seegogga die trok en vertel hoe sy daaraan gekom het. Na die aanvanklike skok oor die skaking verby is, wys Seegogga die trok vir die Goue Vroue, wat daaroor lag en so deurmekaar praat dat dit behoorlik ‘n gedruis is. Die gelag is so aansteeklik dat ‘n groepie bergies wat daarnaby onder ‘n boom woon, uitkyk om te sien wat aangaan.

Bergies? Appeltjie kry ‘n idee. Die wa is ‘n perfekte voertuig vir al die Goue Vroue en die rit Rebusfontein toe, maar die gemors moet weg. Sal die Bergies dalk die inhoud wil hê? Briljant. Die Zoomcall word beëindig en vinnig begin daar ‘n gesprek. Die seile sal ‘n lekker dak maak of hoe? Kan die yster skrootwerf toe geneem word vir ‘n ekstra geldjie? Dit behoort goed in te pas in die “geleende” winkeltrollies, nie waar nie? Wat van die plakate, daai paaltjies kan ‘n lekker regophoustok word. En die ou sirkusjas, dit lyk nog heel genoeg om te keer teen die winterkoue?

Dis ‘n behoorlike gewoel soos die bergies in die omgewing agterkom daar is geld te maak. Seegogga en Scrapy moet amper polisieman speel om seker te maak die buit word nie ‘n twispunt nie. Daar is immers genoeg vir almal.

Kort voor lank is die 2 waens leeg. Scrapy se twee tasse lyk behoorlik alleen agter in die wa. Net toe hulle in die bestuurkajuit klim, lui Seegogga se foon. Dis Appeltjie. Kan hulle dalk op Grabouw aankom en haar optel met die sirkuswa? Sy wil nie alleen Rebusfontein toe ry nie en sy wil vir Scrapy ontmoet. Dalk kan hulle op Napier en Bredasdorp aangaan en vir Hannelie, Toortsie en Aalsie oplaai?

Teen die tyd dat hulle Sir Lowry’s Pas aanpak teen 80km/h vra Scrapy uit na almal. Hoe gaan dit met Christa, VirgoC en tannie Frannie? En Woordnoot en …………. voor sy verder kan uitvra, klink daar ‘n aaklike klaaggeluid uit die agterste wa. Die wa skud en swaai van kant tot kant, so erg dat Seegogga die wa teen die kant van die berg tot stilstand moet bring.

Wat de joos is nou aan die gang? Koue hoendervleis slaan op hul arms uit.

Una, is jy moedig genoeg om uit te vind?

Die Goue Vroue hou vakansie: slot

Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

***************************************************************

Die groepie Goue Vroue strompel agter VirgoC aan. Die buffies om die boude en boobs word kort-kort op of af getrek.  Soos ’n waffers SWAT groepleier hou VirgoC skielik haar arm in die lug, die stopteken duidelik vir almal.  Tussendeur die takke van die inheemse plantegroei sien sy ’n groepie eilandbewoners sing en dans rondom ’n vuurtjie.  Die tromme klink onheilspellend en die assegaaie wat swaai lyk moorddadig.  Die watermerk van die tsunami  wat nou al teruggetrek het, is duidelik sigbaar net voor die riethuise. 

“Julle, as die eilandbewoners ons nou sien, is dit klaar met ons. Lyk my hulle is besig om die god wat die tsunamie veroorsaak het, te besweer as daai swaaiende assegaaie iets kan beteken.  Hier moet ons weg,” kondig VirgoC aan.

“En ons moet vir Woordnoot, Positief en Trommeltjie gaan soek,” voeg Una by.

“Ek hoop net hulle leef nog.”   Sonell wil net tranerig raak.

“Nonononono, ons moet aanhou glo tot ons nie anders kan nie,”  keer Toortsie ferm ’n tranedal.

Die Goue Vroue draai om en kruip versigtig terug.  Appeltjie struikel oor ’n skulp so groot soos ’n klip.  Sy tel die lieflike skulp op en dan skiet ’n plan na vore. 

“Hey julle, lyk hierdie skulp nie soos Triton se beuel nie?  Daai een waarop hy geplaas het by die Noordpool nie?”

“Wrintig waar, Appeltjie, jy’s reg. Die tsunami moes dit uit sy hand geruk het.  Blaas daarop, kyk wat gebeur,” por Aalsie  aan. 

Appeltjie haal diep asem en blaas.  Die geluid dawer deur die bosse, trek oor die sand en rol oor die see.  Ver agter hulle in die bosse raak die tromme stil.

“O vrek, nou het ons onsself weggegee.  Hardloop julle, see se kant toe, ons moet hier weg!” gil Kameel. 

Soos een man trek die Goue Vroue weg. Tannie Frannie haak in by Ekmyselff  en  Christa.  Haar voete raak skaars grond.  By die waterkant aangekom, gewaar hulle ’n rimpeling ver op die horison wat vinnig naderstorm.

“Blaas, Appeltjie, blaas!” por Seegogga haar aan.  “Ek sweer dis Triton en sy meermanne wat daar aankom.”

“Lolla, jy kan mos dolfyns praat.  Roep hard, dalk hoor Athena ons en kan haar dolfyne ons kom red,” kry Toortsie ’n blink plan.

Lolla gaan staan met haar voete in die water en begin brabbel.  Tot die Goue Vroue se grootste verbasing spring daar ’n skool dolfyne uitbundig bo die branders uit.

“Dis Athena! Lolla, jou doring!   Yooooo hooooooooooo!   Hier is ons!  Komaan julle, spring!  Waai julle arms!  Dis Triton en Athena wat ons kom red!”  skree die vroue deurmekaar.

Agter hulle op die rand van die inheemse woud, kom die eilandbewoners tot ’n geskokte stilstand.  Voor hulle stomgeslane oë, swem ’n groep meermanne uit op die sand en neem ’n wakende stelling in om die Goue Vroue.  Volgende swem ’n skool dolfyne uit soos wafferse branderplankryers, draai swierig om en bied hul rûe aan vir die drenkelinge.  In die see staan ’n meerman met ’n kroon en hou die hand vas van ’n beeldskone godin ook met ’n kroon op haar golwende hare.  Die meerman het intussen sy skulpbeuel by Appeltjie oorgeneem. Hy blaas daarop en daar vertrek die prosessie terug die see in.  Op die strand sak die eilandbewoners op hul knieë neer op die sand, hoofde gebuig.  Die mondelingse stories wat hieruit gaan voortvloei, gaan vir geslagte hierna nog saans om die vure oorgedra word.

Intussen skraap Una haar moed bymekaar en vra:  “Skuus tog, Prins Triton, maar het u dalk gesien wat van ons 3 vriendinne geword het toe die tsunami ons jag getref het?”

Athena hoor die vraag en stuur haar dolfyn nader.  “Moenie bekommerd wees nie, hulle is veilig.  My dolfyne het hulle gered uit die water net voor hulle kon verdrink.  Hulle wag op die oomblik vir julle by Skoonvader Poseidon in die grot.  Ons is almal op pad soontoe.”

Kort voor lank word die Goue Vroue beveel om asem te skep en op te hou, dan duik die dolfyne diep en dieper af tot binne-in die lieflike onderwaterse grot.  Poseidon sit daar op Samuel, sy groot seekat, en gesels met Woordnoot, Positief en Trommeltjie.  Die wedersiens tussen al die Goue Vroue is iets om te sien en te hoor, soos daar oor en weer gedruk en gegroet word. 

Toe almal tot ruste kom, kry Poseidon ’n kans om te praat.  “Goue Vroue, ek moet julle bedank.  Ek het ’n amper onmoontlike taak op julle skouers gelaai toe ek julle versoek het om my seun terug te bring Onderwater toe,  maar julle het julle naam gestand gedoen.  Hier is hy nou, verenig met sy vrou en die balans tussen Bowater en Onderwater is nou weer herstel.  As ek reg onthou, het ek julle ’n bedanking aangebied.  So, wat is dit wat julle graag wil hê?”

Die Goue Vroue kyk vir mekaar, bondel gou saam en hou vinnig ’n bosberaad.  Dan volg daar ’n luide “Yessss,” high fives word uitgedeel en selfs ’n paar opgewonde danspassies uitgevoer.

  “Poseidon, ons wil asseblief ons droomjag, Golden Dream, terughê.  Ons wou eintlik net ’n rustige seil-op-die-water en kyk-na-die-son vakansie gehad het.  Is dit moontlik?” vra Appeltjie. 

Poseidon lig sy triton, stamp dit op die grotbodem en ’n helder ligstraal skiet uit.  Die Goue Vroue vlieg deur lug, tuimel in die rondte, gil en gryp na mekaar en val met ’n dowwe doef op die bodem van Golden Dream, wat rustig dobber op die glashelder water van die Suidsee Eilande.  Hier en daar is ’n stuk seegras en ’n waterpoeletjie nog sigbaar van toe dit onder die water verdwyn het, maar voor hulle oë verdwyn dit ook.  Poseidon het sy woord gestand gedoen en hulle jag uit die seeskatkis teruggegee.   Sprakeloos ontbondel hulle, kry vir elkeen ’n dekstoel en neem die glasie Frangelico wat die seekaptein Jakob Spreeu vir hulle op ’n blink skinkbord bring.  Ook Camilla en Lorenzo kan maar net grootoog hand-aan-hand om hulle staar. 

En dan bars die gebabbel los.  Dit lag en “onthou jy” en “het jy daardie gesien?” en “sulke koue..” en  “ek het gedink vandag is ek dood!”

Soos die son oor die horison sak, raak die wêreld rustig. Die Golden Dream vaar ongestoord voort met die Goue Vroue wat die vakansie van hul drome beleef.

Design a site like this with WordPress.com
Get started