Die Goue Vroue hou vakansie: slot

Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

***************************************************************

Die groepie Goue Vroue strompel agter VirgoC aan. Die buffies om die boude en boobs word kort-kort op of af getrek.  Soos ’n waffers SWAT groepleier hou VirgoC skielik haar arm in die lug, die stopteken duidelik vir almal.  Tussendeur die takke van die inheemse plantegroei sien sy ’n groepie eilandbewoners sing en dans rondom ’n vuurtjie.  Die tromme klink onheilspellend en die assegaaie wat swaai lyk moorddadig.  Die watermerk van die tsunami  wat nou al teruggetrek het, is duidelik sigbaar net voor die riethuise. 

“Julle, as die eilandbewoners ons nou sien, is dit klaar met ons. Lyk my hulle is besig om die god wat die tsunamie veroorsaak het, te besweer as daai swaaiende assegaaie iets kan beteken.  Hier moet ons weg,” kondig VirgoC aan.

“En ons moet vir Woordnoot, Positief en Trommeltjie gaan soek,” voeg Una by.

“Ek hoop net hulle leef nog.”   Sonell wil net tranerig raak.

“Nonononono, ons moet aanhou glo tot ons nie anders kan nie,”  keer Toortsie ferm ’n tranedal.

Die Goue Vroue draai om en kruip versigtig terug.  Appeltjie struikel oor ’n skulp so groot soos ’n klip.  Sy tel die lieflike skulp op en dan skiet ’n plan na vore. 

“Hey julle, lyk hierdie skulp nie soos Triton se beuel nie?  Daai een waarop hy geplaas het by die Noordpool nie?”

“Wrintig waar, Appeltjie, jy’s reg. Die tsunami moes dit uit sy hand geruk het.  Blaas daarop, kyk wat gebeur,” por Aalsie  aan. 

Appeltjie haal diep asem en blaas.  Die geluid dawer deur die bosse, trek oor die sand en rol oor die see.  Ver agter hulle in die bosse raak die tromme stil.

“O vrek, nou het ons onsself weggegee.  Hardloop julle, see se kant toe, ons moet hier weg!” gil Kameel. 

Soos een man trek die Goue Vroue weg. Tannie Frannie haak in by Ekmyselff  en  Christa.  Haar voete raak skaars grond.  By die waterkant aangekom, gewaar hulle ’n rimpeling ver op die horison wat vinnig naderstorm.

“Blaas, Appeltjie, blaas!” por Seegogga haar aan.  “Ek sweer dis Triton en sy meermanne wat daar aankom.”

“Lolla, jy kan mos dolfyns praat.  Roep hard, dalk hoor Athena ons en kan haar dolfyne ons kom red,” kry Toortsie ’n blink plan.

Lolla gaan staan met haar voete in die water en begin brabbel.  Tot die Goue Vroue se grootste verbasing spring daar ’n skool dolfyne uitbundig bo die branders uit.

“Dis Athena! Lolla, jou doring!   Yooooo hooooooooooo!   Hier is ons!  Komaan julle, spring!  Waai julle arms!  Dis Triton en Athena wat ons kom red!”  skree die vroue deurmekaar.

Agter hulle op die rand van die inheemse woud, kom die eilandbewoners tot ’n geskokte stilstand.  Voor hulle stomgeslane oë, swem ’n groep meermanne uit op die sand en neem ’n wakende stelling in om die Goue Vroue.  Volgende swem ’n skool dolfyne uit soos wafferse branderplankryers, draai swierig om en bied hul rûe aan vir die drenkelinge.  In die see staan ’n meerman met ’n kroon en hou die hand vas van ’n beeldskone godin ook met ’n kroon op haar golwende hare.  Die meerman het intussen sy skulpbeuel by Appeltjie oorgeneem. Hy blaas daarop en daar vertrek die prosessie terug die see in.  Op die strand sak die eilandbewoners op hul knieë neer op die sand, hoofde gebuig.  Die mondelingse stories wat hieruit gaan voortvloei, gaan vir geslagte hierna nog saans om die vure oorgedra word.

Intussen skraap Una haar moed bymekaar en vra:  “Skuus tog, Prins Triton, maar het u dalk gesien wat van ons 3 vriendinne geword het toe die tsunami ons jag getref het?”

Athena hoor die vraag en stuur haar dolfyn nader.  “Moenie bekommerd wees nie, hulle is veilig.  My dolfyne het hulle gered uit die water net voor hulle kon verdrink.  Hulle wag op die oomblik vir julle by Skoonvader Poseidon in die grot.  Ons is almal op pad soontoe.”

Kort voor lank word die Goue Vroue beveel om asem te skep en op te hou, dan duik die dolfyne diep en dieper af tot binne-in die lieflike onderwaterse grot.  Poseidon sit daar op Samuel, sy groot seekat, en gesels met Woordnoot, Positief en Trommeltjie.  Die wedersiens tussen al die Goue Vroue is iets om te sien en te hoor, soos daar oor en weer gedruk en gegroet word. 

Toe almal tot ruste kom, kry Poseidon ’n kans om te praat.  “Goue Vroue, ek moet julle bedank.  Ek het ’n amper onmoontlike taak op julle skouers gelaai toe ek julle versoek het om my seun terug te bring Onderwater toe,  maar julle het julle naam gestand gedoen.  Hier is hy nou, verenig met sy vrou en die balans tussen Bowater en Onderwater is nou weer herstel.  As ek reg onthou, het ek julle ’n bedanking aangebied.  So, wat is dit wat julle graag wil hê?”

Die Goue Vroue kyk vir mekaar, bondel gou saam en hou vinnig ’n bosberaad.  Dan volg daar ’n luide “Yessss,” high fives word uitgedeel en selfs ’n paar opgewonde danspassies uitgevoer.

  “Poseidon, ons wil asseblief ons droomjag, Golden Dream, terughê.  Ons wou eintlik net ’n rustige seil-op-die-water en kyk-na-die-son vakansie gehad het.  Is dit moontlik?” vra Appeltjie. 

Poseidon lig sy triton, stamp dit op die grotbodem en ’n helder ligstraal skiet uit.  Die Goue Vroue vlieg deur lug, tuimel in die rondte, gil en gryp na mekaar en val met ’n dowwe doef op die bodem van Golden Dream, wat rustig dobber op die glashelder water van die Suidsee Eilande.  Hier en daar is ’n stuk seegras en ’n waterpoeletjie nog sigbaar van toe dit onder die water verdwyn het, maar voor hulle oë verdwyn dit ook.  Poseidon het sy woord gestand gedoen en hulle jag uit die seeskatkis teruggegee.   Sprakeloos ontbondel hulle, kry vir elkeen ’n dekstoel en neem die glasie Frangelico wat die seekaptein Jakob Spreeu vir hulle op ’n blink skinkbord bring.  Ook Camilla en Lorenzo kan maar net grootoog hand-aan-hand om hulle staar. 

En dan bars die gebabbel los.  Dit lag en “onthou jy” en “het jy daardie gesien?” en “sulke koue..” en  “ek het gedink vandag is ek dood!”

Soos die son oor die horison sak, raak die wêreld rustig. Die Golden Dream vaar ongestoord voort met die Goue Vroue wat die vakansie van hul drome beleef.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

17 thoughts on “Die Goue Vroue hou vakansie: slot

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: