
“Kwaak, kwaak!”
Dawie spring regop waar hy oënskynlik vas slaap op Menspappa se skoot. Hy hoor die verdekselse padda wat hom so treiter. Die padda het besluit hy woon by die swembad. Daar kwaak en kliek hy vir Dawie om hom te jaag. Sodra Dawie dan daar aankom, hop hy tot in die swembad en koggel hom van daar af. Maar vanaand het Dawie ‘n plan. Die verdekselse padda gaan vanaand sy moses teëkom.
Dawie spring van Menspappa se skoot af en glip by die skuifdeur uit. Dan skuur hy langs die woonkamer muur verby, af met die trappe en draf styf teen die vetplantbak langs verby die swembad tot by die onderste tuin. Die padda moet dink hy wat Dawie is, ignoreer hom.
Buite sig van die padda draai Dawie om en sluip op sy magie nader. Baie versigtig. En werklik, sy plan werk. Daar sit die padda nog op die rand van die swembad, gereed om in die water te spring as hy Dawie gewaar. Maar Dawie kom geruisloos nog ‘n bietjie nader, span sy spiertjies saam en spring! Voor die padda kan reageer, het Dawie hom in sy bekkie. Die padda spartel verwoed en toe hy nie kan loskom nie, gebruik hy sy geheime wapen. Hy stel ‘n bietjie skuim vry wat Dawie se bekkie irriteer.
Dawie skrik groot, en met die loslaatslag sluk hy ‘n bietjie van die slym. Jiggggg! Dit smaak sleg. Dawie spoeg en spoeg om van die slym in sy mondjie ontslae te raak. Hy neem tot ‘n slukkie water, maar dis nog ‘n groter fout, want nou gaan nog van die goed in sy keel af.
Dawie draf op huis toe. Mensmamma moet help. Hy voel so naar! Hy strompel by die skuifdeur in. Maar voor hy ‘n tjankie kan gee, voel hy hoe die naar in sy keel opstoot. Sy magie kramp en trek saam en daar kom die slymgemors uit. Reg voor Mensmamma op die skoongewasde deurmatjie.
“Lief!” hoor hy haar gil. “Dawie is siek! Kyk hoe gooi hy op! Foeitog, my arme dingetjie. Wat het jou oorgekom? Het jy weer ‘n by ingesluk?”
“Bedaar Vrou, hy het seker net weer met die padda gelol en nou brand sy bek,” laat hoor Menspappa rustig.
“Maar ek moet hom help! O griet, hier kom nog ‘n opgooi. Okay, my liefie, Mamma het jou. Kom ek hou jou magie vas. Daaaaaaaars hy, spoeg al daai gemors uit.” Mensmamma se hartjie is baie klein. Sy hou nie van siek hondjies nie. Dawie onthou toe hy nog ‘n babahondjie was, het hy nie geweet wat ‘n by is nie. Toe die zoemende ding so voor hom gevroetel het, het Dawie gereken dis iets wat hy kan eet. Daarom het hy die ding platgetrap, dit geproe en per ongeluk ingesluk. Die by se gif het hom erg siek gemaak. Hy het vir ure lank so opgegooi dat Mensmamma later gereed was om hom dieredokter toe te neem. Sy het selfs ‘n ou handdoek op haar bed oopgegooi sodat hy daarop kan lê terwyl sy hom vashou, sodat hy kan opgooi sonder om haar duvet vuil te maak. Daar het hy sy les geleer oor bye.
Maar nou voel sy magie net so seer. Wag, daar gaan die yskasdeur oop. “Lief,” lig Mensmamma vir die klaarblyklike ongevoelige Menspappa in, “ek gaan vir Dawie melk ingee. Onthou jy my kollega het laas gesê dit sal die seer in sy magie laat bedaar en dalk help om die gif te laat uitkom?” Sy maak die melk effens lou en gooi dit in ‘n poedingbakkie sodat hy maklik kan lek.
Eers gee hy teensinnig net ‘n paar lekkies. Maar toe Mensmamma hom aanmoedig, maak hy die bakkie leeg. Toe neem sy hom na die wasbak toe, draai hom toe in ‘n handdoek en was die slymgemors van sy bekkie af. Hy hou niks van die water nie en probeer hom losvroetel. Maar Mensmamma se greep is stewig en baie beslis hou sy aan met was tot sy haartjies weer skoon is en lekker ruik. Sy vryf hom droog en sit hom neer op die grond. Maar sy hartjie voel klein en hy sit sy pootjies teen haar bene. Dit beteken: tel my op asseblief. Hy laat toe dat Mensmamma hom liefderik in haar arms optel en op haar skoot neersit. Sy vryf sy koppie, krap sy ruggie en streel sy magie. Oooooooo dis lekker. Van tyd tot tyd kramp sy magie nog, maar die opgooi is weg.
Later die aand, toe dit slaaptyd is, kruip hy styf agter Mensmamma se rug in. Hy snuif haar bekende reuk diep in sy longetjies in. Gee haar ‘n liefderike leksoentjie om dankie te sê.
“Kwaak, kwaak!” hoor hy deur die venster. Blessitse padda, kwaak maar. Met jou is ek klaar.
Tot volgende keer, ten minste.