Ouma wees

San het die Goue Vroue soos volg getoets: “Het julle al geskryf oor die kostelikste oomblik met ‘n kleinkind? Indien nie – dit kan ook ‘n oulike boek maak. Dalk ook in alfabetiese orde??? I donno. Besluit maar…”

Inlinkz-skakel vir al die oupa- en oumastories: https://fresh.inlinkz.com/party/2808199db9894254b848ffd032d39e8c

**************************************************************

Ek is bevoorreg om my eie kleinkind en 3 skoonkleinkinders te hê.  Die skoonkleinkinders is my geliefde se kleinkinders wat uit hul eie na ‘n tyd vir my begin ouma sê het. 

So gaan ons kuier vir ‘n langnaweek en al die skoonkleinkinders is daar.  Ek is die liewe ouma wat sê “kom ons vra vir Mamma” as hulle eetgoed wil hê.  Maar ek is ook die ouma wat ontelbare stories lees, met gevoel en dramatisering en ooooeeee, ek wonder wat gaan volgende gebeur.  Een dogtertjie in elke arm, die boek op my skoot.  Hulle maak beurte om om te blaai.  En verlede week het ons wegkruipertjie gespeel.  Ek soek hoog en laag, waar is Issie?  Is sy in die badkamer?  Nee!   Is sy onder die bed?  Nee!  Tot groot vermaak van die kleine ding wat langs my staan en lag en skree hier is ek ouma!  Toe dit my wegkruipbeurt is, gaan lê ek plat op my maag op die vloer,  beste hemp of te not, terwyl die ander grootmense die storie gadeslaan.  En ek geniet my gade uit.

My eie kleinkind is my hart se punt.  Haar pappa se ewebeeld.  Vir haar het ek vir 3 maande in my huis gehad.  Ek het haar slaap, eet, wakkerwees patroon en geluide geken.  Nou is die poppie 1jr4mnde en sy stap die wêreld vol.  Goed gestimuleer in die dagsorg, is sy ‘n bron van klanke en speel en lag.  Ouma gooi die bal en meteens kan sy die bal gaan vang terwyl haar borrellaggie opklink.  Die handjies en armpies gooi die bal nog onbehendig.  Die beentjie weet dit moet iets doen om dit te skop, maar eenbeen is nog moeilik.  Tog, meteens, eergister, skiet daardie beentjie vorentoe, die voet tref die bal en daar trek dit.

Praat ons oor videocall met mekaar, kry ek ‘n groot oopmondsoentjie op die foonskerm.  My dogter sê sy sê saggies oma, maar daardie magiese woord moet ek nog hoor.  Dis genoeg as sy met oop armpies en ‘n wye glimlag op die engelgesiggie na my toe aanwaggel as sy my sien. 

My beker loop oor. 

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

11 thoughts on “Ouma wees

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started