Wanneer is te laat te laat

My Geliefde het ‘n fiets gekoop. ‘n E-bike. Daarmee kan hy heerlik in die berg ry. Goeie oefening vir hom. Of hy kan gou op die fiets spring om vis en coke te kry by die Portugees op die hoek onder in die dorp.

Nog altyd het ons geweet waar die ander een is. Dis ‘n gewoonte waarin ons so ongemerk beland het. Ek laat weet ek sal eers 4:00 tuis wees en hy laat weet hy ry gou Franschoek toe om by die kleinkind te gaan kuier. En ek kry my whatsap om te hoor hy is terug.

Eers was ek onrustig toe hy alleen in die berg ry. Sonder sy selfoon, omdat daar nie plek is om die instrument veilig te stoor nie. Maar nog altyd was hy terug binne 2 uur. Nadat ‘n gesamentlike kennis, wat die berg soos die palm van haar hand ken, vra dat hy saam met haar ry, het ek meer gemaklik begin voel. Hy borrel oor oor elke nuwe paadjie waarop sy hom neem.

Tot gister. Half 2 gistermiddag lui die huishulp, Meneer is nog nie terug nie, hy is al 10:00 weg en sy moet gaan. Ek begin tel. Dis nou al 4 ure gelede. Dadelik pak die onrustigheid my. Hoekom sal hy so lank weg wees? Die duiwel kom sit op my skouer, fluister vreeslik simpatiekvol: arme man het geval en erg seer gekry. Sy maat kan hom nie help nie. Op pad terug het sy ook geval. Niemand weet waar hulle is nie. Siestog, wat gaan jy nou doen?

Ek probeer my bes om nugter te bly. Vind sy foon, sien die boodskap van die rymaat en besef, ry tussen die appelbome is nie juis ‘n aanduiding nie. Die goed is reg rondom Grabouw. Ek wag nog ‘n halfuur en toe bel ek ‘n persoon wat die berg ken. Hoe soek mens iemand op die uitgebreide bergpaadjies wat beskikbaar is vir fietsryers? Waar begin jy? Wie vra jy? Ek bel die fietsrymaat se foon. Kry ‘n antwoordboodskap, niks gaan deur nie. Nou is daar niks wat ek kan doen om hulle op te spoor nie.

Ja, foeitog, vryf die duiwel die vet dieper in. En nou gaan jy alleen wees vir die res van jou lewe. En jy sal sy kinders moet in kennis stel. Hoe gaan jy vir hulle vertel hulle pa is dood en jy het niks gedoen om hom te kry nie. Hoekom het jy hom nie gemaak daai foon vat nie? Netnou dink hulle jy is nie ‘n goeie vrou nie.

Ek probeer my bes, maar die trane loop. Die realiteit van so ‘n gebeurtenis slaan my tussen die oë. Waar is my geliefde. Ek hou die pad dop waar ek weet hy moet opkom. 2 bakkies, ‘n ander fietsryer, ‘n taxi en nog ‘n fietsryer. Daardie valhelm ken ek. Dis hy! Ek gryp my sleutels en storm die trappe af na die hek toe. Stap die laaste paar treë om bietjie rustig te raak. Maak die hek vir hom oop. Hy lees my gesig reg en praat saggies. Sy wou ‘n verder pad ry as wat hulle afgespreek het en met die terugkeer raak die e-bike se battery pap en toe moes hy baie hard werk om die fiets te ry. Was hulle lank weg?

Ek verduidelik. Die woorde en bekommernis stroom uit, maar saggies, in ‘n klein stroompie. Hy hou vas en troos en my hart bedaar. Die Here het mos belowe ek gaan nog lank en gelukkig leef saam met hom. Waarom is ek kleingelowig?

Maar die realiteit is: selfone is dikwels buite bereik in die berg. Waar begin mens soek? Wanneer begin mens soek? Wie vra mens om te help soek?

Ons het ‘n gesprek oor die probleme. Besluit die selfoon moet saam en die “location” moet aan wees. Dan kan mens dit kry.

‘n Paar uur wat ek nie gou weer wil oorhê nie.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

6 thoughts on “Wanneer is te laat te laat

  1. Ek het al ‘n Generaal in SAPS op sy privaat selfoon gebel toe my Meesgeliefde vir ‘n hele dag verdwyn het in Kaapstad. My raad: moenie Cell C gebruik nie; daar was nie sein nie.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: