In haar skoene

Mens moenie oordeel of veroordeel voor mens nie in iemand se skoene gestaan het nie.  Mens kan nie vir iemand sê ek verstaan hoe jy voel voor jy nie in dieselfde situasie was nie. Daarom kan ek nou sê ek verstaan hoe die kollega met depressie moet voel, elke dag van haar lewe.  Want ek het in haar skoene gestaan.  Covid het my hormone deurmekaar gekrap.  Ek huil, is bewerig, kan nie slaap nie.  Die dokter sê ek ly aan Covid angstigheid.  Die ondersteuning van vriende help.  Ek  het ‘n liefdevolle man en wonderlike dogter.  Maar die kruie en ondersteuning help nie.  My gat raak dieper en ek verloor myself.  In die winkel raak die mense rondom my soos ‘n drukgang wat my longe toedruk en ek ‘n paniekaanval kry. ‘n Doodgewone besluit voel soos die wegtekening van my erfporsie.  ‘n Nuwe sisteem (wat my forte is) lê voor my soos Mount Everest.  My werk se verantwoordelikhede raak te veel. Die kinders in my klas voel soos my kinders en ek voel ek vaal hulle as hulle werk nie kan baasraak nie.  Ek wil nie meer skooltoe gaan nie.   Ek raak wantrouïg teenoor ‘n kollega, beskuldig haar van agterafwees. Totaal sonder gronde, onrealisties.  Ek weet God is daar, maar Hy voel nie by my nie.  My joy in die lewe is weg. 

Slegs in my tuin, tussen my plante, voel ek lewendig en asof die lewe die moeite werd is.

Daarom strompel ek by my dokter in.  In trane.  Bewerig.  Sielkundige toe, beveel hy.  Dis haar afdeling en sy sal medikasie aanbeveel nadat sy ‘n diagnose gemaak het.

En ek gaan na haar toe.  Baie gou diagnoseer sy ‘n wanbalans in serotonin, die goedvoelhormoon, veroorsaak deur my erge aanval van covid verlede jaar.  Maar sy krap ook verder terug en dieper in my lewe in.  Kom terug volgende week, sê sy na ‘n uur.  Ek gaan terug en later weer terug. 

My medikasie skop in en 3 weke later staan ek die oggend op, wonder ek hoe ek vandag my kleintjies kan help met ‘n nuwe begrip.  En ek sê dankie Here vir ‘n nuutword in my lewe.  Dankie dat ek weer my joy terug het. Dankie dat U daar was toe ek U wou vashou, maar u nie kon voel nie.

En ek sê dankie vir die begrip wat ek nou het vir my kollega.  Ek het in haar skoene gestaan.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

20 thoughts on “In haar skoene

  1. Dis wanneer jy terugkyk en net een stel voetspore in die sand sien – en weet jy is deur hierdie krisis gedra. Jy was nooit alleen nie, dit het net so gevoel. Maar ek weet jy weet. Liefde.

    Like

  2. Is so bly jy voel beter. As mense net wil glo dat depressie ‘n siekte toestand is en nie ‘n geestesding nie sal dit soveel beter gaan. Ek neem die kerke kwalik wat jare gelede gepreek het dat dit van die duiwel is. My aptekerman het in die 80’s vir my verduidelik hoekom dit noodsaaklik is om meds te gebruik vir depressie. Viva Appeltjie! Doe so voort…

    Liked by 1 person

      1. Jy is heeltemal reg . Waarskuwing teen die breë gemaklike sondige pad moes jou die nou rein paadjie laat kies. Dankie tog tye het verander

        Like

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started