Die Goue Vroue hou vakansie #3

Die Goue Vroue is ń groepie bloggers wat saam aan spesiale stories skryf. Indien jy mettertyd al die skrywes saam wil lees, en wil uitvind hoe die Goue Vroue beland waar hulle nou is, gaan loer in op die link:https://fresh.inlinkz.com/party/a844ec34c0574957a27ccdce16e2a94d

****************************************************************************

Appeltjie voel iemand tik haar saggies teen die wang.  Sy sukkel haar oë oop en sien haar Goue Vroue vriendinne in ‘n kring rondom haar kniel. Die kajuit voel beknop met almal daar.  Voor sy kan vra wat gebeur het, kom die herinnering terug.  Die harde geraas, die luukse seiljag wat in die rondte tol, die swart gat.

Swart gat?  O moederliefde, waar is hulle?  Op die tv was daar juis ‘n program oor die buitenste ruimte en grafiese verduidelikings van die swart gat wat aardes en ruimtes en sterre insluk en iewers ander uitspoeg – soort van ‘n ruimtelike vervoermiddel.  Of het dit alles ingesluk en verander in iets anders?  Appeltjie vee die spreekwoordelike spinnerakke uit haar oë en sit regop. ‘n Plan van aksie is nodig. 

“Julle, ons moet uitvind wat hier aan die gang is. As ek reg onthou, het ons met boot en al onder die water verdwyn in ‘n swart gat.  Hoe kan ons dan nog asemhaal?” 

Almal slaak ‘n sug van verligting.  Appeltjie is terug, helder en denkend, gereed om oplossings te vind soos altyd.

“So, feite: die seeplate het geskuif, ons is af in die tregter en ons haal asem.  Het ek iets gemis?”

“Ek is nie seker hoe jy so nugter kan bly nie.  Maar, ja, dis die feite sover,” praat Woordnoot.

“Het iemand al boontoe gegaan om te kyk wat buite is?”

Die Goue Vroue kyk na mekaar.  Nee, niemand was nog so braaf nie.  Maar dalk is dit die antwoord.  Camilla en Lorenzo kyk mekaar aan.  Voor hulle oë verander ‘n groep vreesbevange vroue in ‘n groep vreesaanjaende vroue wat die steil trappies met selfvertroue aanpak.  Dalk is hulle veiliger by die groepie, dus volg hulle agterna.

Op die dek gaan staan die groepie Goue Vroue egter doodstil.  So iets het hulle nog nooit tevore gesien nie.  Bokant hulle is ‘n dak met ‘n effense skewe aansluiting.

“Julle, is dit seeplate? Dit beteken ons is onder die aarde,” prewel Frannie die woorde wat niemand wil sê nie.

“Vergeet die dak, kyk rondom ons.  Ons is in een enorme groot grot,” sê VirgoC.

“Ek het nog nooit ‘n grot met sulke uithamme en gate gesien nie. En ek woon by die see,” noem Seegogga.

Die grot se grootte laat die jag soos ‘n speelding lyk.  ‘n Speelding wat tans op ‘n stalakmiet staan.  Ver onder die stalakmiet wapper seewieragtige plante in ‘n glimmende rooi see. Oral langs die kante van die grot is daar gladgeskuurde rotssitplekke.  Oral flikker daar liggies soos ogies rondom hulle.  Die lieflikste kleure weerkaats vanaf die grotmure.  Op een plek is daar ‘n enorme groot opening. Appeltjie voel vir haar kamera wat nooit ver van haar hand af is nie en begin foto’s neem, maar tot haar verbasing verdwyn die beelde op elke foto toe sy terugkyk. 

“Uhmmm julle, ons is in ‘n onnatuurlike wêreld. Dit wil nie op my kamera bly nie.” 

Voor sy verder kan praat, gil Una.  Uit die groot opening verskyn daar ‘n lang tentakel, dikker as ‘n boomstomp, en nog een, en nog een. Dan volg ‘n wasagtige kop wat uitpop soos ‘n heliumballon.  Agter die kop sit daar ‘n groot meerminagtige mansfiguur met ‘n trident in sy hand en ‘n goue ring om die kop. 

Die lieflikste baritonstem resoneer deur die grot.

“Samuel, jy het ‘n goeie werk gedoen.  Weereens was jy op die regte tyd op die regte plek.  Hierdie vangs is seker die beste wat jy nog gedoen het.  Hopelik kan hulle ons probleem oplos.  Welkom aan julle, Goue Vroue.”

Christa, die realistiese een, sê wat almal dink.  “ Hoe weet jy wie ons is?  En is jy koning Triton?”

“Nee, ek is Poseidon, die seegod.  Triton is my seun. Almal hier onder die aarde weet van die wedervarings van die Goue Vroue.  Hier is julle gewaardeerd.  En ek het julle hulp nodig.  Triton het al weer ‘n onnooslike ding aangevang en verlief geraak op ‘n aardse magiese figuur.  Nou is hy agter haar aan en hy moes al 2 dae gelede teruggewees het. Die sluier tussen aarde en hier is net tydelik dun sodat daar heen en beweeg kan word en daardie tyd is vinnig besig om te verstryk.  As hy nie terugkom nie, is die balans versteur en gaan daar vernietigende omwentelings plaasvind.  Julle moet hom vind asseblief.  As hy veilig terug is, kan julle ‘n bedanking van my verwag.”

Die Goue Vroue gaan staan in ‘n kring.  Wat dink julle?  ‘n Avontuur terwyl ons vakansie hou op die boot? Met ‘n beloning van seegod Poseidon agterna?   Sal ons gaan daarvoor? 

Toortsie, hoe lyk dit, sal jy dit verder neem?      

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

11 thoughts on “Die Goue Vroue hou vakansie #3

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: