Terug na Rebusfontein #5

Ná ‘n lang en besige tyd begin die Goue Vroue weer een vir een terugkeer Rebusfontein toe. Dalk om die batterye te laai, dalk nie. Wie weet? Volg hulle terugkeer HIER.

******************************************************************************************************

Faye en die ander diere van Rebusfontein speel uitgelate in die bome en berge naby die waterval op Rebusfontein. Danie waggel moeg nader. Daar is nuus om te vertel van die Goue Vroue. Hyself kom nou net van Una af. Sy kruip huidiglik onder die bed weg. Frannie en Toorts eet vrugtekoek op Seegogga se stoep. Weet die ander diere van die beweging onder in die dorp? Dit lyk of die Goue Vroue een-een op pad terug is. In die verlede het dit ‘n avontuur beteken.

Faye fladder af uit die boomtoppe en kom sit op die grond. Dan is Appeltjie ook op pad! Yea! Daar het so baie in haar geliefde mens se lewe gebeur, sy moet dadelik afgaan om te gaan hoor. Genadiglik hoef sy nie te wag vir die waggelende seekoeitjie, Seppie, nie. Dié is reeds onder in die dorp se meentdam saam met Blommetjie en ‘n blouwildebeeskalfie.

Appeltjie stop voor haar Rebushuis. Sy klim uit en trek die heerlike vars lug van Rebusfontein diep in haar longe. Die verlang na haar nuutgetroude man sit maar vlak, hulle is maar min van mekaar af weg. Nee dankie, het hy geantwoord op haar uitnodiging om saam te gaan Rebusfontein toe. Dis julle Goue Vroue ding. Ek sal na die honde kyk.

Net toe sy by die voordeur instap, fladder daar ‘n warrelwind van ‘n feetjie om haar kop, gryp haar om die nek en gee ‘n sagte drukkie. In ‘n stortvloed van woorde hoor Appeltjie dat die vetplante in die tuin mooi opgepas is (en hulle lyk werklik mooi gesond en groen), die huis is kort-kort oopgemaak om asem te haal, die diere het almal baie mooi gespeel by die waterval, die VVVTT het geskrik toe ‘n blitsvinnige kar ook op Rebusfontein ingetrek het en daar is al Goue Vroue by Seegogga op die stoep…….

Appeltjie stop die stortvloed van woorde met ‘n : is jy lus vir ‘n stukkie spookasem? Dis mos nou feetjiekos. Faye neem die stokkie met die fyn suikerstringe en vlieg weg om dit met die ander te gaan deel. Appeltjie pak vinnig die kar af en begin met die sjokolade lekkers. Kakao poeier gemeng met sagte botter en gesmelte klappervet. Bietjie vaniljegeursel, ‘n bietjie versoeter, bietjie room en so tussendeur wonder sy hoe Toortsie ‘n resep geskryf kry. Sy wat Appeltjie is meng en proe en toor tot iets lekker smaak. Die stywe mengsel word teelelpels-vol gedrup op ‘n skinkbord met waspapier op, strooi ‘n bietjie kakaopoeier oor en vinnig in die yskas. Nou vinnig vir die poeding. Kakaopoeier gemeng met gesmelte botter en baie room en versoeter, klits tot dit styf is. Klits gou ‘n eierwit styf en roer dit in. Romerig, ryk en lekker. En gesond. Dis mos Bantingkos.

Met die poeding en ‘n groot laphoed onder die arm sit sy af na Seegogga se huis. Van ver af al hoor sy Toortsie se uitbundige skaterlag, Seegogga se effens hees stem wat besig is om ‘n grap te vertel. Verby Una se huis roep sy: Una, ek het ‘n groot laphoed. Kom saam, verbeel jou die hoed is die beddeken. Kom sit by ons incognito tot jy gereed is om die wêreld in die oë te kyk. Ek het sjokolade……

Die Goue Vroue sit op die stoep, elkeen met ‘n glasie sjokoladeverlydelikheid. Die stories loop. Appeltjie vertel van haar troue, haar geluk loop oor. Haar stem het tydelik probleme gegee en sy en Neef het gewonder of haar skoolgeedae getel is. Die slim dokter het die probleem gesien en ‘n oplossing gegee. Toortsie se vingers loop asof sy haar orrel speel. Frannie haal asem sodat sy die coshit virus uit haar longe kan dryf. Seegogga hou Una se glasie vas sodat sy haar sjokolade onder die laphoed kan eet. Daar is niks wat ‘n happie sjokolade nie kan genees nie.

Wie gaan volgende opdaag?

https://fresh.inlinkz.com/party/cb86b6397a804035b934791678088e22

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

9 thoughts on “Terug na Rebusfontein #5

  1. O heerlike verruklike sjokoladedrank. Jy is hier weg as enkellopende en kom sowaar terug gering en in die eg. Gelukkig het dit nie jou verstand aangetas nie.Die laphoedidee is briljant!

    Liked by 1 person

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started