
Saterdagoggend 5 Maart klop Musica se hart opgewonde. ‘n Groot rustigheid lê warm in haar binneste wese. Vandag is haar groot dag. Uiteindelik gaan sy en haar geliefde hul trou aan mekaar aflê in hul naaste familie se teenwoordigheid. In hulle huis wat hulle saamgekoop het. Waar hulle ook ‘n paar sakke sout saam opgeëet het. Waar hulle besef het, dit wat hulle het, is kosbaar. Jonk is hulle nie meer nie. Geen groot fanfares en markiestente nie. Klein, intiem maar tog romanties.
Verspreid deur die huis staan talle blompotte, nie een dieselfde nie. Buurvrou se tuin het die groenigheid wat daarin gedruk is in oorvloed voorsien. Geel, roomkleurig en wit krisante tussendeur rond die prentjie af.
Sy draai in die rondte voor die spieel, beskou haar rok. Self gemaak, met liefde, sag en vroulik net soos Neef daarvan hou. Vir 3 weke was die eetkamer, nou gedek met borde eetgoed, ‘n roesmoes van lap en naaimasjiene. Hoeveel keer gaan jy nog die rok uittrek en aanpas en oorryg? het hy gevra. Tot dit reg sit, het sy geantwoord. Sy wou mos net soos haar ma nie ‘n gekoopte patroon gebruik nie. Nee, dit moet ontwerp word en die ontwerp is aangepas soos die rok gevorder het. Maar nou roer die chiffon saggies in die wind. Voel sy tevrede met haar harde liefdespoging.
Sy stap na Neef waar hy staan in die woonvertrek, sien hoe die paar familielede van beide kante mekaar voel-voel ontmoet. Die rosie wat gisteraand in die yskas gesit is om vars te bly, lyk goed teen sy swart baadjie. Ferm en groot staan hy in sy swart pak met wit hemp. Haar hart voel vol. Hoe kan een mens so gelukkig wees? Sy glip haar regterhand om sy linkerhand se pinkie, voel hoe hy haar hand toemaak. Hy kyk af na haar, glimlag vinnig en gaan aan met gesels. In die agtergrond gee die rustige musiek van Toll en Toll ‘n sagte atmosfeer.
Dan roep die predikant almal bymekaar. Toe die 12 stoele elkeen ‘n persoon op het, praat hy van liefde, van gee en neem, van geluk wat aangegryp moet word. Toe dit tyd raak vir die ringe, glip Neef haar ring oor haar vinger. Gemaklik en bekend. In die boksie lê sy ring vir hulle en kyk. Vanoggend het hulle geoefen, maar dit wou nie pas soos in die winkel nie. Toemaar, het sy gesê, dis die idee wat tel. Ek sal dit om my nek dra.
Sy hoor die predikant weer vra: belowe jy ? en hard en duidelik sê sy: ja. Net soos sy lank gelede toe sy haar hart vir hom gegee het, ook ja gesê het.
Net soos sy in die tyd daarna in haar hart voor God haar beloftes afgelê het.
Toe hoor sy die mooiste woorde – hiermee verklaar ek julle man en vrou. Sy kyk met liefde en emosie in haar oë na hom: En voor almal teenwoordig verseël hulle hul belofte met ‘n soentjie.
Hello my vrou, hoor sy. Hello my man, glimlag sy terug.
******************************************
volg die onderste skakels na Neef en Musika deel 1 2 3 om die vooraf stories ook te lees.
Musica en Neef https://wordpress.com/post/appeltjie.wordpress.com/48
Pragtig en kosbaar. Baie geluk.
LikeLiked by 2 people
❤️ mag julle altydgelukkig wees.
LikeLiked by 2 people
Dit maak my hart bly 😍
LikeLiked by 2 people
So ongelooflik bly vir julle💜💜
LikeLike
My trane loop sommer so mooi skryf jy oor jul wonderlike dag, Appeltjie. Mag jul liefde altyd bly blom.
LikeLiked by 1 person
Baie geluk. Mag julle nog baie jare se geluk saam belewe.
LikeLiked by 1 person