Skattejag

Ons is ń groep vroue, die goue vroue, elkeen van ons het ń stukkie goud in haar. Ons flans woorde bymekaar en maak stories, ons elkeen het ń huisie in Rebusfontein. Dit is ons realiteit, weg van realiteit. Jy kan kom saam skryf, of andersins saam met ons, ons avonture beleef. Volg ons volgende verhaal op die onderstaande link.

https://fresh.inlinkz.com/party/58bfda52c1464dd6bd728872e5955344

Die Goue Vroue sit op die stoep van die “Earl of Clarendon” op Bredasdorp. Die danse en musiek saam met Pedro en die opwinding van die dag roer nog in almal se gedagtes. Maar die rustige atmosfeer van die historiese gastehuis, saam met die uitsig op die lieflike herinneringstuin voor hulle, laat die gedagtes bedaar en almal maak gereed om te gaan slaap. Môre gaan interessant wees. Appeltjie het belowe dat daar iets opwindends wag.

Toe almal in hul kamers is, doen Appeltjie iets wat sy nie eens in haar tienerjare gedoen het nie. Sy sluip by die deur uit en glip om die hoek tot daar waar die pers bus staan. Sy klim in die bestuur se stoel, vroetel aan ‘n paar knoppe, loer of Google Maps werk, kyk onder die linkerkant en regterkant van die bus. Dan streel sy oor die buitedeur, die bus flits sy ligte vinnig aan en af en Appeltjie sluip terug na haar kamer waar sy in ‘n rustige slaap verval. Haar plan gaan perfek werk.

Die volgende oggend is almal in die tuin toe Appeltjie met ‘n klompie koeverte in haar hand uitkom.

“Reg, almal, staan nader, die dag se avontuur wag.”

Appeltjie is bekend vir haar anderste denke en almal se ore spits. Oë glinster. Om ‘n Goue Vrou te wees is beslis ‘n opwinding.

“Ons gaan vandag ‘n skattejag hou in die Overberg. Onthou julle toe Scot Scott so met die helikopter moes vlieg na plekke en dan rondhardloop om die skat te kry? Ons gaan dit ook vandag doen.”

“En hoe gaan ons dit nogal doen? Sien enigiemand ‘n vliegmasjien hier naby?” Dis Toortsie wat so vrolik die duidelike opmerk.

“Ons pers bus gaan die ding doen. Ek en hy het gisteraand ‘n gesprek gehad na slaaptyd en aangesien hy ‘n Rebusproduk geword het, is enigiets moontlik. Julle moet gou in groepe deel. Ek, Toorts, Aalsie en Seegogga ken die omgewing, so julle moet by een van ons kom staan. Die leier trek ‘n koevert, lees die leidrade en die groep moet probeer om dit te ontsyfer. Die bus sal ons neem na waar ons wil wees.”

In ‘n warrelwind van woorde en opgewondenheid en vinnig stap, deel die Goue Vroue in groepe spring in die bus en die styg solank in die lug op, Google maps reg vir die eerste aanwysings.

Aalsie trek die eerste koevert. Sy lees: tydens laaggety sal jy my ingang kry. bring jou osse en wa, die simfonie betower jou vir ewig hierna. Aalsie giggel. Sy weet presies waar dit is. Positief en Ekmyselff speel met die woorde. laaggety – dit beteken by die see. ingang na iets? dalk ‘n grot? die simfonie kan dalk die geluid van die see wees, maar die osse en wa? Aalsie lig hulle in: Dis op Waenhuiskrans/Arniston. Daar is ‘n grot wat so groot is dat ‘n wa met ‘n span osse daar kan draai. En mens kan net met spring laaggety daar ingaan. Die bus vlieg deur die lug tot op Waenhuiskrans, maar tot almal se teleurstelling is dit hoogwater. Die grot is onbegaanbaar. Die bus maak ‘n wye draai oor die see en luier in die lug voor die grot sodat almal die sig kan bewonder. Die water is woes en die skuim spat oor die rotse. Die mag van die see laat almal verstom. Die bus maak ‘n vinnig draai oor die res van die dorpie, die pikante vissershuisies, die historiese voorfront van die see, die spierwit strande voor dit weer effens binneland toe beweeg.

“Okay julle, ons het nog ‘n lang dag voor. Seegogga, nou beurt.” Seegogga flap haar hand met oë toe om ‘n koevert te trek sonder om bevooroordeeld te wees. Sy maak oop en lees:” waar 2 oseane ontmoet, sal jy die land moet groet. hiervandaan is dit net see tot jy die ysgewelf betree.” Trommeltjie en VirgoC staan by haar. “O dis maklik. Ons moet na die Suidste Punt van Afrika gaan. ” Die bus draai, trap vas teen ‘n wolkie en skiet weg L’Agulhas toe. Daar aangekom, vlieg dit oor die see om die rowwigheid van die oseaan te wys en ‘n voorbeeld van ‘n skip wat daar vergaan het, nog sigbaar is. Daarna maak dit ‘n swierige draai bokant die historiese vuurtoring en gaan land op die parkeerterrein. Appeltjie en Toortsie weier botweg om die trappe op te klim tot bo by die lig. Dis bitter hoog en hoogtevrees is nie ‘n grap nie. Die Goue Vroue stap daarna oor die plank wandelpaadjie tot by die monument, neem foto’s en kyk na die naaldagtige rotse wat al soveel skepe se ondergang was. Die Gees van die Plek skuif oor elkeen – hier is werklik die suidste punt van Afrika en verder suid is die bevrore kontinent Antarktika.

‘n Skril fluit trek almal se aandag. Dis Toortsie. “Kom julle, ek het my koevert, bus toe, ons moet weg wees. vanuit die lug soos ‘n vogel, hou stewig vas, wind in die gesig, laat die panorama jou begogel. Genade Appeltjie, wat is dit?” Christa is die woordeen. “Voëls is in die lug. Wind in die gesig beteken ek roer vorentoe.” Sonell word bleek. “O gaats julle, as ek in die lug aan iets moet vashou, beteken dit ons gaan op ‘n sweerspoor.”

“Nope, maar jy is warm,” laat Appeltjie hoor. Die woorde hardloop. Sweefspoor? Ski’s? Vlerksweef? Zipline! “Het jou, makou, ons gaan die zipline in die Nuweberg Natuurreservaat buite Grabouw doen.” Toorts is nie beïndruk nie. Dis hoog. Al gehoor van hoogtevrees? Toemaar, laat Appeltjie hoor, as jy wil opgooi is daar baie lug daaronder. Die miere sal net bly wees van die ekstra kos. Die kyke wat sy kry van die ander vroue af is nie vol komplimente nie. Maar die bus het sy koördinate en kort voor lank vlieg dit oor die lieflike groen berge met die dennebplantasies en plase vol appelbome. Oral is daar riviere en watervalletjies as gevolg van die onlangse goeie reën. Op Nuweberg land die bus, die vroue word een-vir-een na die zipline toe geneem. Hiervandaan is daar 13 stasies voor hulle tot by die laaste platform. Die Goue Vroue gil en skree sodra hulle die ruimte inval. Na ‘n rukkie verwonder hulle hul aan die natuurskoon van die UNESCO gebied. Dis ‘n adrenaliengevulde groep vroue wat ure later in die bus klim.

“My beurt,” laat Appeltjie hoor. Sy lees: ” oor berge en dale het ek julle geneem. my spore is in klip verewig, vir julle het ek gedien geduldig en gedienstig.” Frannie en Una lyk verdwaas. Wat op die aarde kan dit wees? Die Overbergers weet egter blitsig wat dit is. Voor jy kan sê “klipspoor” begin hulle ‘n vinnige 30 seconds vraag en antwoord. Tot Frannie en Una gelyk uitskree – “die ossewaspore naby Sir Lowry’s Pas. Aan die onderkant van die Gantou pas, laai die bus die vroue af. Appeltjie stap voor. Sy was al daar. Met verwonderig staar die vroue na die gleuwe in die rotse waar die wiele dit uitgeskaaf het. Die ysterhake waaraan toue vasgemaak is om die waens te help trek teen die stylte uit, is ook nog daar. Die enormiteit van wat die eerste burgers moes verduur tot in die 1700s laat almal verwonderd staan. Hier is ‘n stukkie van die land se geskiedenis voor hulle tasbaar en sigbaar.

Die vroue klim terug in die bus. Vanaand slaap hulle in Grabouw in die Houhoek hotel. Toortsie, sal jy ons verder neem op die reis asb?

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

19 thoughts on “Skattejag

    1. Toe ek die keer gestap het saam met My Geliefde tot by die ossewaspore, het ek my verwonder aan die probleemoplossing en uithouvermoë van my voorvaders . Dit het geskiedenis tasbaar gemaak

      Like

  1. Appeltjie! Sjoe! Wat ‘n heerlike skattejag. Ek het nie geweet van die zipline by Grabouw nie en was ook nog nie by die ossewa se spore nie. Dankie, ek het dit nou sommer baie geniet.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: