Dawie kry ‘n chip

smart

Dawie is nou 1 jaar oud.  Hy voel groot en sterk.  Hy het ‘n groot genoeg tuin waar hy kan hardloop en gate grawe.  Maar soos enige kind, wil hy graag wees daar waar Menspappa en Mensmamma sê hy nie mag hardloop nie.  Dis aan die voorkant van die huis waar die straat loop.  Dis juis so ‘n interessante plek.  Mense en karre en honde beweeg daar op en af.  Soms ‘n trollie met iemand wat dit stoot ook.

Dawie het intussen ook sprinkane ontdek.  Hulle het groot vlerke en sterk bene wat kan skop, maar hulle is nie vinnig genoeg om van hom af weg te kom nie.  Hy kan baie vinnig hardloop.  En goed mik met sy bekkie.  Hy vang nooit ‘n stukkie wors mis as Menspappa dit vir hom gooi nie.

Vandag is sy gelukkige dag.  Menspappa het groot sakke met goed daarin gaan haal vir sy watertuin.  Dawie sit soet op die trappie voor die garage en kyk wat Menspappa doen.  Die volgende oomblik vlieg daar ‘n besonder groot sprinkaan voor hom verby.  ‘n Groene.  Hulle ruik nie so sleg soos die rooies nie.  Dawie spring op en hardloop agter die sprinkaan aan.  Die sprinkaan kruip weg agter die sak naaste aan die straat.  Dawie spring.  Die sprinkaan vlieg op en gaan skuil in die waterslootjie.  Dawie sluip agterna en vang die sprinkaan onkant.  Dis vet pret.  Hy los die sprinkaan en die kaan hop ‘n ent verder.  Voor Dawie hom kom kry, is hy en die sprinkaan om die hoek onder in die pad. 

Die volgende oomblik kom daar ‘n kar om die hoek.  Dawie steek vas.  Die sprinkaan gebruik die geleentheid om onderdeur die kar te hop, sy vlerke oop te maak en al hinke pinke weg te vlieg. Die motor stop langs Dawie.  ‘n Mensvrou maak die deur oop.  “Ag foei tog, my arme hondjie.  Het jy weggeraak?  Waar is jou mense?  Kom, ek help jou soek.”  Dawie trap vas en hy begin bewe.  Hy hou nie van karry nie.  Dit laat sy magie naar voel .  Hy trek sy stertjie onder sy lyfie in en begin terugbeweeg.  Menspappa gaan nie hou daarvan as hy  by vreemde mense in die kar klim nie.  Maar die Mensvrou klim uit, tel hom op en troetel hom.  “Toemaar Ounooi se mooi hondjie, jy hoef nie bang te wees nie.  Ek sal mooi kyk na jou.  Ou man, ry asb na die veearts toe.  Ons kan hom daar los.”

Die kar trek weg.  Dawie tjank saggies in sy keel.  Hy is bitter bang.  ‘n Klein rukkie later stop die kar voor ‘n winkel met diereprente in die venster.  ‘n Vriendelike Mensvrou vat hom aan en druk hom saggies teen haar lyf vas.  Sy waai ‘n blink metaalboksie oor hom en sê:  “Ag nee, nog ‘n hondjie sonder ‘n chip.  Sy baas is nou seker al rasend van bekommernis.”   Sy neem hom na ‘n vertrek waar ander katte en honde en selfs ‘n haas in hokkies sit.  Dawie skop vas en tjank van bangheid.  Hy wil nie hier bly nie.   “Toemaar, liefiehond, toemaar,” troos die Mensvrou, “ek is seker jou mense sal jou soek en kom haal.”

Na wat soos ‘n leeftyd voel, hoor Dawie meteens ‘n wonderlike geliefde stem. “Dawie, Dawie!”  Dis mensmamma se stem.  Dan kom die Mensvrou veearts die kamer binne, haal hom uit die hokkie uit en neem hom na waar hy vir Mensmamma sien.  Hy spring in haar arms in, lek haar gesig, swaai sy stertjie en tjank saggies.  Mensmamma druk hom warm teen haar vas.  “Dawie!  O, ek is bly om jou te sien.  Ek en Pappa is rasend van bekommernis.  Pappa ry die hele dorp vol met sy fiets om jou te soek. Wat het gebeur?”  Dawie  spring hy uit haar arms en kyk of hy nie vir Menspappa sien nie.   Teleurgesteld draai hy om en gaan kruip weer vas teen Mensmamma.

 “Hoe het jy geweet Dawie is hier?  So terloops, dis ‘n vreeslike mooi naam vir ‘n hondjie,” praat Mensvrou veearts. 

“Ek het ‘n kennisgewing op die buurtwaggroep geplaas en 15 minute later het iemand geantwoord.  Dis seker die vrou wat hom opgetel het.  Ons wonder nou nog hoe hy so vinnig kon wegglip. Hoeveel kos ‘n chip?  Ek dink dis tyd daarvoor.” 

Voor Dawie kan wonder wat ‘n chip is, voel hy hoe die veearts sy nekvel vat en iets daar indruk.  Dis klein bietjie seer en hy kerm.  Maar dis vinnig verby.  “So ja, nou is hy gechip.  En ingetik op die stelsel.  As hy weer uitkom, sal ons gou weet vir wie om te bel,” praat die veearts. Heelpad op pad huis toe, sit Dawie op Mensmamma se skoot.  Die ontsteltenis van die dag sit nog hoog in sy keel en sy hele lyfie bewe.  Miskien moet hy maar in die toekoms die sprinkane uitlos.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

6 thoughts on “Dawie kry ‘n chip

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: