Design a site like this with WordPress.com
Get started

Waenhuiskrans

Ek het op Waenhuiskrans grootgeword Desembervakansies. My oupa het daar ‘n sandduin verskuif, voor op die seefront, langs die hotel om ‘n huis te bou. Daar het hy en ouma vir ‘n paar maande gaan bly na die oes in was. In daardie huis het ek en my boeties en sussies Desembermaande vakansie gehou. Die huis se gewel en vooraansig is deel van die historiese vooraansig van die strandfront. Die mense wat dit nou het, het haar mooi herstel.

Om by Waenhuiskrans uit te kom, ry jy reg deur Bredasdorp. Waar mens moet regs draai om suidste punt toe te gaan na Struisbaai en L’Agulhas, hou jy net reguit aan vir 24 km om daar uit te kom. Waenhuiskrans / Arniston is ook die enigste dorp in Suid-Afrika met 2 name – ‘n Afrikaans en Engelse een. Dis ‘n ongerepte dorpie wat oorheers word deur Kassiesbaai en dan die hotel. Daar is nie meer ‘n winkel of ‘n restourant nie, seder die eienaar van die hotel dit gekoop en terstond platgeslaan het. Al wat jy op Waenhuiskrans kan doen is om die see en sand te geniet en saam met familie te kuier.

Ons huis het ‘n onbelemmerde uitsig gehad oor die klein baatjie. Ons het oor die gras gestap, oor die pad, af tot op die sand. Links was Kassiesbaai – die vissersdorpie met sy unieke huisies. Meer as een tv-reeks het daardie huisies gebruik as agtergrond.

En nou volg die “ek onthou” stukkies. Ek onthou die groot seekatte wat die vissermanne gaan uithaal het. Dit het aan ‘n stok gehang oor hulle skouers en die pote het soms op die grond gesleep. Natuurlik word sulke grotes al vir dekades nie meer gesien nie. Mossels het so dik op die rotse gesit, jy kon nie daar loop nie. Allikruk het langs die rante geleef. Waar daar tans ‘n sementtrap af loop see toe, was daar in my kleintyd ‘n houttrap met ‘n reëling wat mens by die see uitgebring het. Links en regs was net sand waarop mens kan sit en lê. Daardie prentjie het egter heeltemal verander. Van al die sand het daar niks oorgebly nie. Die seewal is met rots en sement vasgemaak om verkrummeling te keer. Hierdie verkrummeling vind egter al meer en meer plaas. Elke keer as ek daar kom (wat nou bitter min is), is die verkrummeling van die walle meer en meer sigbaar.

geneem op ‘n mistige dag in 2014 na groot reen. die wal verkrummel heeltemal.

Die pragtige wit klipkerkie het aanvanklik ‘n rietdak gehad. Daar het ek vir jare die elektriese orrel gespeel tydens Desembervakansies. Die Brass Band van Genadendal het oor kerstyd deur die strate gestap en musiek gemaak. Aanvanklik het die kerkkoor van die plaaslike gemeenskap ook gestap en gesing. Dit was ‘n tradisie waarna ons jaar na jaar uitgesien het.

Die bote in die hawe het al minder en minder uitgegaan aangesien die visvoorraad opgevang is. Maar tog het die geluid van die inkomende bote met die seemeeue wat rondom hulle geraas het, elke keer ‘n lekker gevoel in my binneste losgelaat.

Mens kan kilometers langs die see afstap, verby die grot (wat net met springlaagwater binnegegaan kan word, verby die mond van die Heuningnesrivier en verder langs die plaat af tot by Struisbaai.

Links om, kan jy ‘n paar uur ver stap tot waar die grensdraad van die weermag jou keer. Op pad daarnatoe, as jy gelukkig is, het die heersende wind die wrak van die Arniston oopgespoel.

In my hart sal ‘n seevakansie op Waenhuiskrans met die familie altyd die mooiste herinneringe inhou.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

11 thoughts on “Waenhuiskrans

  1. Ons wêreld waarvan jy nou praat. Ons het ook kleintyd Waenhuiskrans toe gegaan. In die karavaanpark gebly in huisie 2. Aan die einde van st 1 het ons vir ‘n naweek Struisbaai toe gegaan en daar vasgehaak. Warnhuiskrans is ‘n pragtige dorpie.

    Liked by 1 person

  2. Waenhuiskrans is nog steeds ‘n wonderlike toeriste aantreklikheid. Ongerep én luuks met die drieverdieping Arniston hotel reg langs julle gewel strandhuis.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: