Design a site like this with WordPress.com
Get started

Bronwen

Ek moet skryf oor Bronwen. Sy bly in my gedagtes.

In die hospitaal vir die skoueroperasie, word ek alleen in my kamer wakker. Teater toe, operasie gedoen en toe terug kamer toe. In die kamer is die gordyn rondom die ander bed toegetrek. Maar ek slaap. Met die wakkerword slag besef ek my rug is seer van plat lê. Ek soek die klokkie maar kan nie my nek draai nie agv die operasie. Die een arm is seer, die ander een het 2 lyne in. Ek hou die gang dop, maar niemand loop verby nie. My enigste hoop is dus die persoon langsaan. Ek roep, maar my keel is rou van die pyp wat daarin gesteek was vir asemhaling. Ek hoor ‘n papier ritsel, n bed wat kraak. Probeer weer. “Hello, is daar iemand? Ek het hulp nodig.”

Toe antwoord sy. Trek die gordyn oop en ek sien haar. Toffieligte vel, swart haartjies styf teruggetrek in ‘n hoë bollatjie, lieflike donkerbruin oë. Jammer, sê sy. Ek het my oorfone opgehad, het u al vroeër ook geroep? Ek vra mooi dat sy asb haar klokkie moet druk. Ek het pyn, weet nie eens waar myne is nie. Terstond staan sy steun-steun op, self ‘n operasie gehad. Sy strek na my klokkie wat hoog bo teen die rand hang. Hoe was ek veronderstel om dit daar by te kom? Sy gee dit aan, vra of daar nog iets is wat sy kan doen voor sy terugklim op haar bed.

Toe die personeel antwoord op die klokkie, hoor sy hoe ek vra vir ‘n bietjie water want my keel is droog. En kan hulle my asb help draai en ‘n kussing onder my knieë sit, my rug is bitter seer. En kan ek asb iets te ete kry? Ek het 4 dae laas geëet, net vloeistowwe ingeneem. My maag moet leeg wees.

‘n Uur later hoor ek, Mevrou, kan ek vir jou ‘n koekie en sap gee? Jou kos het nog nie gekom nie. Steun-steun staan sy weer op, sit ‘n pakkie shortbread koekies op haar tafeltjie, maak dit eers oop want ek kan nie en stoot dit saam met ‘n sappie oor na my toe.

Hemel op aarde lekker.

Wat is jou naam? vra ek. Bronwyn antwoord sy. En myne is Adri. Los asb maar die “tannie”.

En daar begin ‘n vriendskap wat duur vir minder as 24 uur. Ons praat oor ons operasies. Haar siektetoestand wat al duur vanaf haar geboorte. Ek leer ken vir Bronwyn die mens wat oneindiglik lief is vir haar man en 2 dogtertjies. Die vroueprobleme wat sy het vanaf jongmeisie; haar twee wonderwerk dogtertjies. Ek hoor hoe sy in 1994 een van 3 bruinmeisies was in De Ruyter hoërskool en hoe sy haar pad moes oopveg teen vooroordee. Ek luister met verwondering hoe haar vorige skool op die Kaapse Vlakte nie verstaan het dat sy uiters disleksies was nie; van hoe die juffrou haar verneder het voor die ander. Sy vertel van die De Ruyter skoolhoof wat haar reg gediagnoseer het en laat toets het en hulp gekry het sodat sy matriek kon slaag.

Ek verstaan waarom sy eers 3 jaar na haar eerste dogtertjie (wat medies nie moes gebeur het nie) se geboorte met haar jeugliefde getroud is. Ek luister met verwondering na hoe hulle toe in ‘n klein woonstelletjie ingetrek het met ‘n opblaasmatras en 2 plastiekstoele as meubels. Hoe hulle altwee hulself opgewerk het tot hulle nou hul eie huisie in Kuilsrivier het, 5 minute ver van die hospitaal af in ‘n rustige woonbuurt. Hoe hy snags sy groot lyf om haar vou en haar teen hom koester soos ‘n teddie, al is sy oorgewig agv haar mediese probleme.

Ek bewonder haar 2 dogtertjies – lieflike kinders, wat hulle “Big Hair embrace”. Nog ‘n interessante gesprek volg oor hare. Sy is trots op haar Nama voorsate, die wit oupa van Duitse afkoms, alles deel van wat en wie sy is.

In die hospitaalkamer praat ons. Sonder ophou. Eers sy, dan ek. Dan in Afrikaans, dan in Engels. Oor ons kinders, ons vriende, skool ervarings, afkoms, hoe ons land nou daar uitsien. Ons deel ons lyflike pyn, kyk wat die ander een kry vir aandete. Ons lag saam met Khanyile, ons manlike verpleër, leer van Mr Chi, nog ‘n verpleër wat sy eie klerereeks het en dit adverteer op sy onderbaadjie.

Die personeel kom kyk hoekom ons so lekker lag, waar die vrolike gesels vandaan kom en kuier ‘n bietjie langer as wat hulle moet.

Sondagoggend vroeg pak sy op. Sy wil huis toe. Net na die dokter se besoek begin sy afstap ondertoe sodat haar man nie vir haar hoef te wag nie. Ons groep mekaar met ‘n drukkie en toe weer met nog ‘n drukkie. Ons deel nie nommers nie. Hierdie vriendskap is gemaak in die hospitaalkamer, dit sal daar bly. Maar in my gedagtes sal Bronwyn altyd deel wees van seker die lekkerste verblyf in ‘n hospitaal. Uit heel verskillende omstandighede en afkoms, maar absoluut een in ons menswees.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

14 thoughts on “Bronwen

      1. Ek het sommer nou vir my ‘buurvrou’ ‘n hello whattsapp gestuur. Ons het nie kontak behou nie, maar ek het haar nommer. Sy het so geweldig pyn gehad. Heeltyd geroep eina eina. Toe bid ek vir haar en sy raak stil.

        Liked by 2 people

  1. Ek is bly iemand was daar vir jou, heeltyd en wanneer mens net iemand nodig het. Julle was goed vir mekaar, ek dink sy is net so dankbaar. Op die ou einde wil ons almal net behoort💜

    Liked by 2 people

  2. Soms het n engel net n kort tydjie om in ons lewens te wees en impak te he. Jy was haar engel net soveel as wat sy joune was. Toe dit vir albei nodig was. Onuitwisbaar. Wat n seening.

    Liked by 2 people

  3. Ag Appeltjie dis darem ‘n wonderlike ervaring wat jy gehad het. Dit het niks gekos om vriende te maak nie en dit sal altyd by jou en haar bly. Ek gaan juis by Wasdag gesels oor Vrywillige naaste diens. Hierdie is ‘n pragtige voorbeeld daarvan.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: