Kasteelstorie

image from google

Una het dit begin, en toe het Woordnoot met haar kers-verjaardagpartytjie vir ons elkeen ‘n pakkie in die hand gegee en ons saamgenooi na ‘n Learjet wat saggies op Rebusfontein kom land het en ons voor hierdie lieflike kasteel kom neersit het. In ons pakkies was daar vir elkeen ‘n sleutel …

Volg die verhaal HIER waar jy elkeen se skrywes sal vind:

Inlinkz skakel: https://fresh.inlinkz.com/party/6640e82546594147b4ef78a3de36e871

***************************************************************************************************************

Appeltjie staan met die sleutel in haar hand.  Dit blink soos ‘n nuut ongebruikte sleutel.  Christa het nou net met haar ou geroeste sleutel om die hoek verdwyn.  Voor Christa het die ander Goue Vroue een vir een by die voordeur in verdwyn. Nou is dit haar beurt. Daar het nog geen gille of verwoede, brulagtige geluide opgeklink nie, so alles is seker maar veilig. Buite op die water hoor sy ‘n ………… jetski? Waarin sal die aktiewe Christa haar tog nou in begewe.

Maar haar eie avontuur wag op haar. Sy staan vir nog ‘n oomblik stil.  Bedink die saak soos gewoonlik.  Plan A is stap in en kyk wat gebeur, stap vir stap, versigtig.  Plan B en C vorm in haar agterkop.  Moontlike scenario’s met  moontlike uitkomkanse.  Maar aan die ander kant, as dit ‘n magiese kasteel is, sal praktiese oorwegings hier werk?  Nope. Dus, laat vaar planne A B C en Z, stap net by die deur in en kyk na watter kamer haar sleutel haar lei. 

Die voordeur wat geruisloos oopswaai, lei haar na ‘n groot trap. Sy pas die sleutel in by die eerste deure. Geeneen werk nie. Voor sy die trappe begin klim, sien sy ‘n kleinerige deurtjie raak, amper weggesteek onder die trap. ‘n Blinknuwe sleutel vir ‘n ou deur? Sy vat haar kans. Geluidloos swaai die deurtjie oop. Appeltjie moet effens buk om kop in te steek. Voor haar gaap ‘n nou donker gang. Aaaaaaa, die alomteenwoordige geheime gang van ‘n ou kasteel. Watse avontuur gaan hier gebeur? Sy wil nog versigtig ‘n tree waag, toe trek iets grillerigs haar vinnig aan die arm en die deur slaan toe. ‘n Kekkellaggie klink spookagtig op. Die hoendervleis slaan op haar arms uit. Appeltjie klou styf vas aan die sleutel, vryf daaroor met haar duim net om seker te maak dis nog daar en daar begin die sleutel ‘n sagte liggie maak. Dis ook asof die sleutel soos ‘n kompas vir haar vorentoe stuur.

Sy stap af in die gang. Oral is daar klein oog-grootte gaatjies. Een vir een loer sy daardeur. By een sien sy die bal waar Toortsie in ‘n lieflike balrok draai en swaai. Trommeltjie sit in haar veilige plek in die tuin. Sy sien San se troue, Positief wat lag tot sy beter voel. Sy staan vir ‘n oomblik langer stil toe sy hoor hoe die koning vir Tannie Frannie vra of die Goue Vroue deel sal word van ‘n dinkskrum om vrede te bewaar. Hmmmm, dit kan nogal ‘n ding word. Die volgende gaatjie laat haar uitkyk. En so wraggieswaar, daar storm Christa op ‘n jetski rond.

Maar die sleutelkompas dring haar vinniger verder.

Voor in ‘n hoek, verskyn ‘n wasige spinnerak. So iets het sy nog nooit gesien nie. Dit versper die hele gang met digte stringe wat uitsprei van die middelpunt af. In die middel roer iets. Nie ‘n spinnekop nie. Iets wasigs, iets met spookagtige arms en bene en kop. Woordeloos smeek die figuur Appeltjie om dit te verlos. Sou dit haar taak wees? Om die spookfiguur te bevry? Dalk kan die sleutel help. Maar nee. Toe Appeltjie die sleutel uitsteek na die web toe, verskyn haar goue vingerbedekkings. Sagte warm strale vloei na die web toe, smelt dit tot dit in ‘n taaierige poeletjie op die grond lê. Die wasige beeld neem lyf aan tot ‘n lieflike jongmeisie voor haar staan.

“Jy is die een met die goue vingers. Die voorspelling het gesê jy is op pad. Kom, ons moet gou maak voor DOD ons kry. Hulle wag op ons.”

Appeltjie wil nog vra van wie die meisie praat. DOD? Hulle? Maar daar is nie kans vir vra nie. Die spookmeisie dryf haar in die gang af in die lig van die sleutel. Die kekkellag klink weer op, nou baie harder. Dit klink wreed, moorddadig, grillerig. Om die volgende draai hardloop hulle amper in ‘n bleekwit bebloede gedaande vas.

“Oppas! Dis DOD!” skree die spookmeisie.

“Wat op die aarde is DOD?” vra Appeltjie benoud.

“Die Ondoodbare Ding. Jy moet iets doen. DOD staan tussen jou en hulle. DOD hou hulle al vir eeue gevange en net jy kan hulle red deur DOD te vernietig. Anders gaan die Goue Vroue se pyn vir ewig met hulle wees.”

“Hulle? Wie is die hulle van wie jy praat?”

“Daar is nie nou tyd vir verduidelik nie. Jy moet iets doen. DOD gaan …………………………”

Voor die spookmeisie verder kan praat, begin DOD op hulle afstorm. Appeltjie staan verskrik. Hiervoor is geen plan beskikbaar nie. Onwillekeurig hou sy haar hande uit om DOD te stop. Tot haar verbasing en DOD se benoudheid, begin daar taai stringe webtoue uit haar goue vingers vloei. Dit krul en draai om DOD wat verwoed probeer om die stringe weg te keer. Die stringe swaai om DOD, rank dit toe, druk dit vas teen die muur in ‘n niche waar dit begin lyk soos ‘n verbleikte skildery.

“Appeltjie! Jy het dit reggekry! Ons is ontslae van DOD! Kom, ons moet gou maak om hulle te bevry. Netnou kom DOD los.”

Die twee storm en vloei deur die gange, om draaie, verder die dieptes in. In die verte sien Appeltjie ‘n deur met ‘n effense gloed wat deur die sleutelgat skyn. Die spookmeisie maak die deur oop. In die middel van die vloer staan ‘n outydse musiekboksie. ‘n Bekende, effens dissonante melodie begin speel toe sy die deksel lig. Die ballerina draai al in die rondte. Maar verder gebeur niks.

“Kyk langs die kant. Is daardie knoppie los?” gee die spookmeisie raad.

Langs die regterkant is ‘n knoppie. Appeltjie draai en stoot en trek en skielik spring daar ‘n laaitjie uit aan die linkerkant. Maar meer merkwaardig, uit die laaitjie stroom daar ‘n klompie wesens. Hulle draai en swaai en vleg deurmekaar, uitbundig opgewonde oor hulle vrygelaat is.

“Appeltjie, jy het dit reggekry! Hierdie is die geluk wat van die Goue Vroue af gesteel is. Dis waarom hulle soveel pyn ervaar. Jy kan die geluk nou terugstuur na elkeen toe. Hoe hulle dit ontvang en wat hulle daarmee gaan doen, is hulle eie besluit. Maar nou sal daar weer vrede wees.”

Appeltjie wys ‘n gaan-uit-gebaar na die wesens. Hulle giggel en dartel en stroom by die deur uit. Om hulle Goue Vroue te gaan vind. Om weer vrede in gemoedere te gaan skep.

Plotseling staan Appeltjie weer op die voorstoep van die kateel. Kan 8 ure verby wees? Seegogga, vertel van ons jou avonture.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

17 thoughts on “Kasteelstorie

  1. En weereens stel julle nie teleur nie….Appeltjie…jy is tops!!! Dankie dat jy so dapper was om jou hande uit te steek en die geluk vry te stel!

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: