Hoe gelukkig kan mens wees

As jongmeisie het gewens vir ‘n handjievol kinders. So 1 minder as ‘n handvol. 3 sou ook genoeg wees. Toe trou ek en die gesukkel begin. 2 sieletjies is in die hemel sonder dat mamma hulle kon vashou. Die derde een het 2 kanse gekry om die lewenslig te aanskou, dus kon ek 1 kindjie vashou, koester en grootmaak. Vandag het sy haar eie baba, my enigste bloedkleinkind. ‘n Liefieding. Te mooi vir haar ouma.

Jare terug het ek vrede gemaak met die feit dat my volgende lewensmaat getroud sou wees met sy eie kinders. Dalk met ‘n eks wat in die agtergrond beweeg. Ek het vrede gemaak met die feit dat daar dalk onmin kan wees. In my eie familie het dit gebeur dat die tweede huwelik onmin tussen die man se kinders en my tannie veroorsaak het. Jaloesie wat uitgeloop het op trane en blatante verwerping.

En toe kry ek die liefde van my lewe. Daar is ‘n eks in die agtergrond en 2 getroude kinders met kleinkinders. Kort nadat ons ‘n paartjie word, kom hulle kyk. Eers die een dan die ander. En die Here gun my my wens. Ons kom goed oor die weg. Ons kan saam kuier. Chat op whatsap. My kinders en syne ontmoet mekaar en vind ‘n middeweg. En wonderlike lekkerste van alles, die kleingoed aanvaar my ook. Met die opregtheid van ‘n klein kindjie, word ek aanvaar as ouma. Die ouma wat by hul oupa pas. Ons praat oor die ander oumas ook. Noem hulle op die naam. Praat oor hoe gelukkig hulle is om so baie oumas te hê. Hierdie Ouma word gedruk, gesoen. Ouma moet stories lees. Ouma moet kyk as hulle teen die waterglybaan afgly. Ouma moet ‘n lekkertjie gee. En Ouma is slim. Kom ons vra vir Mamma of jy ‘n lekkertjie mag kry.

En uiteindelik is my wens vervul. Ek het ‘n handjievol kinders. Kleinkinders. 1 minder as ‘n handvol.

My beker loop oor. Hoe gelukkig kan ‘n mens wees.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

11 thoughts on “Hoe gelukkig kan mens wees

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started