Dawie speel lekker

‘n Voorlees of selflees storie vir 8-jariges.

Dawie is ‘n hondjie.  Hy is nou 6 maande oud.  Hy bly saam met Mensmamma en Menspappa in ‘n huis met ‘n tuin en ‘n swembad.  Hy kan lekker hardloop en speel.  Hy hardloop op met die trappies, af in die gang en weer terug.  Hy hardloop so vinnig dat sy sagte haartjies agter hom aan trek.  Soms staan Menspappa aan die een punt van die gang en Mensmamma aan die ander kant.  Dawie hardloop so vinnig soos blits na Menspappa toe.  Hy spring in Menspappa se arms in.  Dan roep Mensmamma:  “Kom, Dawie, kom!”  Dawie spring uit Menspappa se arms uit, hardloop so vinnig soos blits en spring in Mensmamma se arms in.  Sy gee hom ‘n lekker drukkie.  “Mooi, Dawie, mooi.  Jy hardloop so vinnig!”  Maar dan roep Menspappa weer en Dawie spring uit haar arms uit.  So hou hulle aan tot almal moeg is.

 Dawie het baie speelgoed in sy wit speelgoedbak.  Hy kies waarmee hy wil speel.  Dan gaan hy na Menspappa toe en wys die speelding.  Soms is dit sy tou en soms is dit die stukkende skoen.   Menspappa is besig met sy werk.  Hy speel net ‘n klein bietjie, dan is hy moeg gespeel, want hy moet werk.  Dan gaan Dawie na Mensmamma toe.  Sy speel langer met hom.  Maar sy het ook werk om te doen, dan moet hy weer alleen speel.

Dawie snuffel met sy neus in die speelgoedbak en haal sy rooi bal uit.  Hy gooi die bal op in die lug en hardloop om dit te vang.  Hy kap met sy pootjie na die bal.  Die bal rol vinnig weg.  Dit is groot pret.  Hy hardloop agter sy bal aan en probeer dit vang met  sy bek.  Maar die bal rol onder die bank in.  Dawie val plat op sy maag neer en probeer die bal uitkrap, maar dis te diep.  Nou moet hy iets anders kry. 

Dawie snuffel in die speelgoedbak en gryp die pantoffel met sy skerp tandjies.  Hy skud die pantoffel hierdie kant toe  en daardie kant toe.  Dan kou hy bietjie daaraan.  Hy grom saggies in sy keel asof hy daarmee raas.  Maar die pantoffel wil nie lekker saamspeel nie.

Dawie gaan uit na die tuin toe.  Daar is ‘n heining van tralies om die swembad.  Die tralies het slote in.  Dawie kan tussen die slote deurkruip.  Hy kruip hierdie kant toe en daardie kant toe deur die tralies.   Dit is ook net pret vir ‘n rukkie. 

 Dan sien Dawie ‘n stokkie.  Hy gryp die stokkie met sy skerp tandjies.  Hy lig sy koppie hoog en draf in huis toe.  Hy kou aan die stokkie en spoeg die stukkies uit.  Hy kou en kou tot die stokkie op is.  Oral rondom hom is daar nou stukkies van die stokkie. Mensmamma kom in.  Sy sien die stukkies stokkie oral op die vloer. Sy trek haar asem op.  “Dawie!”  raas sy.  “Wat het jy gedoen! Stoute hond.  Nou moet ek weer skoonmaak.  Gaan speel buite!”

Dawie sluip by die deur uit.  Sy ore hang.  Sy stert sleep.  Hy wil nie meer alleen speel nie.  Sal hy ooit ‘n maatjie kry?

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

6 thoughts on “Dawie speel lekker

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: