Dawie kry ‘n maatjie

‘n Voorlees of selflees storie vir 8-jariges.

Dawie is hondjie wat hou van speel. Hy kan baie lekker speel met al sy speelgoed, maar nou raak hy moeg daarvoor om alleen te speel.  Hy wens hy het ‘n maatjie.

Een Sondag hou daar ‘n wit bakkie voor die huis stil.  Twee grootmense, en ‘n dogtertjie klim uit.  Dawie se hartjie juig.  Hy kan met die dogtertjie speel.  Opgewonde draf hy nader.  Sy stertjie swaai vrolik heen en weer.  Maar voor hy kan begin speel, hoor hy net “Woef, woef” van iewers op die bakkie af.  Hy kyk op.  O aarde, daar is twee groot honde met ligte hare agter op die bakkie.  Die een lyk oud en die ander een is nog baie jonk.  Dawie se hartjie klop nou benoud.  Selfs die jong hond lyk baie, baie groot.  Hulle sal mos maklik op hom kan trap en dan?

Die man maak die honde los en neem hulle een vir een deur die huis tot in die tuin.    Die jong hond hardloop opgewonde heen en weer.  Hy hardloop om die swembad.  Hy hardloop uit teen die trappies en spring  teen die vrou op.  Hy draai om en daar hardloop hy vir Dawie onderstebo.  “Njaf, njaf, njaf” tjank Dawie en gaan spring in Menspappa se arms in.  Hy hoor hoe die vrou met die jong hond raas.  “Nee, Kalla, nee!  Af! Moenie spring nie!”  Kalla gaan sit op die stoep, maar sy stert swaai en sy hele lyf bewe van opgewondenheid.  Net gou spring hy weer weg en gaan hardloop onder in die tuin.  Mensmamma maak die hekkie in die draadheining  vinnig toe. 

‘n Ruk later ry die groot bakkie met die mense en die dogtertjie weer.  Nou sit Dawie bang op die stoep en kyk na die 2 honde.  Hulle is nou agter die hekkie en kan nie by hom kom nie.  Die ou hond se naam is Rimba.  Rimba kry ‘n sagte plekkie in die grond en raak aan die slaap.  Kalla sit agter die hekkie en kyk na Dawie.  Hy wil speel.  Maar Dawie is bang.  Hy wil nie weer onderstebo gehardloop word nie. 

Die volgende dag neem Menspappa vir Dawie saam om die nuwe honde kos te gee.  Dawie sit styf agter Menspappa se been.  Hy kyk hoe Kalla en Rimba vinnig hulle kos vreet.  Hulle tande is groot en sterk.  Dit sal ‘n klein hondjie mos vinnig kan opeet.  Hy draai om en hardloop terug om agter die draadheining  te sit.

‘n Rukkie later kom sit Kalla by die draadheining.  Hy kyk vir Dawie.  Dawie kyk vir Kalla.  Kalla se bek met die groot sterk tande lyk of dit glimlag.  Sy stert swaai effens.  Dawie sit net doodstil.  Dan steek Kalla sy poot effens deur die draadheining se sloot.  Dawie ruik daaraan.  Dit ruik na hond.  Nou weet hy hoe ruik Kalla.  Agter die draad gaan staan Kalla nou met sy boude in die lug, voorpote plat op die grond.  “Woef, woef, woef” blaf hy vir Dawie.  Hy wil hê Dawie moet kom speel.  Versigtig kom Dawie ‘n bietjie nader.  Kalla bly doodstil so staan, boude in die lug.  Pootjie vir pootjie klim Dawie deur die draad totdat hy langs Kalla staan.  Opgewonde draai Kalla om en stamp vir Dawie onderstebo.  Dawie skrik groot en hardloop terug deur die draad.  Nou sit die twee weer vir mekaar en kyk. 

Kalla is self maar net 1 jaar oud.  Hy is ook eintlik nog net n jong hond.  Hy sien dat hy sagter moet speel met Dawie as met Rimba.  Rimba wil eintlik glad nie meer speel nie, want hy is al baie oud.  Hy wil net eet en ‘n bietjie loop en slaap.  Kalla gaan lê met sy kop op sy bene en kyk vir Dawie.  Dawie kyk nog bang na Kalla.  Meteens lyk Kalla nie so groot nie.  Dawie stap versigtig nader en steek sy pootjie tussen die tralies deur.  Kalla lek sy pootjie.  Dawie kruip pootjie vir pootjie deur die tralies, reg om te kan vlug as dinge te gevaarlik raak.  Kalla lê doodstil.  Dawie loop rondom Kalla.  Hy ruik aan Kalla se stert.  Dan ruik hy aan Kalla se gesig.  Versigtig sit hy ‘n voorpootjie op Kalla se nek, staan op sy agterpootjies en ruik aan Kalla se ore.  Dit kielie en Kalla draai sy kop om te keer.  Dit raak ‘n speletjie.  Dawie ruik, Kalla keer en voor Dawie hom kom kry, klim hy op en oor Kalla se nek om die ander oor ook te kielie.  Kalla rol om op sy rug en Dawie spring op sy nek.  Spelerig probeer hy Kalla se nek byt. Kalla speel-grom en lek die klein hondjie dat hy doer trek.  Maar nou weet Dawie dat Kalla hom nie sal seermaak nie. 

Van daardie oomblik af, is die twee hondjies maats.  Dawie kies elke keer wat hulle moet speel en Kalla gaan saam.  Soms hardloop Dawie so vinnig dat sy haartjies agtertoe staan en Kalla draf net  vinnig saam.  Dan rol hulle weer in die gras, speel-baklei hulle.  Ander keer soek Kalla ‘n stok en dan trek hy en Dawie daaraan. Dikwels gaan slaap hulle saam onder die boom in die skaduwee.    Toe Kalla gaan water drink in die swembad, wys Dawie hom hulle kan swem.  Soggens  wag Kalla vir Dawie by die tralies om te kom speel. 

“Kyk Liefie,” hoor hy vir Mensmamma sê.  “Dawie het ‘n maatjie gekry.”

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

8 thoughts on “Dawie kry ‘n maatjie

      1. Dis hy, In soort van hoofstukke. Vandag die eerste een en volgende week die tweede deel of so-iets. Ek kritiseer nie dis net dat veral die outjies wat nie so goed lees nie gaan sien dis te lank en dan lees hul gladnie.

        Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: