Dawie leer swem

‘n Selflees of voorleesstorie vir 8 jariges

Dawie is ‘n hondjie.  Hy is al 6 maande oud.  Hy woon in ‘n huis saam met sy mense.  Dit is ‘n nuwe huis.  Die huis het ‘n tuin en ‘n swembad.  Die swembad lyk soos ‘n baie groot visdammetjie. Hy  het al toe hy nog kleiner was in iemand se tuin in ‘n visdammetjie geswem.

Om in die visdammetjie te swem, is groot pret.  ‘n Hondjie hardloop net, spring effens oor die vlak randjie en dat staan jy in die dammetjie.  Die water is vlak.  ‘n Hondjie kan in die rondte hardloop in die water.  ‘n Hondjie kan spring dat die water spat.  As die druppels spat, kan ‘n hondjie spring en die druppels vang.  Dit is groot pret.  Daarna is ‘n hondjie baie nat en koud, maar hy word gou weer droog.  Dan is sy hare weer skoon en sag en wollerig. 

Daar is nie baie water in die swembad by die nuwe huis nie.  Die swembad en die water was baie vuil.  Al die water is uitgetap en die bodem is gevee en gewas.  Toe tap Menspappa weer water in.  Die water het slegs  tot by die onderste trappie gekom, toe stop Menspappa.  Dawie weet nie hoekom Menspappa dit gestop het nie.

Die swembad is nie groot nie, maar dit is diep. Bo by die rand is daar 3 trappies. Die trappies is ook diep.  Dawie kan die vlak trappies by die tuinhekkie maklik klim, maar die trappies by die swembad is diep.  Dawie is klein, so hy kan nie die trappies by die swembad maklik klim nie.  Hy moet spring.  Hy het dit probeer toe Mensmamma en Menspappa op die stoep gesit het.

Eendag hoor hy sy mensmamma vir Menspappa sê:  “Ons moet vir Dawie leer swem.  As die swembad weer reg en vol water is, mag hy dalk inval.  Dan moet hy kan swem.  Ek wil nie hê ons hondjie moet verdrink nie. “

“Dawie, Dawie, waar is jy?  Kom na Mamma toe!”  hoor hy vir Mensmamma roep.  Opgewonde draf hy na Mensmamma toe.  Hy is lief vir haar.  Sy tel hom op in haar sagte arms.  “Vandag gaan ek jou leer om te swem.  Ek wil nie hê jy  moet verdrink as jy in die swembad val nie.  Dis nie so vlak soos ‘n visdammetjie nie.  Maar moenie bang wees nie.  Ek sal saam met jou inklim.  Kyk, die water is nog vlak.”

Dawie is bang vir die diep swembad.  Hy spartel en spook in Mensmamma se arms om uit te kom.  Sy hou hom stywer vas.  Sy hartjie bons in sy keel.  “Njaf, njaf, njaf” tjank hy saggies. Maar Mensmamma stap versigtig die trappies af.  “Sjuut,  my liefiehond,”  praat sy rustig met hom.  Sy stap in die vlak water onder in die swembad in en gaan sit met haar rug teen die muur.   Dan laat sak sy hom versigtig in die water.  “Kyk of jy kan swem.  Mamma het jou.” 

Dadelik word iets in Dawie se hondjie-hart wakker.  Vanself begin sy pootjies die water trap.  Hy gaan effens vorentoe.  Dan besef hy Mensmamma hou hom nie meer vas nie.  Hy beweeg vanself!  Hy kan swem!  Opgewonde trap hy die water met sy pootjies.  Al vinniger en vinniger.  Hy hou self sy koppie regop  en sy neus bo die water.  Dan voel hy hoe Mensmamma hom na die wit muur toe draai.  “Swem al langs die muur om, Dawie.  Swem tot by die trappies en klim uit.  Dan weet Mamma jy sal nie verdrink as jy in die swembad val nie. “

Dawie trap met sy pootjies.  Hy druk sy lyfie effens teen die muur.  Uiteindelik kom hy by die trappies uit.  Hy sit vinnig twee pootjies op die trappie, skop vas met sy agterpootjies teen die rand en daar is hy op die trappie.  Dawie is so trots op homself, dat hy hiernatoe en daarnatoe hardloop.  Hy skud sy haartjies dat daar net water spat.  “Mooi, Dawie, mooi!” roep Menspappa.  Dan tel Mensmamma hom terug in die water.  Nou moet hy anderkant om ook swem na die trappies toe.  Daarna moet hy van die middel af swem na die trappies toe.   Elke keer sê Mensmamma en Menspappa net:  “Mooi, Dawie, mooi!  Jy is so slim!”

Na die swemmery is Dawie baie koud.  Sy lyfie bewe.  Mensmamma draai hom in ‘n handdoek toe en vryf hom droog.  Sy hou hom vas tot hy weer warm voel en wil uitkom.

Nou is Dawie baie trots op homself.  Nou kan hy  swem. 

volg ander stories van Dawie op my blog appeltjie.wordpress.com

volg die link na ander kinderstories deur die Goue Vroue: https://fresh.inlinkz.com/p/d9a4e9bae6aa4e179beee4acc3690247

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

10 thoughts on “Dawie leer swem

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: