Ek het vroeër gesê dat ek die nuwe kleur verf moes kies vir ons huis. Ek was oulik. Ek weet kleure is nie my sterk punt nie, en daarom het ek ‘n vriendin se raad gaan vra. Sy bring haar samples, verduidelik hoe die kleurpalette werk en ons verf ‘n blokkie teen die muur. Ek sien hoe die kleure wat sy vir haar huis gekies het, werk. Dit lyk mooi, maar nogtans weet ek, ek sal nie vanmiddag in my huis instap en dink, wow, dis ék nie. Ek sal nie vir die volgende 20 jaar hiermee kan saamleef nie.
Toe spring die verwer in. Mevrou, kom ons meng ‘n bietjie van die kleursel met die wit. Ek meng meesal self my verf as die huismense nie weet wat om te kies nie. Ek sit in elk geval in patatstraat, so ek gee hom ‘n kans. En daar neem my kleur voor my aangesig vorm aan. My Geliefde en ek gaan met instruksies na die hardewareplek toe. Ek is vol moed. Net om weer op my gesig plat te val. Jammer, maar hulle hou nie hierdie soort verf aan nie. Hulle sal dit moet bestel en dan sal dit eers oor 3 dae hier wees. Kan hulle dus vir my van hul eie verf aanbeveel? Ek kyk en kyk en sien nie die kleur soos Verwer en ek besluit het nie. Die Geliefde begin nou ook op en af stap. Tyd is geld. Ons moet ‘n keuse maak. Die vriendelike verkoopsman sien hulp is nodig en hy sê saggies: gaan kyk by die volgende winkel, af in die straat om die hoek. Maar ook daardie plek hou nie die verf aan nie.
Af koöperasie toe. Daar is die verf. Maar weer is daar fout. Hulle kan nie die mengsel aanpas nie, dis vooraf geprogrammeer. Dus begin die soeke na ‘n alternatiewe kleur van voor af. Kaartjies word in die sonlig en in die binnearea bekyk en beoordeel. Uiteindelik lyk dit of die keuse reg is. Wit met ‘n effense ondertoon van grys en sy effens donkerder vriend vir die fokuskleur. Hoogs in my skik vertrek ons huis toe, plaas ek die gemengde verf trots in Verwer se hand. Hy gryp dadelik ‘n skoon kwas en verf 2 blokkies teen die muur. My mond val oop en my hart gaan sit in my keel. Die Geliefde draai om en loop ‘n paar draaie deur die tuin. Die kleure lyk glad nie soos op die paletkaartjie nie. Dis aaklig om die minste te sê. Oor my dooie liggaam gaan ek vir die res van my lewe in die huis teen daardie poeierblou vaskyk. Ons kan dit meng met wit en die binnekant van die kaste uitverf, dit op buitepotte gebruik, maar nie teen my muur nie.
Dus is ons terug waar ons begin het. Ek is nou al moedeloos en na aan trane. Mevrou, begin Verwer saggies praat, kom ons gebruik van daardie eerste kleur en ek meng dit soos vanoggend. Dan kry mevrou net 2 dromme wit, ek meng die kleur daarin en dan is Mevrou Ei for away. So gesê so gedaan. Verwer meng, gooi bymekaar, meng weer, roer, verf ‘n bietjie, gooi nog bietjie by, verf weer ‘n blokkie en daar is my kleur. Ek en My Geliefde staan stil. Ons stem saam. Verwer het die beste kleur gekry en daar is genoeg om die vertrekke te doen in 2 lae. As die woonvertrekke dan weer gemeng moet word en daar ‘n effense skakering kom, sal dit lyk of dit so moes wees. Ek juig.
Wat van die buitekleure, vra My Geliefde. Ek gaan staan stil. Een probleem op ‘n slag asseblief. Môre is nog ‘n dag.
Sterkte.
LikeLike
Dis ‘n moeilike keuse. Ek is seker dit gaan baie mooi wees.
LikeLike
ek kan maar net hoop.
LikeLiked by 1 person
Daai verwer moet jy soos goud oppas. Die kleur wat ons almal verf, se naam sal jy verstaan. Arniston White. Dis egter blykbaar nog nie op ‘n kleurkaart nie. Wit met effens grys skynsel. Slaan nie blou deur nie.
LikeLike
En dis die kleur wat ek gesoek het. Skoonsus het ook daardie naam gestuur, maar toe is die verf vir my huis klaar gemeng, en dit lyk pragtig. Dankie!!
LikeLiked by 1 person
Ek is bly dit lyk mooi. Dit werk uitstekend buite ook
LikeLiked by 1 person
Klink vir my asof jy ‘n juweel van ‘n verwer het – ‘n kundige vakman wat omgee oor sy werk.
LikeLike
Hy doen, hy doen
LikeLiked by 1 person
Lekker verf.
LikeLike