Dawie op vakansie

Dawie sit regop, koppie skuins gedraai. Een oor op, ander oor af. Hy weet Menspappa het gesê albei oortjies moet geplak word sodat dit regop staan, maar wie wil nou soos ‘n bakoor jakkals lyk? Ewenwel, sy twee mense is besig met snaakse goed. Daar is bokse wat nie bokse is nie op die groot bed en hulle is besig om hul klere en ander goed daarin te pak. Die ander goed het bont papier oor. Mensmamma het nie eens die skimp gevang toe hy sy oranje speelding vir haar bring sodat hulle bietjie kan speel nie.

Opgewonde draf Dawie die 18 trappe af onder toe. Al die boksgoed – tasse hoor hy noem hulle dit – word afgedra en in die motor gesit. Hy draf solank ‘n paar keer om die woonstel en kruip agter die tralies weg, reg om Mensmamma te bespring, maar niemand sien hom raak nie. Dan gryp Menspappa hom, swaai hom hoog in die lug sodat hy wat Dawie is voel of hy vlieg. Hy sit vir Dawie op Mensmamma se skoot in die volgepakte motor. Menspappa gebruik woorde soos vakansie, oppas, 2 en ‘n half weke. Mensmamma vryf en hou vas en praat woorde van hy moet hulle nie vergeet nie. Hulle sal baie verlang. Tannie Johanna is lief vir hondjies en sal mooi kyk na hom. Wat????? Sy vee druppels water uit haar oë en Menspappa sit sy arm om haar en vryf haar rug. Dawie hou daarvan as Menspappa sy ruggie ook vryf. Maar nou is hy eers heeltemal verward en sit liewer doodstil.

By wat hy reken tannie Johanna se huis is, klim hulle af. Die eerste wat hy sien, is ‘n groot hardloopplek met ‘n watergat. Dan kom ‘n ouerige klein hondjie, nog ‘n amper-groterige hond en ‘n wit kat uitgestap. En twee Mense. Die Mensvrou vat hom aan en druk hom teen haar sagte lyf en groet hom met liefde. Sy ruik lekker. Die honde blaf en tjank en die kat sê stadig: Miaaau.

En die volgende oomblik ry sy mense. Weg. Hy sit vir ‘n oomblik voor die hek en staar na die pad, maar hulle kom nie terug nie. Mensvrou se man tel hom op en praat baie woorde en hy voel hoe sy lyfie ontspan. Aand 1 kom en net toe hy wonder wat hy gaan eet, sit Mensvrou ‘n bakkie kos voor hom neer, dieselfde as die ander s’n. Hy proe-proe en sien waarom die ander 2 so lekker eet. Die kos smaak lekkerder as Mensmamma Adri s’n. Slaaptyd word hy op sy kussing neergesit, maar die verlang is te groot. Dawie tjank saggies en Mensman tel hom op die bed. Gemaklik vou hy sy lyfie teen Mensman vas en raak aan die slaap.

Die volgende oggend besluit die ander diere, hierdie klein hondjie is te slaperig en sitterig. Tikkie, die ouer groot hond, lok hom uit. Druk en stoot vir Dawie tot hy reageer. Tikkie wys vir hom die tuin waar hy ‘n paar draaie hardloop. Eers trippel Dawie net so effens rond. Die huis waar hy bly het nie so ‘n groot speelplek nie. En wat is die groen goed onder sy pootjies? Gras, brom Tikkie. Kom ons hardloop. Tikke laat hardloop vir Dawie tot hy uitasem is.

Ek kan jou wys waar jy kan afkoel, spin Felix Kat onskuldig. Kyk daar, dis ‘n visdammetjie. Klim net in. Mensvrou sal nie omgee as jy bietjie nat is nie. Tikkie probeer nog keer, maar dis te laat. Uitbundig spring Dawie in die dammetjie in. Wow, dis lekker. Hy spartel en hop en baljaar in die dammetjie. Water spat oor Felix wat vies sy pote afskud.

Dan hoor hulle Mensvrou fluit en roep: “Dawie, Dawie, kom”. Oor en oor tot Dawie besef wat hy moet doen. In die kombuis sien hy die voël raak. Kyk hom skeefkop aan. “Kom Dawie,” sê Mensvrou weer. “Ek kan sien Felix het jou die dammetjie gewys. Maar bly liewer daaruit. Kyk hoe nat is jy.”

En vir die volgende paar dae is dit die patroon. Soggens sodra hy sy ogies oopmaak, hardloop en speel Dawie met die ander diere. Een vir een tot elkeen moeg is, dan gaan hy aan na die volgende een toe. Tikkie se ore word getrek. AJ gee effens pad, knyp na Dawie want op sy ouderdom wil hy nie meer met die jonges meeding nie. Felix kom ook nie los nie. Dawie hou eenvoudig aan tot die kat ook ‘n paar draaie saamhardloop. En net sodra Mensvrou die hekkie ooplos, glip hy weg vir ‘n swem in die dammetjie.

Een oggend hoor Dawie hoe Mensvrou hom roep. Hy los vir Tikkie en storm die gangetjie af, kombuis toe. Dalk wag daar ‘n bederfie? Maar Mensvrou is nie daar nie. Net Maxie, die African Grey papegaai sit daar op die vloer. Tot sy verstomming roep Mensvrou weer, maar dié keer kom die geluide uit Maxie se bek. Net toe Dawie reken hy kan Maxie maar jaag, gryp Mensvrou die voël en praat ‘n vinnige klomp woorde, waarvan hy één woord herken – nee!

Tyd gaan verby. Iewers in sy hartjie sit Menspappa en Mensmamma, maar hy kuier baie lekker. Toe, een middag laat, hoor hy iemand by die hek roep. Instinktief reageer sy hondelyfie. Hy ken daardie donker brystem. Hy storm hek toe en hop en blaf en hardloop in die rondte tot die hek oopgaan. Midhardloop spring hy in Menspappa se arms in, wat hom stewig vat en vasdruk. Hy vroetel uit om ook in Mensmamma se arms te kom. Gee klein tjankies van blydskap. Lek die waterdruppeltjie langs haar oog op. Dan woel hy los, hardloop uitbundige sirkels om die ander diere uit pure blydskap. Sy lewe is volmaak.

Daardie aand, by sy bekende huis, hoor hy hoe Menspappa vir Mensmamma sê: Johanna het nou net gebel. Sy sê dis so stil sonder Dawie. Al die diere sit en kyk net vir mekaar. Almal verlang na hom. Sal julle hom laat kom kuier?

Ja, dink Dawie. Maar nie nou al nie.

Lees gerus die ander stories van Dawie op my blog.

Vakansie sonder Dawie 4 Dawie 3 Dawie na ‘n week 2 Dawie 1

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

2 thoughts on “Dawie op vakansie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website at WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: