Yskaats

Die verhale van die Goue Vroue se waaghalsigheid, soos Christa dit begin het, kan hier gelees word https://fresh.inlinkz.com/p/f80d05d5846445598fea67b47c8a6182

Skates, Figure Skating, Artificial Ice

“Yskaats? Is julle ernstig?!” Appeltjie se stem styg onrustig die hoogtes in. Haar balans is regtig nie wat dit moet wees nie.

“Julle weet nie dat ek die laaste van my boeties en sussie was om te leer fietsry nie. Ek het hoeveelkeer my nerwe afgeval voordat die lang paadjie op na die store toe nie meer te kort was om regop te bly nie. En dit was op ‘n dikwiel fiets.”

Maar die Goue Vroue is adamant. Dis die middel van die somer en snikheet warm. Die yskaatsbaan in Goodwood by die Grand West Casino is net die plek om te wees. En as Christa afgronde kon trotseer op ‘n fiets, Aalsie die weermag se LETRA kon oorleef en Toortsie nie ‘n hele kunsleerfabriek opkoop nie, kan Appeltjie dit waag op skaatse.

So gesê, so gedaan. Die Goue Vroue sit af en masse na die yskaatsbaan. Dis ‘n gelag en ‘n geskerts wat net gou die aandag trek van die ander skaatsers. Die vrolike musiek wat die reuse vertrek vul, laat almal se voete jeuk. Op die baan is daar skaatsers wat die mees grasieuse bewegings uitvoer. Dit draai, gly, spring en tol met ‘n gemak wat skaats sommer maklik laat lyk. Appeltjie skep moed as sy die kinders sien wat vol selfvertroue om die baan beweeg. Sy hou die groep skaatsers dop wat lyk of hul resies jaag om die buitebaan. Dis ‘n ontstellende vinnige spoed waarmee hul om die draaie gaan. Aaaaaaa, daar is ‘n pyprand rondom die baan waaraan sy sal kan vashou. Gelukkig lyk dit darem nie of sy die enigste groentjie sal wees nie.

Eers word daar skoene aangepas. Die veters moet styf getrek word om die enkels te beskerm. Met die opstaanslag al weet Appeltjie, hier kom moeilikheid. Sy kan nie eens haar balans op ‘n gewone vloer hou nie, en die ys moet nog kom? En almal wat enigiemand is, weet – ys is glad.

Christa het meegevoel. In Kazahkstan het dit met haar ook maar eers sleg gegaan. Van die ander Goue Vroue wat al oorsee getoer het in die winter is reeds op die baan.

“Appeltjie! Appeltjie!” moedig hulle haar aan. Van die skaatsers op die baan besef hier kom ‘n ding. Moedig durf Appeltjie die baan aan. In by die hek, gryp die rand net betyds toe die skoene onder haar wil uitglip en beland darem nie onelegant op haar sitvlak soos sy gevrees het nie.

“Knak jou knieë effens. Verplaas die middelpunt van jou gewig effens vorentoe, tussen jou knieë. Tone so êêêfens binnetoe gedraai. As jy wil stop, lig jou hak en druk die wiggies in die ys.” ‘n Vriendelike skaatser gee gou raad en skiet weer weg. Dit klink maklik genoeg. Sy probeer. Hou die hand net so rakelings bokant die pyprand vir ‘n noodgeval. En daar gaan sy. Wankelrig, maar tog. Die ligte yswindjie teen haar gesig is soos ‘n oorwinning.

Net gou haal die Goue Vroue haar van agteraf in. “Kom haak in, dan vorm ons ‘n ry,” nooi hulle haar. Braaf gee sy haar oor aan die vriendinne. En besef te gou haar fout. Sy is nog nie vaardig genoeg om hulle vaart te handhaaf nie.

“Stop! Stop! Stop! Dis te vinnig vir my!” Sy steek haar toon effens in die ys soos die aanwysings vir haar gegee is, maar kom tot ‘n doodstop, nie ‘n geleidelike een soos sy verwag het nie. Die Goue Vroue verloor die een na die ander hul balans, skiet links en regs uitmekaar. Op daardie oomblik haal die jagende skaatsers hul in. Dit val en pootjie mekaar dat mens net ‘n mallemoes van bene, arms en lywe sien. Die musiek kom tot ‘n plotselinge einde. Lewensredders storm op die baan. Divas gil van woede. Klein kindertjies skree vir hul mamma’s en langs die baan lag die toeskouers dat hul trane loop.

En daar, in die middel van die chaos, met haar sitvlak seer geval en nat van die yswater, besluit Appeltjie, genoeg is genoeg. Haar waardigheid klaar aan skerwe, kruip sy soos ‘n baba na die kant toe. Selfs dit gaan glip-glip en sy moet haar naels in die ys ingrawe om traksie te kry saam met die wiggies van die skaatse.

Rooi in die gesig, en dis nie van hitte nie, haal sy die kant. Trek haarself om sodat sy plat sit en begin die skaatse uittrek. Sedig stap Seegogga nader. Sy hou haar selfoon uit en wys die video wat sy ongemerk geneem het. Dis skreeusnaaks en Appeltjie begin lag, al bibber sy van die koue.

Skaats? Nope, nooit weer nie. Miskien sal sy meer geluk hê by die Casino?

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

13 thoughts on “Yskaats

  1. Appeltjie,jy is dapper! Ys is nie net yskoud nie,dis ook kliphard en dan is daar boonop die benoudheid dat skaatsers jou met hulle lemme sny as jy in ‘n nat bondeltjie op die ysbaan lê!

    Liked by 1 person

  2. Ek hou tog so van ysskaats! Dis sowaar iets wat ek dink ek nog kan doen… Het as jong meisie lesse geneem en later jare steeds af en toe gaan probeer. Jy het vir groot opwinding gesorg, Appeltjie.

    Liked by 3 people

  3. Ek het nou heerlik gelag. Gekruip? As dit waar is, wens ek ek was daar om dit te aanskou. Maar, ek sou dalk ook. Die grond is nader as mens val. En glo my, dit was my vrees in Kaz. Nie om te val nie, maar om nie weer op te kom nie.

    Like

  4. Ek is mal oor skaats, het vir baie lank gedoen. Was in my noppies op die ys, my maatjie op laerskool in Rynfield se pa het skaatsbaan gehad op Boksburg, daai groot een en ons was elke dag daar. As student het ek minstens 3 keer per week gegaan, ek was mal oor die ys, val en nie val.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: