Krismis chaos op Rebusfontein

Fireworks, Sparkle, Sky, Glow, Explode, Shimmer

Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne/Goue Vroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en  onverklaarbaar. As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/1109950914194acc97921a784266b3ec

Dis warm.  Baie warm.  ‘n Somerkersfees-in-Afrika warm.

Die Goue Vroue sit langs die lang kersfeestafel.  Dit kreun onder die versnaperinge. Van die soort wat mens kan eet en drink. Liggies hang aan die takke van die bome. Die flikkerligte verleen ‘n magiese, feestelike atmosfeer. Die Goue Vroue is besig met die versierings. Hoedjies gemaak van blare en blomme hang aan elke stoel, gereed vir opsit. Die klappers is in wording. Veelkleurige papier is klaar in stroke gesny. Die plofstrokies wat binne-in kom is klaar getoets en dit maak ‘n heerlike knal.

Faye, Dawie, die Snauzers Bismarck en Vlekkie, Seppie en die katte sit en bekyk die storie. Vroeër die middag het hulle besluit om hulself die Reënboognasie te noem. Nou is hulle hoogs verveeld. Eenkant onder die boom lê Blommetjie en herkou langs Santie. Rocky en Blitz het besluit dat dit rustiger is om by hulle te lê as om by te hou met die woeliger klomp se manewales. Danie en Francis staan en bekyk ook die vroue se doen en late. Maar tog hou hulle uit die hoek van hul oë die eenkantgroepie dop. Danie sug. Hy is net lus vir platval en snork. As daai klompie jonges nou weer met iets begin, sit hy vir Francis op hulle. Daai oë kan deur staal kyk. Vroeër die dag moes hy juis vir Pixel en Packman gaan red toe hulle histeries geblaf het omdat hulle in die hoenderhok toegesluit is.

Dis ook nie lank nie, of daar’s ‘n roering onder die Reënboognasie groep. Die koppe sit suspisieus na aan mekaar en ‘n gefluister ruis saggies. Dan word daar op, onder en langs die kant gekyk. Vlerkies wapper, sterte swaai en koppe knik. Yip, dit gaan interessant wees.    

Onskuldig verdwyn die katte die boom in. Faye sweef oënskynlik doelloos bokant die tafel rond. Dawie, Bismarck en Vlekkie drentel stadig na die kant van die tafel en Seppie neem stelling in op die punt. Meteens bars daar ‘n kabaal los. Die katte swaai gillend soos wafferse Ninja’s aan die liggiedrade deur die lug. Die honde blaf en gryp vinnig elkeen ‘n kershoed van die stoelruglening af. Hulle hardloop na die diere onder die boom en prop ‘n hoed op elke stomgeslaande dier se kop. Seppie kruip onder die punt van die tafel in en lig dit vinnig op,net genoeg dat die rolletjie plofstrokies in die lug op vlieg. Behendig vang Faye dit en skarrel weg, maar toe gebeur die ondenkbare. Die liggiedraad breek onder die gewig van die katte en dit swaai deur die lug. Dit kring om die plofdraad net toe die vonk spat en daar begin die plofdraad ontplof. Arme Kerfie (soos kersvader genoem is) en sy bokke se senuwees is nog gespanne van hulle val op die aarde en hulle duik onder hulle stoele in toe die klein ontploffinkies begin.

Die Goue Vroue raas met hul diere, praat deurmekaar van skrik terwyl hulle probeer om skadebeheer toe te pas. En tipies Una, begin sy lag. Sien sy die snaaksigheid in die situasie in. Kort voor lank is almal aan die lag. Dit was werklik ‘n snaakse gesig, die miaau-gillende katte wat so aan die draad swaai. En dit gee mens sommer die idee dat daar ‘n foefie-slide gebou moet word na die dam op die meent. Hierdie swaaiery kan mos net pret word.

Christa, Woordnoot en Appeltjie neem ferm beheer van die balhorige diere. Alles moet opgetel en netjies reggesit word. Maar dis moeilik om hul glimlagte weg te steek.

Sal hierdie kersfees ooit wees soos wat dit veronderstel is om te wees?

 

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

9 thoughts on “Krismis chaos op Rebusfontein

  1. Appeltjie! Ek sit met ‘n lekker laggesig en lees hier. Ek sien presies wat aan die gebeur is. Ek het gedink hulle gaan die tafeldoek trek om van die eetgoed in die hande te kry! 🙂

    Like

  2. Appeltjie, ek is mal oor die prentjies wat jy so met woorde kan skep! Janee, jy het hier ń tipiese Rebus-kuiery beskryf, en ja, ons klomp diere het defnitief ons ondeuendheid aangeleer.🤭🥰

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: