Maandag=Wasdag: ‘n besonderse persoon.

Scarpy vra ek moet skryf oor ‘n besonderse persoon.

mamma, in ‘n uitrusting wat sy self gemaak het.

Ek dink aan my ma, eerste en die vinnigste. En dan is daar my gewese tikonderwyser op hoërskool, oom Fanie du Plessis. Wat vir my Abram gesê het omdat my eerste doopnaam Abrahama is. Hy het rustig en ernstig vir die seuns voor hul meisies gevra: Sal jy met haar wil trou? En tannie Annet, wat my weer korrek leer praat het, wat rondloop katte versorg het en liefdeswerk gedoen het onder die armes van my grootworddorp, Bredasdorp. Sy is later wreed verkrag deur een van daardie einste armes en het die dorp verlaat.

Maar Mamma is ‘n persoon oor wie ek lankal wou skryf. Sy was die laatlam 3de dogter van Martiens en Braampie Swart. Haar naam, Martien, het sy dan ook van haar pa gekry . Ek is na ouma Braam vernoem. Mamma was ‘n sterk vrou. Sy het grootgeword as ‘n rykmansdogter en het haar getroude lewe begin saam met ‘n man wat alles van voor af moes opbou. Daarom het sy begin om vir ons klere te maak. Sy het tuin gemaak met wasgoedwater want die plaas het nie natuurlike vars water gehad nie. Ek het by haar geleer om hoenders te versorg, hoe om ‘n tarentaalkuiken groot te maak, om brood te bak en kos te kook. Ons moes leer melk karring vir botter, heuning uitdruk en smelt oor stadige hitte, kaiings maak, wors stop, koekies bak vir die skoolvakansie. Ek en my sussie het later by dieselfde tafel met die Singerhandmasjien geleer naaldwerk doen.

Dis sy wat die musiekjuffrou gaan vra het om met musiek te begin omdat ek my boetie se musiekstukke op gehoor begin speel het. Sy het ons ruggie regop gemaak en gewys hoe om asem te haal as jy hoog wil sing, waar om die klank te plaas. Ek sien haar voor die klavier in die klein sitkamertjie, waar ons almal Sondag bymekaarkom en liedjies sing terwyl sy begelei. Mamma het elke 3de naweek Worcester toe gery (amper 4 ure op pad soontoe en terug) om my gehoorgestremde boetie te gaan haal. Sy was trots op elke kind van haar se eie unieke sterkpunte. Ek kan nie een dag onthou waar sy ons vergelyk het nie, op geen gebied nie.

Mamma het saans vir ons uit die kinderbybel gelees, tot ek groot genoeg was om dit te doen. Daarna het my boeties en sussie op my bed gesit terwyl ek voorlees. Mamma het skinkbordjies met tee en koekies aangedra as ‘n mens siek was. En, heerlikheid op note, jou bed vir jou opgemaak. Toe my klein dogtertjie op 5jaar een nag bitterlik siek was, het sy gehuil: “Ek wil na my ouma toe gaan. Sy weet hoe om na ‘n siek mens te kyk.”

Mamma was die verpersoonliking van die onderdanige vrou. Pappa se wens was haar begeerte. Met stilte sou sy verdra as hy moeilik was, verskonings vir hom soek. Die huis en kos moes gerieflik en heerlik wees sodat hy gelukkig kan wees.

Toe ek en my pap babatjie van 6 maande terugkeer na ‘n mislukte huwelik, het sy my vasgehou as ek gehuil het, maar nie lelik gepraat van mense nie. Is sy die een wat vir my gesê het om nie lelik van die pa te praat voor my klein dogtertjie nie.

Mamma moes vir ongeveer 20 jaar boervrou wees terwyl my pa met sy hiper-intellek die land se boere op nasionale gebied verteenwoordig het. Sy moes boer, kinders grootmaak, die vort hou terwyl Pappa in Pretoria, PE of Bloemfontein was. Dis dan ook die Wolraad wat my ma geëer het saam met my pa op die oorkonde wat hy gekry het vir sy lewenslange bydrae tot die landbou.

Sy kon ook haar voet ferm neersit as dit nodig was. Sy vertel gereeld hoe sy die linte afgesny het van die eerstelingbabatjie se klere. Ouma het aangedring, dis soos baba’s se klere moet lyk – vol linte wat alles vasmaak. Mamma het vasgeskop en dinge verander. Toe sy vir haarself klere moes maak, het sy aan nuwe idees gedink sodat sy uniek kon wees.

Mamma met haar besonderse sangstem, fyn smaak vir klere, sagmoedigheid, vergewensgesindheid, liefde vir elke kind en kleinkind. Mamma, nou by Jesus waar sy saam met die engele sing en aanbid. Mamma, ek eer jou.

Mamma, ek , liefsussie Celia. Deesdae is ek net so grys soos hulle

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

4 thoughts on “Maandag=Wasdag: ‘n besonderse persoon.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: