Seekoei vir Rebusfontein

Hippopotamus, Zoo, Young Hippo, Hippo

Daar is ‘n woeligheid op Rebusfontein. Die permanente diere inwoners ontspan rondom die meent. Lemmie, Grietjiekat en Flookie speel wegkruipertjie en aan-aan in die bome. Bekkie is die skeidsregter. Met haar ogies wat so fyn kan kyk, stry niemand nie. Faye hou vir Santie en Blommetjie geselskap. Haar vlerkies gaan nie die woeste gejaag in die blare en takke hou nie. Santie en Blommetjie voel in elk geval dat die mid-oggend hitte ‘n goeie tyd is om te staan en herkou. Al die grasse en bome en bosse bied ‘n groot keuse van eetgoed en hulle is versadig. Danie stap soos ‘n sammajoor rondom sy domein. Veiligheid is eerste, ook op Rebusfontein.

Dan hoor almal ‘n vreemde voetval. Asof afgespreek kom almal tot stilstand. Die koppe draai na die paadjie wat van die berg se kant af om. ‘n Snaakse spitsgesig diertjie met ‘n gladde vel en ‘n sagmoedige glimlag skommel rustig die paadjie af. Soos hy stap, kyk hy links en regs, proe hier en daar en spoeg sommige blare uit. Dan sien hy die groepie diere wat voor, langs en bokant die dammetjie op die meent staan, sit en hang. Vriendelik maak sy bekkie oop om almal welkom te heet. Toe die diere die geweldige gaping en snaakse oneweredige tande sien, laat spat almal in verskillende rigtings. Dis vervlaks groot genoeg om ‘n paar koppe gelyk te hap.

Blommetjie bly egter staan. Haar maag is vol gevreet en haar uier voel na oorloop. Melktyd is naby. Dapper staan sy ‘n tree vorentoe. Tot haar grootste verbasing gaan sit die snaakse diertjie op sy agterent en groot trane rol langs sy wange af. Dit plof op die grond dat die stof so staan.

“Waar kom jy vandaan? Wie is jy?” vra sy in universele dieretaal. Die diertjie het ‘n hartseer storie om te vertel. Hy dink hy is ‘n seekoei. Hy was deel van ‘n klein troppie diere anderkant die berg, waar daar ‘n groot droogte heers. Die troppie diere het begin stap om na ‘n nuwe watergat te soek. Hy het agtergeraak omdat hy te dors geword het. Toe hy weer sien, was hulle weg. Hy het afgedraai van die gewone pad af om koelte te soek, het lelik verdwaal en toe hier beland. “Mag ek ‘n slukkie water kry asb? Of dalk ‘n bekkie vol melk? ” vra die diertjie baie mooi.

Blommetjie staan en bekyk die saak. Sy is ‘n koei en hierdie diertjie sê hy is ‘n koei, ‘n seekoei, so hulle moet sekerlik familie wees.? En om ‘n bietjie van haar melk met hom te deel sal sekerlik nie ‘n probleem wees nie? “Sê my eers wat is jou naam, dan praat ons oor melk,” mooee sy vriendelik. “Seppie,” kom die antwoord dadelik.

Blommetjie het al meer as een kalf gesoog. “Kom vat maar ‘n slukkie, Seppie,” nooi sy uit. Wat haar volgende tref het sy nooit verwag nie. Die baba seekoei bestorm haar, gryp sommer 2 tepels van die uier en begin hongerig suig. Blommetjie probeer nog haar staan kry, toe stamp die baba om die melk vinniger te laat sak. Die krag van die stamp laat haar haar staan verloor en sy val om, met die baba agterna, nog geanker aan die tepels. Hierdie baba is sterk en honger. Voor sy haar stem terugkry, staan die baba terug, lek sy lippe af en vra: “Is daar nog?”

“Santie!” gil Blommetjie en sukkel terug op haar voete. “Het jy nog melk?” Fluks kom Santie aangedraf. As Blommetjie kan, sal sy ook kan. Maar hoe hulle ook probeer, sy is net te na aan die aarde. Seppie pas nie in nie. Danie, die planmaker, het intussen ook braaf bygekom na die affêre en hy sien die oplossing. As Santie nou wydsbeen op die trappies staan en Seppie sak effens af op sy kort voorbene, kan hy dalk bykom. So gesê, so gedaan. Net soos Blommetjie moet Santie haar staan ken, maar uiteindelik lyk dit of Seppie se dors vir eers geles is.

Danie die Sammajoor op sy stukke.

Die ander diere kom nader om kennis te maak. Blommetjie is hoogs in haar skik met die nuwe familielid en neem verantwoordelikheid vir hom. Danie stel ‘n skedule op vir melkdrinktyd en die ander maak beurte om met Seppie te speel. Slaaptyd daardie aand skuif Seppie styf teen Blommetjie aan. Môre is genoeg tyd om Seppie te leer hoe om weer ‘n seekoei te wees.

Wat gaan die mense van Rebusfontein van Seppie dink? Die tyd sal leer.

foto van Danie geleen by Una.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

22 thoughts on “Seekoei vir Rebusfontein

      1. Ekself is ietwat versigtig om te naby Blommetjie en haar vol uier te kom, so Seppie is die antwoord! En natuurlik kan Toortsie ook toe-oë melk.

        Liked by 2 people

  1. Seppie! Ek is mal oor jou! Jy het karakter, sommer kleintyd al. Jy moesnet op Rebusfontein uitkom. Ons het plek vir jou. En water! ‘n Hele dam vol. 😁 Ek is so bly oor jou. Ek wou al lankal ‘n seekoei na ons dorpsdam op Bredasdorp invoer, maar nou is jy hier op Rebusfontein. 😁👏🏻👏🏻👏🏻

    Liked by 2 people

    1. Dankie Tannie. Sien uit daarna om vir julle almal te ontmoet.
      (hierdie is vertaal uit Universeel Dieretaal na Afrikaans. anders het dit so geklink: ugghh ooef uug aaaaa pffffffffffffffffffffffffffff)

      Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: