Maandag=Wasdag36: Hoor en sien

I shut my eyes in order to see. - Paul Gauguin

Scrapy het hierdie uitdaging geplaas.

As onderwyseres is ek geleer om waar te neem. Wat ‘n kind doen of nie doen nie; wat hy sê of nie sê nie. Dit is die basis van leer en opvoeding My hoor en sien gaan dus oor waarnemings.

Soms lewer hierdie waarnemings uiters snaakse oomblikke op, vir my in elk geval en die oomblik is binne ‘n konteks gesien. Baie van my kinders funksioneer op ‘n letterlike vlak. Ek vra in die assessering – na baie oefening in die klas: ek is rond en het geen hoeke nie. Wat is my naam? En ou slimme antwoord: Adri.

Maar ook die hartseer is teenwoordig: Die kleintjies moet mondeling praat – wys en vertel. Ons gee ‘n voorbeeld van yogurtmelkskommel en ‘n toebroodjie. ‘n Nota gaan ook huis toe. Ons demonstreer en skryf van gebruik soveel woordeskat as moontlik; rasper, fyn of grof, wat in die produkte is goed vir jou; waarom maak jy die spesifieke keuse. Ons stuur hordes voorbeelde van die onderwerp oor die whatsapweb groep vir die ouers wat nie agtergrond het vir oorspronklike idees nie. Nogtans staan die dogtertjie agter haar tafel, besig om haar toebroodjie te maak. Die sinne wat uitkom is power. Ek probeer haar aanmoedig, vra vrae toe sy die kaas rasper: Die rasper het mos growwe, fyn, snykante. Ek vra haar: aan watter kant rasper jy die kaas? Sy kyk op na my en sê en wys: aan hierdie kant. Ek kon nie verder nie. Hoe maak jy so ‘n koppie wakker?

Ek sien as die seuntjie verder in bank wegsak as die onderwerp gaan oor my gunsteling speelding. Die res van die maatjies bring hul poppe, karretjies, lego saam. Langs sy bank staan ‘n doodgewone boks. Toe hy begin huil toe dit sy beurt is, roep ek hom eenkant toe. Wat is die probleem? Hy reken die ander maatjies het beter goed as hy gebring. Ek gee hom kans om te begin met sy ruggie na hulle toe en my mond val oop. Sy gedagtes is soveel meer ontwikkel en kreatief as die maatjies s’n. Hy sien die moontlikehede in van die boks – die kar, die ruimtetuig, die muur waarop hy kan skryf, die opknip en verander in ‘n oorspronklike speelding. Daardie dag is hy die enigste wat 10/10 kry. En ek gee hom die kans om dit weer vir sy maatjies te vertel. Noem aan hulle hoe oorspronklik dit is. Die uitdrukking op die gesiggie daarna is kosbaar. Dit is ‘n potensiaal wat ontwikkel moet word.

Maar tussen dit deur, sien en hoor ek hoe my lieflike kleindogter ontwikkel – sy kan handjies klap, kruip. Sy hoef nie duur speelgoed te hê as sy kyk hoe ouma ‘n leë sjampoebotteltjie oopmaak nie; of melkdoppies in ‘n koffieblik gooi nie; alledaagse huisgoed in ‘n leë roomysbak bêre nie. En ek voel die nat mondjie teen my wang, die armpies om my nek as sy haar liefde vir my wys.

Ek sien die liefde in My Geliefde se koppie kookmelkkoffie, hoor dit as hy vra of die aandete lekker genoeg was.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

7 thoughts on “Maandag=Wasdag36: Hoor en sien

  1. Uitstekend, presies hoe dit in die klas gebeur. Mens moet aanhoudend kyk en hoor of luister om te weet waar gehelp kan word. Dis regtig n pragtige stuk hierdie, sommer lus en stuur dit vir my kinders om te wys dat die duurste persente of kleertjies is nie die waarde van egte self gemaakte speelgoed nie. Kinders geniet dit baie meer om met n box te werk wat hul kan gebruik soos hul wil. Sterkte met jou roeping om die kindertjies te onderrig.

    Liked by 1 person

Leave a reply to scrapydo2.wordpress.com Cancel reply

Design a site like this with WordPress.com
Get started