Maandag=Wasdag 34: Musiek

Scrapydo het hierdie uitdaging geplaas. En dit kan nie nader aan my hart lê nie.

Ek het al heelwat geskryf oor my liefde vir musiek. Ek onthou die musiekprogramme op radio wat altyd in my ouerhuis gespeel het. Loof die Here op Sondagoggende; U eie keuse op Saterdagaande. My dogtertjie het grootgeword daarmee en vandag word Loof die Here ook in haar huis gehoor.

Maar ek moet my storie van die orrel vertel. Soos voorheen geskryf, het ek op Stanford musiek gegee. Een Donderdag kry ek ‘n oproep van die NGKerk se orreliste af. Sy moet vir ‘n paar weke weggaan en kan ek asb die orrel speel. My hart juig, my brein sug. Nog nooit het ek aan ‘n orrel gevat nie. Dis nie so moeilik nie, sê die tannie, wil ek maar nie probeer nie. Ek stem in. Mens kan mos maar net probeer. So ontmoet ons mekaar by die lieflike klipkerk. Mens ruik die rustigheid en koester die koelte van die binnekant van die kerk.

Tannie Hilda rol die orrel se flap oop. Sy verduidelik van die vlakke, die swel, die groot, die voetnote. Sy druk knoppe met voorafstellings om keuses makliker te maak. Sy wys die volumeklanke wat met die voete hanteer word. En toe sê sy vir my: sit en probeer net self, voel die note, laat jou vingers gly in lang klankstrofes. My vingers raak-raak aan die heilige instrument, my voete vind die lang pedale. hak-toon, hak-toon laat sy my die voettoonleer speel. My hande, voete, brein en die orrel vind mekaar. Die musiek wat opklink vul die leë ruimte in die gebou. My siel juig en kom tot ruste. Ek het my niche gevind. Vrydag na skool en Saterdagoggend oefen ek. Daardie Sondag sing die gemeente tot lof van die Here onder begeleiding van my orrelmusiek.

Van daar af het ek al vir baie troues gespeel, vir verskeie gemeentes en denominasies. Desembervakansies op Waenhuiskrans was my permanente plek agter die elektriese orrel in die klipkerkie. Met familie se begrafnisse en later selfs my broerskinders se troues, was dit my voorreg om die orrel te speel.

My Geliefde het my agter die orrel in Grabouw se NGKerk gevind – net soos ek die Liewe Vader gevra het.

Hoe sal my lewe sonder musiek wees? Ek sidder. Ondenkbaar.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

8 thoughts on “Maandag=Wasdag 34: Musiek

  1. Baie dankie vir jou vertelling. Ou Fonnie du Plooy se tot middernag slaan en U eie keuse was ook my heerlike luister tyd gewees. Dis so lekker om te lees hoe jy jou uitleef in die orrelspeel en in musiek. Wat sal mens sonder musiek maak?

    Like

Leave a comment

Design a site like this with WordPress.com
Get started