Dawie

Die Geliefde het ‘n Yorkie gehad – Bennie. Bennie moes aan die slaap gesit word weens siekte en ouderdom. Hy sou nooit weer gesond word nie. Toe ontmoet Die Geliefde vir my en ons vul die leë gaatjies in mekaar se lewe. Maar die lewe gaan aan, ek moet skool toe gaan en die dae raak lank. Die gemis na ‘n asempie om die lang eensame dae korter te maak raak al groter en ons begin soek na nog ‘n Bennie-hondjie.

Ons kry een in die Oos-Kaap. Die pa is ‘n familielid van oorlede Bennie en die kleintjie lyk baie na hom, volgens ons informant. Na wik en weeg, besluit ons om die hondjie te neem. Dadelik begin die soek na ‘n naam. Die Geliefde hou van ‘n mensnaam vir sy hondjies. Ons gaan deur vriendename, familiename, sterk name en Dawie val reg op die oor. Klein genoeg vir ‘n klein hondjie en sterk genoeg vir ‘n hondjie met ‘n persoonlikheid.

Ons ry Oos-Kaap toe. Na Hofmeyer. Nog nooit voorheen van die plek gehoor nie. Dis ure se ry ver. Eers ry ons verkeerd en kom uiteindelik half 6 die aand daar aan. (Dis ‘n storie vir ‘n ander dag). Ons kry vir Dawie. Die Geliefde is verstom. Dawie lyk op ‘n druppel water net soos sy geliefde, oorlede Bennie. Ons vryf, hou vas, vertroetel, straal liefde uit en Dawie neem ons aan.

Met die lang pad terug kom ons agter dat hy eintlik maar nog net ‘n babatjie is. Hy raak motorsiek. ‘n Paar keer. Oor my nuwe hemp en skoon broek, die sitplek en die vloer. Ek vee op en troetel en gee druppels water om die keeltjie te streel. Maar later moet ons tog ‘n paar keer stop om hom te help verlig.

Bekommerd whatsap (dankie tog hiervoor) ek my vriendin Jacki. In haar vorige lewe was sy ‘n vee-arts maar tans is sy Engels onderwyser by ons skool. Stres, laat weet sy my, vreemde mense, eerste keer in ‘n voertuig. Gee maar net eers bietjies water tot julle stop vir die dag. En gee baie liefde. Dit sal oorgaan.

Toe ons uitspan vir die aand, gee ek my bemorsde hempie vir Dawie om op te slaap. Hy het immers die hele pad op my skoot geslaap en ken die reuk. Die Geliefde sê ferm ons moet hom nie bederf nie, hy slaap op sy plekkie. Na die lig af is, raak hy vinnig aan die slaap. Bestuur is moegmaakwerk. Aanvanklik lê Dawie rustig op die hemp en toe hoor ek die eerste kla-tjankie. Sjuuuuuut, ek’s hier, roep ek saggies. Maar met die derde ietwat harder tjankie, gaan trek ek die hemp tot voor my bed en laat sak my arm. Foeitog, hy mis seker sy ma en sussies. Maar nee, hy klou aan my hand en tjank verder. En toe hoor ek Die Geliefde se slaperige stem – tel hom tussen ons op die bed, ek wil slaap. Ek tel Dawie met hemp en al op, sit hom tussen ons neer. Dawie draai ‘n paar keer in die rondte, snuffel aan beide van ons en raak aan die slaap.

Die volgende dag ry ons verder. Dawie het net ‘n klein bietjie kos en genoeg water gekry. Ek wil hom nie weer naar laat word nie. Maar toe wil hy nie op my skoot of op die vloer sit nie. Hy kruip op tot teen my skouer soos babas doen en daar klou hy vas. My arm is later seer vasgehou. En dit bly ook nie daar nie. Hy wriemel homself verder op tot hy pens en pootjies regoor my nek en skouers lê, tussen my en die sitplek. En daar slaap hy vir lang tye. My nek was later seer. Yorkies hou van hoog lê omdat hulle so klein is, verseker Die Geliefde my. By die vulstasie gee ek Dawie oor aan sy baas sodat ek kan bene rek. Met die terugkomslag vind ek Dawie op die paneelkissie. Heel rustig. Geborge met sy nuwe mense.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

3 thoughts on “Dawie

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: