Ek en Die Geliefde ry Oos-Kaap toe om ons nuwe Yorkie-hondjie te gaan haal. Maak sommer ‘n vakansie road-trip daarvan. Daar kan heelwat stories uit die rit vertel word. Wat my egter erg gevang het, is die verlatenheid van die Karoo. Ons rit terug begin in Cradock. Aanvanklik is die Karoo bossies groenerig. Daar was in die afgelope maande reën. Die helder-groen doringbome wys duidelik waar die ondergrondse riviere loop. Hier en daar kan mens selfs ‘n poeletjie water in ‘n rivier gewaar.
Maar toe, eensklaps, ry ons in die droë deel in. Rooi windwarrels hardloop oor die pad. Nêrens gewaar mens enige dierelewe nie. Oral is daar vervalle huise wat die landskap ontsier. En toe sien ek die volgende: ‘n lieflike plaashuis, ooglopend leeg maar nie vervalle nie, omring deur groen doringbome en ‘n windpomp wat woes draai. Dit was so teenstellend – die lewe in die huis wat leeggeloop het as gevolg van die jarelange droogte, die mense wat moes weg, teenoor die lieflike groen van die bome wat nuwe lewe toon en die windpomp wat lewendgewende water pomp. Hoe lank moes die mense uithou voordat hulle nie kon meer nie? Sou hulle kon terugkom? Wie het die windpomp losgemaak? Of loop die wiel maar net in die rondte sonder dat daar enige water kom? ‘n Valse teken van lewe?
My hart was stukkend.
Verder aan is daar ‘n ooglopend moderne huis. Ook leeg en verlate. Die draad rondom die gedeelte wat die tuin afbaken, is stukkend. Nog ‘n slagoffer van droogte.
En tog, hoe nader ons aan Willowmore kom, hoe meer sien ons skape raak. Die Geliefde verduidelik. Die skape eet die grysgroen bossies. Hulle ken nie gras nie. Die bossies gedy met min water. In die gebiede waar besproeiing plaasvind en geploeg en geplant word, lyk dit of daar baie kos is. Is so ja, maar sodra die reën vir een jaar wegbly, kan daar nie geplant word nie en ly die skape onmiddellik honger. Die karoobossies kan uithou en uithou en die insetkostes is baie minder vir die boer.
So, die karoobossies het uitgehou en uitgehou, maar tog moes hulle ook swig voor die aanhoudende droogte. Die wind begin nou die bogrond wegwaai in windwarrels.
En in ‘n kolletjie tussen groen bome en ‘n warrelende windpomp, wys die verlate huis dat die droogte nog ‘n slagoffer geëis het.
Daar is selfs in die Weskaap nog damme met minder as 10% water in; sommige selfs dolleeg.
LikeLike
Die hartseer was om die amper skielike oorgang van groen na absoluut stofdroog te sien.
LikeLiked by 1 person
Jip, dit ook hier naby gesien, te midde van milde reëns. Dit val nie anderkant die draad nie, lyk dit my.
LikeLike
Ek kan nogal verstaan hoe jy gevoel het.
LikeLike