En die ogies gaan toe

Dis so hartseer om dit waar te neem. Hoe die ogies toegaan voor my in die graad 2-klas. en nie omdat hulle vaak is nie, maar omdat leerstof nie ingaan nie, die begrip net eenvoudig nie daar is nie.

Klink dit wreed? Veroordelend? Ononderwyserig? (ek moes hierdie aaklige woord skep, dit pas by my gemoed.)

Covid is met ons, ja. Dis ‘n pandemie. By ander skole in wie se leerderhuise geld meer beskikbaar is, is daar internet, drukkers, volwasse ondersteuning. Maar hier waar die Here my met ‘n doel geplaas het, is daar nie geld vir drukkers en privaat oppassers en onbeperkte toegang tot internet nie. Ek kan nie video-call klasgee nie.

Maar selfs dit is nie my probleem nie. My probleem is met die volwassenes wat na hierdie kleintjies in my klas moet kyk. Die volwassenes wat weet dat hulle kinders elke 2de dag skool toe kom en dan werk het vir die alternatiewe skooldag, maar wat nie toesien dat dit gebeur nie. Die volwassenes wat verantwoordelikheid moet neem vir hul kinders se akademiese vordering in die buitengewone tye en dit nie doen nie. Die volwassenes wat nie reageer op briefies en boodskappe in boeke en dit sien as ‘n noodoproep nie, wie se enigste antwoord is: ek het die briefie nie die eerste keer gekry nie.

Vanoggend staan ek weer verstom in my klas: 2 leerders het geen werk gedoen nie. En net gister moes ek hul verslaggies skryf, probeer verwoord hoekom daar druipsyfers is vir Huistaal en Wiskunde. En het ek benoud geraak oor hoe ek die kinders deur hul graad gaan kry. Gaan dit regverdig teenoor ‘n kind wees om haar net eenvoudig te laat deurgaan? Ek kyk na die 2 kinders voor my – net 8 jaar oud. Maar selfs nou al het hulle geleer dat as hulle oneffektief werk of niks werk nie, van die huis se kant af niks gedoen word nie. Dus raas ek, trap ek uit, wys ek hulle die swak punte op hul formele take, skryf ek nog ‘n rooi briefie (ergste vorm van straf), haal asem en hoop iets gaan in.

En dan begin ek met my werk. My rekenaar word soos ‘n groenbord gebruik. Lieflik in kleur, ek kan rondtrek, uitmekaarskuif, werk amper asof ek in my boek is. Kleur help met verduidelikings, die visuele is beter om begrip te vorm. En dan moet hulle saam met my werk, my volg, die antwoord eers in die koppie doen en dan werk, en dan as juffrou gaan kyk, gaan daar niks aan nie. My moed is nou al verder as verloor. Dit lê in die stof. Want die nuwe werk wat verlede week begin is in die klas, is nie vasgelê mbv die werkkaart by die huis nie, en nou is die volgende stap weereens net nog iets wat hulle nie kan doen nie, my moeite verniet.

Vir die eerste keer in my onderwysloopbaan loop ek uit my klas uit en huil in die gang. Vir my seer stem, vir die ogies voor my wat nie wil oop gaan nie omdat die lewe hul kniehalter, vir die blessit covid wat alles vererger. My skoolhoof kyk my, stuur my huis toe.

Dis nie my kinders nie, maar in my klas is hulle myne. En ek gee my alles. En nogtans bly daardie ogies toe. Nie soos die ander 10 wat sigbaar die proses kan volg nie, al is dit met ‘n fout hier en daar. Hulle ogies gee ‘n flikkering, het plek-plek oopgegaan. Dit moet my plesier verskaf, maar die 2 laat my soos ‘n mislukkig voel. Ek kan niemand agterlaat nie.

Môre sal ek teruggaan en hoop ek sien ‘n flikkering, hoe klein ook al. Om die foto in my brein te vervang van ogies wat toegaan.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

12 thoughts on “En die ogies gaan toe

      1. Ons het met ons sendingwerk op een kol 105 jongmense gehad wat ons “Mom & Dad” genoem en ons so hanteer het. En kleintjie het gereeld na my ‘wilde vrou’ toe weggeloop wat ‘n haai in haar kombuis uitgebroei het. hehehe

        Liked by 1 person

  1. My hart huil saam met joune, Appeltjie. Jy verrig ń taak wat ek nie sou kon nie, en ek bid dat jy nuwe krag by ons Vader sal kry.

    Like

  2. Wat kan mens dan doen om die kind self te kry om die werk te doen, sonder dat iemand anders eers moet aanpor. Raas en swak punte en agterbly is reg, maar soms is daar plek vir bribery and corroption, of dan net die bribery. Wat van n lekkertjie as die werk gedoen word? Eers net vir die 2, en as (!) dit werk, dan een keer ook vir die hele klas (net om die vrede te hou). Liefde aan n fantastiese, meelewende leeraar!

    Like

    1. Been there done that. Die outjies wat sê hulle het self gaan sit en begin, het ‘n grooot plakker gekry. Die outjies wat sê mamma het gesê en begin ek, kry ook ‘n plakkertjie. Ek maak hartjies in die boeke, prys, moedig aan. Maar net soms is daar te veel seesterretjies uitgespoel op die strand. Dit hang ook grotendeels af van die volwassenes in die kind se lewe. Op hierdie stadium van hul lewentjies in elk geval. Daarom neem ek die volwassenes kwalik. En hulle is die mense wat in ‘n onderhoud gaan nek styftrek en beledigings uitdeel.

      Like

  3. Ek leef saam met jou. Het self baie kerr geeonder wat kan mens nog ekstra doen om net die liggie te kan laat flikker. Dis baie swaar om te sien hoe die ogies so dof is van nie verstaan of kan nie. Ai, mens is so lief vir daardie outjies wat sukkel maar dis ook hartseer dat mens net nie hul bereik nie.

    Liked by 1 person

  4. Ek leef saam met jou. Het self baie keer gewonder wat kan mens nog ekstra doen om net die liggie te kan laat flikker. Dis baie swaar om te sien hoe die ogies so dof is van nie verstaan of kan nie. Ai, mens is so lief vir daardie outjies wat sukkel maar dis ook hartseer dat mens net nie hul bereik nie.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website at WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: