Skoollied

Ek het in my vorige blog geskryf oor my kennisname met blokfluite by Laerskool Okkie Smuts op Stanford in 1988.

Iewers aan die einde van kwartaal 2 noem die skoolhoof se vrou dat ek gerus vir die skool ‘n skoollied kan komponeer. Die een wat hulle gehad het was handgeskryf en verlore en in elk geval een van daai onsingbare goed.

My kreatiwiteit kry ‘n hupstoot. Ek speel rond met idees. Sien weer die leuse: Altyd hoër. Excelsior. En die nuwe melodie vat pos. Soos musiek maar maak in my lewe, vorm die melodie homself en gou het ek dit neergeskryf. Woorde skryf is nie my forte nie, dus neem ek my idee na ‘n kollega vir afronding. Maar ek benodig nog ‘n vers 2. Sy weet ook nie hoe verder nie, dus rus die lied eers ‘n bietjie.

Iewers raak die regpakker in my onrustig en ek takel die kassie in die hoek van my klaskamer. Pak jare se ou ingevulde teorieboeke uit; gooi ou afgerolde papiere weg; loer deur ‘n bitter-ou uitgawe van die FAK en vind daarin ‘n handgeskrewe stuk musiek – op ‘n halwe A4 grootte lyntjiesblad. Opgewonde neem ek dit vir die skoolhoof se vrou en wil jy nou meer, ‘n gedeelte van die verlore skoollied is gevind. Ek probeer die melodie neurie, maar dit wil nie reg val op die oor nie. En meteens besef ek, die ritme pas in by my nuwe skoollied. Net daar word vers 2 gebore.

Intussen moes die skoolhoof vir ‘n kwartaal met siekverlof gaan. Die skoolhoof se vrou is in haar skik met my nuwe weergawe en ons begin leer die kinders die nuwe lied. Op dag 1 van die laaste kwartaal stap die skoolhoof die saal binne. Net na sy groet, voor hy verder kon praat, val ek weg met die inleiding en die kinders laat dreun met trots die nuwe skoollied. Dit was ‘n aangedane oomblik toe die laaste note van Excelsior!!! deur die saal weergalm het. Ek onthou nou nog die gevoel van absolute ingenomenheid en vreugde en vervulling wat deur my lyf getrek het.

Aan die einde van die jaar met die prysuitdeling, is die nuwe lied amptelik in ontvangs geneem.

Dis ook opgeneem in die boek wat geskryf is oor die Baardskeerdersbos Boere-orkes. Van die lede was in Stanford op skool. My hoofstuk het gehandel oor die invloed van skoolmusiek op die lewe van gewone mense wat lief is vir musiek.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

7 thoughts on “Skoollied

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: