My liefdesverhouding met musiekinstrumente

Almal wat my ken, weet dat ek musiek en note verstaan. Klanke het ‘n afstand van mekaar af wat hulle voorspelbaar maak vir my. Die begeleiding van ‘n lied bestaan ook uit 3 basiese akkoorde, gevorm op note 1,4,5 met afwisselings na ‘n akkoord op noot 2 en wisselings tussen majeur- en mineur klanke.

Dis die groot rede hoekom ek vroeër as ander kinders begin het met musieklesse. Later het eie komposisies gevolg – ai, as selfone en opnemers maar net beskikbaar was in die jare 1970 – 1980 sou ek dit kon vaslê, maar nou is vergange se tye, vergange se tye.

Een van my klasmaats se ma was ook ‘n musiek onderwyseres. Sy het verskillende instrumente gehad – ghitaar en banjo onder andere. Ek onthou goed hoe ek een uitgaanmiddag in die koshuis gebly het om die ghitaar baas te raak. Die drukke (C G D A E F) moes ek oefen, die patroon en naam was bekend. Te heerlik om teen die aand die instrument terug te gee en te weet wat om te doen. Natuurlik het dit bietjie langer gevat om die oorgange vinnig te doen. Soos ek op ‘n ander blog gelees het, die “muscle memory” skop later in. Maar die bevrediging van musiek maak op ‘n nuwe instrument was onvergeetlik.

Nog ‘n oorwinning het gekom in die jaar 1988. Ek is jonk getroud en woon op ‘n plaas buite Stanford. Eendag word ek vertel van die laerskool daar – Laerskool Okkie Smuts – wat ‘n musiekonderwyseres gaan benodig. Die huidige een gaan weg. Ek gaan sien die skoolhoof. Vriendelik en ontspanne luister hy na my geskiedenis, na waarmee ek sal kan uithelp. My moed wil net opgee toe hy praat van UNISA musiekeksamens, maar hy vra mooi en ek willig in. Opgewonde staan ek op om te groet, om die nuwe klaskamer te gaan bekyk, die klavier te ontmoet. In die deur hoor ek die woorde: “O, so terloops, Mevrou, daar is 8 leerders wat blokfluit speel”. Ek het gevries. Blokfluit? In my lewe het ek nog nooit ‘n blokfluit vasgehou nie. “Toemaar, Mevrou, dis alles reg. Jy het 3 weke om te leer. Blykbaar is dit nie so moeilik nie.”

Ek het dadelik ‘n beginnersboek vir sopraanblokfluit gaan koop en my eie fluit. Vir 3 weke het ek soggens net sodra ek die huis vir myself gehad het, blokfluit geoefen. Linkerhand bo, regterhand onder, gaatjies suiwer toegemaak. Moenie hard blaas aan hoë note nie; eweredige asemhaling; doo-doo-doo en tu tu tu. Aan die einde van dag 1 het ek gehiperventileer. Maar in week 3 kon ek die laaste liedjie vlot speel.

Vol moed vir die nuwe uitdaging stap ek dus op dag 1 in my klaskamer in. Die eerste saalbyeenkoms is agter die rug – ek moes speel. Dit was nie ‘n probleem nie. My klavier is oop, die blokfluitstaander is gereed. Ek is hoogs opgewonde toe my eerste volwaardige musiekleerder instap. My oog vang die groot blokfluit. Ewe onskuldig merk ek op – sjoe dis ‘n groot een. Ja Juffrou, dis ‘n alt. Ek voel hoe die bloed in my voete afsak – die drukke van ‘n alt verskil van die van ‘n sopraan s’n.

Maar die eerste les het gekom en gegaan. Ek het verlief geraak op die klank van die alt, later selfs my eie gekoop. En later nog ‘n sopranino ook (die klein dun enetjie wat so suiwer bitter hoog sing).

Toe ek ‘n paar jaar later met my klein babatjie alleen ‘n nuwe lewe moes begin op Bredasdorp, het ek vir 5 jaar musiek gegee van my huis af. Klavier en blokfluit. Elke einde van die jaar het ek ‘n konsert gehou in my groot sitkamer. Elke leerder het iets gedoen, al moes juffrou die grootste deel van die musiek maak. My blokfluitgroep het wonderlike musiek gemaak en ons is ‘n paar keer genooi om op te tree voor gehore. Die verwerking van musiek is vandag nog iets wat my bloed laat bruis.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

2 thoughts on “My liefdesverhouding met musiekinstrumente

  1. Ek weet min van musiek af maar sien note in technicolour 3D. ‘n Gibson Les Paul, Rickenbacher, PRS of Telecaster maak volronde, eintlike elliptiese note terwyl ‘n Strat sulke lang lyflose plat nootjies het soos glas wat wil stukkend spat.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: