Musiek en skooltyd: skooltyd op Bredasdorp

Van so vroeg as wat ek kan onthou, kon ek sing en tydhou. Die wêreld om my het uit klanke bestaan. Ons het in ‘n motor gery, dan het ek die geluid van die wiele op die teerpad gehoor en hoe dit verander op die grondpad, die klik-klik van die rigtingwyser, die geluid van die sleutels as Mamma dit solank uithaal voor ons by die huis stilhou.

Ons kon begin met musieklesse by die skool in standerd 1. My broer het dus eerste begin. Ek het sy melodie gehoor, dit gememoriseer en toe begin soek na die note op die klavier. Ek hoor my ma roep: Henk kyk in jou boek. Toe sy inkom en sien dis ek wat amper die melodie bemeester het, uit my kop, sonder ‘n boek, het sy met tannie Meyers gaan praat en gou was ek in Sub B al ingeskryf om te begin met lesse.

Reeds in Sub A het my nootvastheid my in die skoolkonsert op die verhoog laat beland. Ek en Sonja, in Sub B, moes in ons nagrokkies op die verhoog staan voor die gordyn en die intreeliedjie sing: “Ou Vader Son het al gaan slaap en rustig kom die nag.” Daarna moes ek vinnig agtertoe om my dansrokkie aan te trek. Ek was in die groepie wat ‘n volksdansie moes doen in ‘n blou rokkie en ‘n groot wit pruik.

Juffrou Doret was ons sub A juffrou. Die juffrou in Sub B was maar ‘n moeilike mens en min kinders het van haar gehou. Sy het nog regte witbroodjies gehad wat sy gruwelik en openlik voorgetrek het. Haar naam kan ek nie onthou nie. Sy en die ander juffrouens het in die klas langs myne gesit en knope gemaak vir die soldaatjies se uniforms vir bogenoemde konsert. Die naald het op die tafel gelê toe hulle uitstap. Ek het in my kinderlike onskuld gedink om te help en toe hulle uitstap, vat ek die naald en druk ‘n gaatjie in een. Gou het ek besef daar moet eintlik twee in wees en myne is nou skeef. Vinnig is die naald neergesit en het ek weggedraai. Toe die juffrouens inkom, het sy die knoop so gekyk, my raakgesien en met ‘n nydige trek op haar gesig gesê: “jy hou mos nie van my nie en jy het nou ‘n knopie opgemors, so ek gaan dit op jou broer se hemp vaswerk.” Sy was een van daardie mense wat nooit moes skoolgee nie.

Die musieklesse het aangehou. Dit was iets wat my hele skoolloopbaan my keuses beïnvloed het. Moet ek netbal speel waar ek ‘n vinger kan beseer en dan vir weke nie kan klavier oefen nie? Moet ek tennis speel of tyd insit vir die musiekeksamen? In standerd 5 het ek die musiekklasse se sang begelei want ek was beter met klavierspeel as die musiekjuffrou. In die hoërskool het ek in standerd 7 my eerste gemeentebegeleiding gedoen in ‘n volgepakte kerksaal. Saam met Madele en Ronél het ons die saalbegeleidings gedoen. In graad 11 het ek my laaste musiek eisteddfodt gedoen en eerste gekom in die senior afdeling met 89%, die hoogste punt wat in die hele musiekafdeling toegeken is. Ek wonder tot vandag toe wat was die 1% wat ek moes beter doen om 90% te kry. Amper het ek dit in elk geval misgeloop, want die juffrou wat die beoordelaar gehelp het, het my en Madelé se strokies omgeruil. Gelukkig het Madelé dit betyds agtergekom en is die berigte reggestel.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

9 thoughts on “Musiek en skooltyd: skooltyd op Bredasdorp

    1. tannie Meyers was klein en sag. Haar hande was kleiner as myne. Maar sy het my toegelaat om te eksperimenteer en my musikaliteit te ontwikkel. die aanwysings was daar, maar sy het my toegelaat om my eie gevoel te ontwikkel.

      Liked by 1 person

  1. Sus Adri is vir my sinoniem met musiek. Sy speel enigiets van n traporrel in Waenhuiskrans se kerkie, tot die groot orrels in ou kerke. Wanneer ek naaldwerk doen, hoor ek haar op die klavier speel terwyl ek en Mamma materiaal knip, gare ruil, klere maak. Wanneer ek in die kerk sing, wens ek dat sy ons kon begelei – dit sal net soooooveel lekkerder wees. Toe drie van ons volgende geslag verlede jaar getrou het, het sy by twee die musiek gemaak in die kerk. So tronts op my Sus se uitstekende talent.

    Liked by 1 person

  2. Mooi musiekherinneringe. Ek glo musiek behoort n verpligte vak id laerskool te wees, nes lees skryf en reken. Almal behoort die geleentheid te he om note te lees en n instrument te bespeel.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: