Padtoer na Macgregor

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is image-30.png

Die geliefde het my ‘n ander manier van vakansie geleer – rondry en kyk. Padtoer. Ons moet in Robertson wees. Dis ‘n ander storie. Maar Donderdag is vakansiedag en my afspraak is vir Vrydag. Toe vra die geliefde, kan ons Donderdag oorslaap? Yip. En Vrydagaand? Yip. En dan sommer Saterdagaand ook? Dan ry ons bietjie rond en herken die omgewing. Daarna sien ek baie uit.

Vir jare het ons gesin die pad gery, Bonnievale, Robertson tot in Worcester waar my klein boetie in die Skool vir Dowes tuis gegaan het. En dan is daar die bordjie Macgregor. Dit het altyd na ‘n afdraai na nêrens gelyk. So nou gryp ek die kans om Macgregor te gaan besoek.

Mens kan uit Robertson ‘n teerpad neem tot daar, maar ons ry die agterpad. Stofpad. Dis Bossieveldwêreld, lyk al soos die Klein-Karoo. Soos ons ry, verander die berge reg rondom ons. Maar groot en majestieus is hulle nog steeds. Johannes Kerkorrel se rustige weergawe van “Al lê die berge nog so blou” dwaal deur my gedagtes. Die pad kronkel om heuwels en klein valleitjies. Op een plek loop die pad dood teen ‘n T-aansluiting. Links na Steenboklaagte, regs na Robertson. Ons stop en vra 2 vriendelike boere watter pad lei na Macgregor. Die oudste een lag. Mevrou, as jy aanhou ry en uitkom by Pietersburg, is jy te ver. Ons lag saam. Maar ons neem die effens langer roete deur die Strykhoogtepas tot waar dit by die Robertsonpad aansluit en links draai na ons bestemming.

Die mooi veldblommetjies loer vir ons in groepies langs die pad. Die plate pienk vygies wou net nie mooi uitkom nie. Die son was maar skaam vandag en het agter die wolke weggekruip, maar hierdie groepies het mooi saamgewerk en hul gesiggies mooi oopgemaak vir ‘n foto.

Rondom die rivierlope is daar wingerde en pruimboorde. Die pruimboom het ‘n spierwit bloeisel waar die appels pienk is. Die pruimbome se takke word, anders as ander vrugtebome, dwars vasgemaak aan die opleidrade. Die boom hoef dan nie energie te gebruik om regop te bly nie (aldus die geliefde) en kan dus meer pruime produseer. Die pale word ook skuins ingeplant, wat dit nog makliker om hierdie vrugte te pluk.

En toe kom ons om ‘n draai op Macgregor af. Ek wou nog vra of ons kan stop om die naam en datum op die brug af te neem, toe is ons al verby. Macgregor is ‘n mengsel van baie oud in die middel en aan die regterkant en nuut met behuisingsskemas vir armer persone en meer welvarendes aan die linkerkant. Die ou deel het nog rietdakhuise en randmuurtjies van klip, met ‘n tipiese Nederduits Gereformeerde kerkgebou in die middel. Links en regs van die hoofstraat is dit net stofstraatjies. Mens kry ook die indruk van “inkommers” wat naweekhuise het, want heelwat duur motors is geparkeer voor huise. En natuurlik het die meer kunstenaarstipe karakters wat die kleiner plekkies uitsoek vir hul “ambience”, van die klein huisies oorgeneem en vernuwe. Soos met Greyton en Napier en Stanford gebeur het. Tog is die armoede van die werkersklas ook duidelik sigbaar in die heelwat huisies wat herstelwerk nodig het. By een huis het die tannie haar tuinpaadjie gevee met ‘n rietbesem.

‘n klipmuurtjie by ‘n huisingang

Ons ry weg, op pad Bonnievale toe. Ons ry weer oor die brug en ek draai om en kyk terug. Nou kan ek ook sê, ek was daar. In Macgregor.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

9 thoughts on “Padtoer na Macgregor

  1. Op McGregor het ons jare gelede die NG Kerk se orrel se kompressor met ‘n slinger of ‘n ding gedraai; dit was middel 1980s. My oorle Ma se neef het daar geboer en my mense, ekself ook, kom van Worcester/Robertson/Montagu. My oorle oupa het Robertson se grond besit wat vandag die “nuwe deel” is wat self al ses of sewe dekades oud is. Ek het twee weke gelede ook op die Dowes se terrein oornag by vriende toe ek hospitaalbesoek daar gedoen het. Baie lief vir daardie wereld. Ons het ook altyd so gereis, vakansie was soms ‘n halfdag tussen twee kliente.

    Like

    1. ek maak regtig memories bymekaar. Nou moet ek net leer om mooi foto’s te neem soos Dina, maar ook om die omgewing te geniet en nie net agter die kamera te wil wees nie.

      Like

  2. Down memory lane is heerlik. In 2010 toe laaste keer in SA was het ek en my suster heerlik al langs die plekke gery waar ons groot geword het. Al daardie onthou was so heerlik. Het alles in n album gesit sodat ek rustig kan terugblaai en weer beleef.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: