
Kleintyd op die plaas, met terugkyk, kan beskryf word as sorgvry. Met die ruimte tot ons beskikking, die bloekombome deur oupa geplant vir brandhout, die diere wat versorg moet word, het ons lewenslesse geleer, fantasie-spel ervaar, verantwoordelikheid vir werk ontwikkel.
Die bome het vir my en my sussie ‘n wêreld verskaf waarin ons fantasie avonture kon ervaar. Die boomwêreld het geleenthede geskep vir klim, vir paadjies uitlê na wie-weet-waar, vir bangmaakstories in skaduwees, na die ontdekking van voëls se geluide en hul gewoontes. So kon ek as klein dogtertjie eerstehands ervaar hoe ‘n valkie ‘n kalkoenkuiken wat nie vinnig genoeg kon wegkom nie, in sy skerp kloue vang en daarmee wegvlieg.
Onder die bome is skaap geslag; was die steenkool wat ek moes gaan haal in die skepemmertjie om die stoof in die kombuis te voed; het ons vuurgemaak om skaapstertjies te braai op ‘n stokkie; het ons wegkruipertjie gespeel. Na die reën het die geur van bloekom sag in die lug gehang.
Dus was dit nie snaaks om my op ‘n Sondagmiddag terwyl my ouers slaap, in die plat mik van ‘n boom te kry nie. Daardie mik was seker so 1 tree ver van die grond af – die stam van die boom het gesplit toe dit nog jonk was. Dit was ‘n troon, ‘n staanplek, ‘n afspringplek.
Pappa het net die vorige paar dae al die takke onder die bome bymekaar laat maak en uitbrand, aangesien die grondvloer daar te onbegaanbaar geraak het en ‘n skuilplek vir slange kon inhou. Ons het rondom gestaan en gekyk. Teen Sondag was die meeste van die groot stompe al uitgebrand. Een hopie naby ons splitboom het nog effens gerook. Ek het in die mik gestaan en met ‘n lang stok in die hoop gekrap, gekyk hoe die vaal as wolkies in die lug maak. Die volgende oomblik glip die stok, ek verloor my balans en ek val met voete eerste in die vuur. Ek onthou van die as wat nog so gepoef het die lug in. Vinnig het ek weer uitgespring en huis te gedraf, groot geskrik. Eers bietjie later het my voete begin brand. Ek het eers (soos ‘n ousus maar doen) my voete onder die tuinkraan gehou en probeer om die brand te stop. Later moes ek maar bang-bang my ma-hulle gaan wakker maak. Sondagmiddagslapies was heilig!! Hulle het dadelik die erns besef, my voete vol preproom gesmeer en dokter toe gejaag op die dorp. Daar aangekom het die blase al begin vorm. Hy het heerlike koel vaselinebedekte gaas oor my voete gesit en verbind. Vir 3 weke moes ek daardie voete goed oppas. Kon ek vir ‘n tyd nie skooltoe gaan nie. Daarna kon ek met stokies aan skool toe gaan – gee kaalvoet toegelaat in daardie tyd nie.

Op die foto sit ek heel agter met my verbindte voete. Die foto is nog geneem met daardie bokskamera’s waar jy vir ‘n lang tyd moet doodstil sit, sodat geen skadu’s op die skerm vorm nie. Met tyd het al die merke versag en genadiglik het daar geen littekens oorgebly nie. (Hierdie foto kan eintlik deel wees van nog ‘n “Memories are made of this” inskrywing. Die kat en my gehoorgestremde boetie wat dit vashou, sal deel wees daarvan.)
Weer ń mooi ‘vertel’, Appeltjie. Julle het inderdaad heerlik opgegroei.
LikeLike
Vandag kan ek terugkyk en sê hoe geseend ons was. Ek gun my kleinkind dit maar sy sal in n stad met speelparkies en klimapparaat grootword.
LikeLiked by 1 person
Plaaskinders het ‘n voorsprong in die lewe,al spring hulle op verb(r) ande voete.Oulike terugblik.
LikeLiked by 1 person
Ag julle is mooi – die kat ook!
LikeLiked by 1 person
Daardie kat was n heilige kat. Verdraagsaam, liefdevol, eenmalig. My gehoor gestremde boetie get die kat oor sy skouer gegooi en gestap. Hy kon nie die kat hoor miaau nie. Ons het hom gestop. Die kat in die het hom nooit seergemaak nie maar niemand anders kon dit waag nie. Geletjies was sy naam. Hulle was onafskeidbaar
LikeLiked by 2 people
Dit is die allermooiste katnaam!
LikeLike
So bly dit was nie erger nie. So bly jou voete kon herstel. Hie oud was jy toe?
LikeLike
Sub B.
LikeLiked by 1 person
Ek het jou eers in st 2 ontmoet.
LikeLike
O toggie, daardie kinderondervindings is klein juweeltjies uit mens lewe. Ek het eendag die veld aan die brand gesteek met as wat nie dood was nie. Groot konsternasie. Daardie sOndagmiddagslapies ken ek ook van. Die avontuur van jou is besonders. Hoe meer mens dink hoe meer duik op. Dankie vir jou lekker avontuur storie.
LikeLiked by 1 person
Dis nou lekker lees die, ek is gek oor sulke ou kiekies, swart en wit, kleur, maak nie saak nie. Dankie vir die deel
LikeLike
Daar is nie lekkerder kinderherinneringe as plaaslewe nie. Kan net dink hoe seer daardie voete was.
LikeLike
Snaaks, kinders is gemaak om pyn te vergeet. Ek onthou meer die speel op my bed omdat ek nie kon stap nie en die verleentheid van pantoffels skool toe dra.
LikeLiked by 1 person