Design a site like this with WordPress.com
Get started

Die Towerinne toer in Fiji

Die groepie towerinne sit rustig op die dek by Appeltjie se huis.  Heerlike koppies geurige tee staan op die tafel rond.  Almal smul aan saadkoekies met room. “Wow, Woordnoot, jy het daai note van “Maria” uit “Sound of Music” darem suiwer gevat,” merk iemand op.  “Sjoe, ons almal saam was briljant op die verhoog daar in Praag,” meen Appeltjie.   Danie hond, Liefiekat, Faye en Lemon, die Lemur wat saamgekom het van Madagaskar af, jaag mekaar rond. “Lemon, los Danie se ore uit,” raas  Appeltjie goedig.  Dis die Lemur se geliefste tydverdryf om vanaf ‘n hoër hoogte Daniehond se ore te trek, tot die arme hond se ergenis en verdriet.  Net toe speel die liedjie “Kokomo” van die BeachBoys oor die musieksentrum.  Appeltjie se ore spits. Sy het nog altyd gehou van die romantiese stuitigheid van die liedjie.   “Het julle geweet Kokomo is ‘n klein eilandjie by die Fiji eilande? Nie by die Bahamas nie. Ons het mos daar in die see beland toe ons destyds vir VirgoC wou gaan red tydens die tropiese storm, onthou julle?  Kom ons gaan kyk ordentlik hoe gaan dit daar? Was een van julle al daar?” vra sy opgewonde. 

Vinnig spat almal gou uit mekaar om hul swemklere en  toergoed te gaan haal.  Die koningin se muntstuk verskyn asof uit die niet in Appeltjie se hand.  Sy vryf dit liefderyk om die Towertent te roep.  Die VVVTT is maar effens onwillig om weer na die plek toe te gaan waar dit amper in die see beland het.  Maar sy towerinne is adamant. Fiji toe wil en sal hulle gaan. Appeltjie vryf die muntstuk oor die koningin se kop, vra mooi dat hulle asb Fiji wil gaan en die tent swig, styg grasieus op, verplaas sy towerinne tot bokant Fiji.

‘n Rukkie lank hang die Tent bokant die eilandgroep, gee hulle ‘n satelliet se uitsig van die eilande wat 150 miljoen jaar gelede deur vulkaniese aksie gevorm is.  Die lieflike koraalriwwe is ook duidelik sigbaar.  Dit het hulle reeds gesien toe die tent hulle in die see gestort het en Jacques Cousteau hulle kom red het met sy onderwatervoertuig.  “Sak ‘n bietjie af asb, ons wil die dorpie sien.”  Soos ‘n foto wat vergroot, kom die dorpie meer in sig.  Dis lieflik geplaas in ‘n amper kring, met palm- en ander inheemse bome tussen.  Prentjiemooi.  Die towerinne sug.  Hierdie gaan ‘n onvergeetlike toer word.

Die tent land op een van die koraalstrande se lieflike wit sand.  Hier word hulle ingewag deur ‘n groepie tradisionele bewoners met hulle vrolike veelkleurige kleredrag.  Die heerlike geur van die blommekranse om hul nekke  hang soet in die lug.

Vriendelik gee  een van die groep inwoners die towerinne ‘n waarskuwing.  Al wil  hulle selfs net die dorpies  deurstap of na ‘n waterval of swemgat toe gaan, moet hulle eers deelneem aan ‘n sevusevu – ‘n geskenkseremonie. Andersins sal hulle disrespekvol optree volgens die eilanders. “Sevusevu?” mymer Christa, dis ‘n mooi woord.   “Het ons geskenke?” wonder die towerinne. Sal Tannie Frannie se goue broodjies werk?   Kava, antwoord die inwoner.  Kava?  Dis die tradisionele Fiji drankie, gemaak van die wortel van n peperplant, maar wees versigtig, dit maak jou gou lomerig of selfs bedwelmd.      

“Ek sal dit namens ons doen,” roep Appeltjie vinnig uit, “ek sal net ‘n klein slukkie vat. Ek is nie ‘n drinker nie.”. Sy gaan sit saam met die hoofman op die sand en kry haar houtbakkie met kava-en-watermengsel.


Maar sy moes van beter geweet het.  As mens selde alkohol inneem, gebeur snaakse dinge as jy dit wel doen.  Alhoewel daar nie alkohol in is nie, vang die klein slukkie haar toe wel. Toe die towerinne weer sien, dans sy uitgelate saam met die inwoners met hul grasrompies op die sand.  Go Appeltjie!

Die hoofman is so beïndruk met die towerinne se spontanïeteit, dat hy hulle toestemming gee om oral oor die sy eiland te beweeg.  Die vriendelike Fijiaan beveel aan dat die towerinne na die Beqa Eiland toe moet gaan.  Daar sal hulle die tradisionele vuurstappers sien.  Sonell en Virgo is sommer grillerig hiervoor.  Virgo het al te veel brandwonde in haar lewe behandel.  O nee, word hulle verseker, hierdie vuurstappers kry nie seer nie.  Hulle het hierdie tegniek by hulle voorouers geleer.  Hulle plaas klippe in ‘n vuur vir ure lank, voordat ‘n seremonie plaasvind waarna oor die klippe gestap word.  Dis blykbaar nie ‘n toertjie nie. 

Hy moedig hulle aan om na die koraalkwekery by die  Kokomo Coral Restoration Project toe te gaan en die watervalle te besoek.  Daarna moet hulle terugkom vir ‘n oorlogdansvertoning, voor hulle na hul oornagplek toe gaan.

By die Koraalkwekery verduidelik die vriendelike marine bioloog aan ‘n oopmond Seegogga hoe dit werk.  ‘n Klein knipsel koraal word op ‘n raamwerk gesit om te vermeerder, amper net soos mens met ‘n sukkulent doen.  Later word hulle dan teruggeneem na hul oorspronklike omgewing.  Maar dis nie net verblyking as gevolg van aardverwarming wat koraal in gevaar stel nie, gaan hy verder, tornado’s en groot seesterre vernietig dit ook.  Is die proses suksesvol? wil Aalsie weet. Ja, kom die antwoord, met ‘n verbysterende 86%.  Dis werklik die oplossing vir die herstel van koraalriwwe wêreldwyd.

Op pad na hul oornagplek toe, wandel die towerinne verby die plaaslike markie.  Toortsie is nie links nie (al is sy eintlik) en draai af om te kyk wat is beskikbaar om aan te knibbel.  Daar sien sy die heerlikste vars groente en vrugte – grenadellas  mangos pomelos pynappels kokosneut piesangs.  Sy wil net een vruggie koop en word tot haar verbasing vreemd aangestaar.  In hierdie markie koop jy slegs ‘n sakkie vol van enigiets , alles vir US1$.  En nee, jy mag nie kibbel oor die prys nie.  .  Dan sien Seegogga met haar oog vir tekstuur ‘n uiters vreemde vrug.  Rambutan, noem die verkoper dit.  Teen almal se verbasing sny sy een oop en laat die towerinne proe.  Dit voel soos jelly, sê iemand.  Dit proe amper soos druiwe, noem iemand anders.  Nee-nee soos litjee sê ‘n derde.  Die stemme loop sommer deurmekaar.

koejawels “dragon fruit” “sour sop” “rambutan:

Nog voor Woordnoot kon uitvra na die ander onbekende vrugte, trek die towerinne haar weg.  Hulle is moeg en wil gaan rus. Die tent tel almal op en vlieg gou na die oornagplek .  Die klomp towerinne babbel soos net ‘n vroumense kan oor alles wat hulle sover gesien en gehoor het.  Appeltjie roer nog haar heupe.  O daardie ritmiese tromgeluide op die strand laat haar sommer nog opgewonde voel.

Voetseer en uitgeput strompel die towerinne later uit die Tent toe hy  by hul oornagplek aankom.  Daar ontspan hulle in die wonderlike atmosfeer.  Uitgestal voor hulle is die tradisionele ete van die Fijiane.  Vars vis, kokosneut, wortelkos, gestoomde groen groentes.  Toortsie is veral beïndruk deur roro – ‘n gereg gemaak van gestoomde taroblare, uie, knoffel, olie en kokosneutmelk.  Dit smaak amper soos roomspinasie.  Appeltjie wonder hoe mens van hierdie blare kan uitsmokkel Suid-Afrika toe.  Dis wonderlik lekker.

En toe volg die hoogtepunt van die aand.  Die oorlogdans van die Fijiane.  Die gespierde jong manne in hul grasrompe met die stokknuppels, spring, raas, swaai en stamp hul voete. ‘n Asemrowende gesig. Die ritmiese tromgeluide vul die aandlug.   “Ek wonder wat die eerste westerlinge in die 1600’s gedink het toe hulle hierdie uitvoering vir die eerste keer gesien het” wonder Una.  “Ek wonder eintlik wat die inboorlinge gedink het toe hulle vir die eerste keer westerlinge met hul bote en gereedskap gesien het.” voeg Positief by.   

Appeltjie besluit dis te vroeg om te gaan slaap.  Sy wonder hoe dit gaan met haar feetjie en die diere tuis.  Buitekind wat sy is, maak sy haarself tuis in die hangmat en laat die rustigheid van die eiland en die natuur oor haar heers.  Hier het die mense nie tyd nie.  Dinge gebeur wanneer dit gebeur.  Môre gaan hulle nog eers op die inheemse staanbote vaar na een van die klein eilandjies om die skaars blommetjie daar langs die waterval te gaan besoek.  Sy wonder of hulle toegelaat gaan word om die rustende vulkaan op die hoofeiland te besoek.  Vulkane het haar nog altyd gefassineer.

Die VVVTT roer.  Hy mis sy maatjies al sal hy dit nie vir hulle sê nie.  Saggies fluister hy in die slapende towerinne se ore.  kom ons gaan huis toe    kom ons gaan huis toe ons kan weer anderdag toer Rebusfontein wag vir ons.

ons vorige toer in praag deur Toortsie: https://wordpress.com/read/feeds/48041750/posts/2907036396

Virgo se redding : https://appeltjie.wordpress.com/2020/08/15/n-lemur-vir-rebusfontein/

Alle foto’s:   Google met soekwoord:  fiji

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

14 thoughts on “Die Towerinne toer in Fiji

    1. Dankie. nou moet ek nog net leer hoe om julle URLs as hyperlinks te maak soos Toorts dit doen. Het al probeer maar sonder sukses. En ek wou nog ‘n draai gaan maak by Scrapy in New Zealand, maar die tent was haastig terug huis toe.

      Liked by 1 person

  1. Appeltjie, ek het my knuppeldik geëet aan hul interessante kosse! Die koraalkwekery was vir my die hoogtepunt, alhoewel, die oorlogdans het my lekker laat rittel. Dis darem net die allermooiste wêreld.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: