Ouma Truitjie Agenbag

My ouma Truitjie was al oud toe ek klein was. Regtig oud. Ek was in graad 2 (deesdae gr 4) toe sy oorlede is op ouderdom 83. Vir my was sy altyd so ‘n amper magiese figuur. Ons het Ouma en Oupa Agenbag maar elke 2 jaar gesien want ons bly in Bredasdorp en hulle ‘n dag se ry ver in Namakwaland. Diep in Namakwaland. By Garies draai mens links, ry 25 myl tot by Wallekraal en dan nog ‘n entjie en dan draai mens links af, ry met ‘n nou sandpaadjie deur ‘n klomp hekke tot onder by Diknek, die plaas langs die Spoegrivier. Daar is die opstal. Nog ‘n regte egte pioniershuisie, gebou laat in die 18 honderds. Oupa en sy mense het weggetrek van die ander groep waarby hulle was. Hy het sy huisie op die rotsbank gebou, effens weg van die ander af. Die ander huisies was nader aan die rivier effens anderkant toe. Toe kom die Spoegrivier af, seldsame gebeurtenis en spoel die ander weg.

Diknek se huis met die skuur links voor en koelkamer agter.

Ewenwel, Ouma was ‘n ou figuurtjie. Klein, effens gebukkend van jare se harde handewerk, met lang spierwit hare wat permanent in ‘n bolla gedraai was. Ouma het ook altyd ‘n voorskoot gedra oor haar voortrekkerstyl rok. Met veterskoene waarmee sy gemaklik in die sand en veld kon stap. Haar spierwit vel het sy beskerm teen Namakwaland se ongenadiglike hitte met die voortrekkerkappie waarsonder sy net nooit was nie. As klein dogtertjie het ek altyd verwonderd gestaan en kyk hoe sy gou haar hare in ‘n bolla draai en dan die kappie opsit en vasknoop. So ver verwyder van dit wat ek geken het. Dit was amper ‘n ander kultuur, het dit vir my gevoel.

Ouma het nie ‘n yskas gehad nie, maar ‘n koelkamer gebou uit bakstene en modder. Daar was nie elektrisiteit nie. En dit was baie koel binne, amper koud. Daar het die bokmelk gestaan in hul emmertjies, die tuisgemaakte botter, ek kan nie onthou van kaas nie, maar daar was ook vleis wat van die dak af gehang het. Elke keer as Ouma iets in die koelkamer moes gaan haal, het ek saamgeglip om na die wonderwerk van kos te kyk.

Ouma het ook nog self haar soetsuurdeegbrood gebak. Soggens vier-uur opgestaan om die brood in die houtstofie te sit, gisteraand is die deeg ingesuur. (Vandag kan ek die ingewikkeldheid van aartappelsuurdeeg verstaan, dis triekie!) Ouma het ook lekker askoek gebak. Buite die huis was die vuurskerm. Daar het sy op die vuur die broodkoekies met haar hande omgedraai. Met so ‘n gryp-draai-sitneer aksie. Ek het een keer probeer en amper gebrand. Daarna was daar ‘n verwondering vir die ouma wat ‘n horde van die broodjies so kan keer en op hul kante staanmaak tot almal deurgaar is. Ouma se hande was sag, maar ook sterk van werk. n Gebreide vel kan mens amper sê. Namakwaland se koue en hitte en leefstyl was nie vir sissies nie.

Ouma en oupa het as gevolg van hul afstand van die naaste dorp af, nie lank skool gegaan nie. Maar hulle kon lees en skryf. Hulle wêreld was beperk tot die plaas, die skape in hul somer- en winterweiveld en die tog Hondeklipbaai toe vir swem en kreef trek.

Hondeklipbaai aan die Weskus

My pa het vertel hoe ouma nog riete gedroog het wat in rietjiesmatte gevleg is. Die rietjiesmatte is oor ‘n raam gespan wanneer hulle in die winter na die winterweiveld getrek het met die skaap. Die rietjieshut was dan hul skuiling. Ouma het ook die velletjies van geslagde diere gebrei. Van die velletjies is dan aanmekaar gewerk met die hand om ‘n warm karos te maak. So warm onder ‘n karos het min mense nog ooit geslaap. Daardie karos is vandag nog my ouboet se trotse besitting.

Ouma het ook in die singende klank van die Namakwalanders gepraat. So ‘n sagte ronde singklank, nie die amper plat klank wat mens met Jan Spies vereenselwig nie. Soms het die musiek in my, ja dit was al as kind daar, net geluister na hoe Ouma praat, pleks van na wat sy gesê het. En sy het “my kjent” gesê. My ma is aangespreek as Martiene. Dit was altyd vir my snaaks, want ek het Mamma se naam as Tiene gehad. Tog het Pappa se familie haar altyd aangespreek as Martiene. Ouma het sagte lyfdrukkies gegee. Altyd deurmekaar geraak met my en my sussie, net 13 maande jonger as ek, maar ek het nie omgegee nie. Sy het na poeier geruik, was sag en liefdevol. ‘n Ouma, my ouma.

Met Ouma se sterwe, is ons terug Diknek toe. Oupa is net 3 maande vantevore oorlede, op ‘n hoë ouderdom. Ouma se liggaam was in die kis, in die skaduwee van die koelkamer. Mooi soos ‘n poppie was haar gesig, rustig, soos een wat slaap. Ek het tot siens gesê aan ‘n era wat verby was, onbewustelik geweet dat die lang togte Diknek toe verby was.

oupa en ouma se graf op Diknek

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

23 thoughts on “Ouma Truitjie Agenbag

  1. Saamgelag, saamgelees en uiteindelik biki saamgehuil.
    Weet jy, ons bak no so brood, dis al wat ek kan eet, maar osn suur in met ‘n gisplantjie en nie meer aartappelsuurdeeg nie. Maar my Meesgeliefde kan albei doen. Ek het mense daar by Kliprand langs die Spoegrivier geken.

    Liked by 1 person

      1. Sjoe baie dankie vir die inligiting, ek is tans besig met my Agenbag stamboom. Ek dink ek mag dalk verwant wees aan hulle.

        (As ek dit reg het) is hulle my oupa se oupa. My oupa se naam is Josias Andreas Agenbag, sy pa was Willem Adriaan Agenbag en dan as ek dit reg het is dit dan “Jan” Agenbag wat getroud was aan Gertruida Cecilia Agenbag.

        Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: