Lipstiffie

Hoe om jou lipstiffie heeldag in plek te hou | My Matzikama

Ek lief lipstiffie. Rooierig. Pienk met ‘n bietjie rooi. Dit helder my gesig op. Ek kies dit om by my klere te pas. Dit bevogtig my lippe, meer as lip ice of vaseline of room of wat ookal. Dit laat my vroulik voel. Selfs onder my masker dra ek my lipstiffie. Staan ek vroeg op, is my gesig net gewas maar is ek nie aangetrek vir mense nie, sal ek vinnig gryp na my lipstif as iemand aan die voordeur klop. Met gekleurde lippe sal ek enige dag aangryp. Selfs gou net ‘n smeersel smeer as ek vinnig moet winkel toe sonder dat die res van die grimering op is. My grimering bestaan in elk geval uit ‘n bietjie oogskadu en oogomlyner, ingewerk met ‘n kwassie. Dis al. Geen onderlaag, poeier, bolaag, beskermer en wangblos nie. My ligte vel is plooiloos, goeie gene geërf by Mamma. Ek het lipstiffies in my handsak, my skoollaai, my moonbag wanneer ek sportdae toe gaan, my grimeersakkie en in my “vinnige-oornag-iewers-heen” sakkie. Die een in my motor se paneelkissie het een somersmiddag gesmelt.

Mans hou nie van lipstif nie. Die geliefde gee my een kyk en sê “ek soen nie daai bek nie.” Ek vind uit mans dink dis taai, dit sit aan hulle lippe vas, dit verraai ‘n aksie. Nou het ook geleer, groet eers in die oggend voor ek werk toe gaan, dan word lipstif aangesit.

‘n Donkerrooi mond maak egter ‘n baie mooi afdruk op ‘n papiertjie wat teen ‘n yskas gesit kan word, ‘n belofte vir later. Het jy al probeer om met ‘n lipstif op ‘n servet te skryf, net vir onnutsig wees? Nope, dit werk nie. En op ‘n spieël soos dit dikwels in flieks gedoen word? Nope, dit werk ook nie lekker nie. My duur lipstif krummel, breek, smelt weg.

Vir jare lank al koop ek die lipstif maak wat klink soos mens se agterplaas in Engels, nr 520. Sommer so 3 op ‘n slag. Met tyd het die kleurmengsel effens aangepas, maar nogtans is dit my kleur. Vir solank as wat my hare donker was, ja. Want toe besluit my haarkapster my grys raak nou te sterk om kleur ordentlik te hou. Ek kan nie meer donker wees nie, dit moet nou ligter word tot ek grys is. En jy gaan ‘n lieflike grys wees, oorweldig sy my. Grys met natuurlike skakerings, lig voor en donkerder na agter. Vroue betaal baie geld om grys soos jy te wees. Hoe weet sy my natuurlike kleur is so? Ek kyk na jou natuurlike haarlyn, sê sy. So word ek toe oor n tydperk van ‘n jaar, ‘n natuurlike gryse. My pa en sy suster was albei donker van haar, maar spierwit op 50.

Ewenwel, met my grys hare, spesiaal gekoopte silwer sjampoo en conditioner (!) trek ek die dag ‘n sagte pienk hempie aan, wat al vir lank in my kas hang. Meteens lyk die hempie lieflik en wonder ek waarom ek dit nie meer dra nie. Dit lyk lieflik teen die grys hare, maar o griet, die lipstif pas glad nie. Ek moet nuwe lipstif kry.

En so begin operasie nuwe lipstif soek. En dis covid. Geen testers is beskikbaar nie. En vir enigeen wat al in die strik van kyk-buite-op getrap het, die kleur van die plakker is nie dieselfde as die kleur van die lipstif self nie. Die geliefde gaan saam. Hy hou van bestuur, inkopies doen en vensters kyk. (Is ek nie gelukkig nie?) Wat wil jy doen in Dischem, vra hy. Ek moet lipstiffie koop, sê ek. Dit sal so ‘n tydjie neem. Ek wag gou vir jou, antwoord hy en sit-stap solank buite rond. Hy hou nie van die hande sanitering ding in elke winkel nie. Ek weet die “gou” sal nie so “gou” wees nie, maar ek stap doelgerig die apteek binne. Die maklikste is om ‘n hulpdame te kry, gou-gou my kleur te verduidelik en sy sal binne minute die opsies voorlê sodat ek my keuse kan maak. En dis daar waar ek ook die pot mis sit. Daar is soveel opsies: met kwassies, uitdraai soorte, baie duur soorte en uiters goedkopes. En die lieflik gegrimeerde hulpdame reken pienk gaan my nie pas nie. Nee-nee, keer ek . nie ‘n pienk nie, ‘n pienk skakering jy weet, ‘n rooierige pienk, of ‘n sagte lipkleurige pienk. Jy is die kenner, kies ‘n soort pienk wat by my nuwe kleur pas. Sy verstaan toe. Help my mooi. Trek laaie doer onder oop met massas testers. Trek strepies wat afgekeur of goedgekeur word om later weer na te kyk. Skakel die een wat ongeveer R200 kos uit, al is dit die perfekte kleur. En uiteindelik het ons dit. ‘n Kwassie met ‘n pienk wat droog raak op my lippe. Dit lyk so mooi by die hempie. Die prys laat my nie na asem snak nie. Ons stap om die hoek na ‘n uitverkoping rak – dieselfde maak met nog net 1 kleur wat net so mooi pas, teen ‘n fraksie van die prys.

Lentelippe - hoe om warm pienk lipstiffie te dra | rooi rose

Hoogs in my skik stap ek by die apteek uit, nuwe kleur sommer onder die masker op my lippe. Buite stap die geliefde, nou effens omgekrap. Hoe kan dit so lank neem om 1 lipstiffie te koop, brom hy. Ek lig die masker en wys hom, verduidelik gou die proses. Mens leef ‘n paar maande saam met ‘n keuse en mens moet die regte een kry en mens mag nie meer aansit om te toets nie. Maar kyk hoe mooi is dit nou, paai ek.

Nogtans, toe ek by die huis kom, is die kleur ook net reg vir die een spesifieke kleur hempies. Die ander lyk nog nie heeltemal reg nie, maar met tyd sal ek weer gaan probeer. Nie gou nie. Later. Op my eie.

Alle foto’s: google lipstiffies images

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

17 thoughts on “Lipstiffie

  1. Ek het nou so lekker gelees, ons het baie raakpunte wat lipstiffie betref., Behalwe dat ek nou een keer per dag aansmeer en dit hou die hele dag. Sonder om op manlief of my kleinkinders af te smeer. Want hy wip sy boude as dit op sy lippe kom, en die kleinkinders lyjk nie goed met ouma se soene op die wangetjies nie.

    Like

  2. N oulap se rooi maak mooi. Tog interessant dat mans nie van lipstif hou nie, maar as hulle meisies moet kies, kies hulle die een met n mooi kleurvolle mondjie, nie n vaal tannie nie. Ek dra noy al jarw lipstif wat van Holland af kom. Ek hou vd kleur, dis goedkoop( ok dit was: 2 euro, maar nou het ons rand so verswak…) en 1 lipstif hou n jaar voor dit op is. Ek het nog 2 oor. Hopelik kry ek iemand wat Holland toe gaan so ooe n jaar…..
    .

    Liked by 1 person

      1. Dit bly aan as jy eet; sy het dit selfs later verkoop maar ons is nie meer in die stad waar sy dit aankoop nie

        Like

      1. ek haat rooi lipstiek op ‘n wit noritake koppie met bietjie tee en sigaret-as daarin soos grend vroue mos maak

        Liked by 1 person

      2. dis vir my nogal goed om te hoor ander dink ook dat daai gesmeerdery nie altyd lekker is nie. maar sy het my eendag met twee bloedrooi lippe prominent op my bles in die openbaar losgelaat……………

        Liked by 2 people

  3. Ek is “boring,” koop dieselfde kleur vandat ek kan onthou. ń Sagte pienk wat mens laat wonder of ek ooit iets ophet, want manlief verdra ook nie kleur op my mond nie.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: