Jer 29:11 Ek weet wat ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ‘n toekoms gee, ‘n verwagting.

Hoe waar het hierdie woorde nie in my lewe geword nie. Vroeg in my getroude lewe, 6 maande swanger, het die eerste woord skei op my pad gekom. Hoe gaan mens aan as jy nie ‘n vaste inkomste het nie, as jy gebroke is omdat jou liefde stukkend gebreek is, as jou menswees vertrap is? Jy kry werk as ‘n winkelklerk, begin jou eie speelskooltjie, gee musieklesse, maar niks daarvan is ‘n salaris wat onderhoudend is nie. Beloftes van werk verdwyn soos mis voor die son; beloftes vir bestuurspanne word afgemaak as slegs ‘n verwagting van my kant af; vir niks is ek goed genoeg nie. Maar ek wil nie my kind, waarvoor ek leef, in ‘n creche prop nie. Ek is gemaak om ‘n mamma te wees.
En vir die eerste keer kom Jer 29:11 in my lewe. Op die aand toe daar 1 teesakkie in my pakkie oor is, toe ek op moedverloor se vlakte sit, toe ek weer eens oorgeslaan word ten gunste van iemand anders vir ‘n pos waarin ek waargeneem het . “Ek beplan vir jou ‘n toekoms van voorspoed, nie teenspoed nie. Leef in die verwagting” kom die Here se opdrag.
Daardie aand het my lewe verander. Weereens. Want ek het geweet God hou my vas. Dinge sal dalk nie oornag verander nie, maar nou weet ek ek gaan eendag as ek oud is ‘n huis hê om in te leef. Ek sal nie op straat wees of by iemand in ‘n agterkamertjie leef nie. My kind sal versorg wees. Ek sal weer ‘n geliefde, ‘n maat in my lewe hê.
En God het Sy belofte gehou. Ek het ‘n aanstelling gekry by ‘n privaatskool, vir 8 jaar daar as skoolhoof opgetree. Die tydjies wat ek voorskool moes gee, ‘n winkelklerk moes wees, moes uithelp by ander skole vir ‘n maand, ‘n jaar, het my gevorm in die persoon wat ek was toe Hoërskool Grabouw se advertensie in die onderwysgazette verskyn: Departementshoof vir Gr 1-3. En hier is ek. Op Grabouw, in ‘n senior posisie in die skool met ‘n respekvolle naam in die gemeenskap. Vir 18 jaar het die Here my gevorm, my swaarkry laat beleef, my ‘n kind gegee om groot te maak met liefde en baie bid en moeilikheid en genot. Soms het ek getwyfel wanneer God dan Sy beloftes gaan waar maak. Maar ek moes ook leer dat God se tyd nie my tyd is nie. Sy tyd is perfek. Sy plan en toekoms vir my is perfek. Soms het ek soos Abraham ook probeer om Sy tyd bietjie aan te help, Sy beloftes vinniger te laat kom, maar net om teleurgesteld gelaat te word. God laat Hom nie aanjaag nie, Hy weet beter.
Toe kom my geliefde in my lewe. Net soos ek van God gevra het: ek wil in die kerk raakgesien word, hy moet mooi praat met my, hy moet my vriend wees, iemand wat dinge saam met my wil doen. En as ‘n nice to have, ek hou van ‘n groot man asseblief. En God het op Sy perfekte tyd hierdie man vir my gestuur. 25 jaar nadat ek begin bid het hiervoor!. Maar ons moes ook sewe sakke sout saam opeet. Ons is deur twyfel, deur trane, deur afgebreektheid. Nou moes ek die sterk een wees, wat moed inpraat in een wat moed verloor het. En hier storm God se belofte weer in ons lewens in. Oor en oor en oor hoor ons dit oor die radio, in die kerk, in die personeelkamer. Google Jer 29:11 en ‘n ellelange lys van variasies, besprekings, vertalings, boeke daaroor verskyn. Ek kan die geliefde om sy gesig neem en sê: sien jy, hier is God se belofte vir ons – ons gaan genoeg hê vir ‘n nuwe huis. God het my belowe dat ek in ‘n beter huis gaan bly as voorheen. My omstandighede soos Job s’n, sal beter wees as wat ek voor die tyd gehad het. Jy is al die eerste van die beloftes wat waar gekom het. Waarom sal Hy nie Sy belofte oor ‘n huis, oor finansies, oor my en ons toekoms ook laat realiseer nie?
Net ‘n bietjie verder in Jer 31:15 belowe God ook dat Hy vir elkeen van ons die krag gee om uit te hou tot Sy beloftes waar kom. Ek skep moed vanoggend. God het sover Sy beloftes waargekom. Nou het ek moed vir die laaste tydjie voor die res ook waar word.
Amen.
Pragtig en so diep uit jou hart. Jy géé hoop.
LikeLike
Appeltjie, dis so mooi. Ek wens julle net die beste toe. Regtig. Uit my hart uit.
LikeLike
Daardie versie is seker op elke yskasmagneetjie, maat die Ts & Cs van verse 12-14 ontbreek altyd.
LikeLike
Ek leef al klaar my T&C’s.
LikeLike
Jy dalk, ja, maar meeste mense nie, hulle kwoteer net die teksie buite konteks en gaan voort asof hulleself God is.
LikeLike
Jou skrywe raak so aan my hart. Ons God is altyd getrou, Appeltjie, en jy beleef dit.🌹
LikeLiked by 1 person
Die Ts & Cs word normaalweg nie gelees nie; verse 12-14 verduidelik dit mooi.
LikeLike