Van ou wrokke

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is 41d5dvarofl._ac_sy355_.jpg

Appeltjie kyk na die horlosie aan Aalsie se arm en besef die tyd het wel gaan staan sodat Aalsie kon voldoen aan Toortsie se versoek.  Die vrolike geëet en samesyn aan die lang tafel het iewers in die toekoms geskied.  Onder die grond is die pikkie-klein mannetjie nog steeds besig om die Towerinne te bedreig.  Sy maak haar oë toe, stuur ‘n wens op en almal tuimel terug in tyd.

Die Koningin knip haar oë twee keer. Seegogga staan versteen voor die lieflike tonele wat sy teen die mure skilder. Positief klou aan Scrapydo en Sonell weerskante van haar vas. Toortsie kyk na VirgoC wat nog steeds met haar vinger op haar mond staan. Die ander Towerinne staar verstom na die gillende pikkiekleinmannetjie. Hy is skoon histeries.

Appeltjie stap versigtig nader aan die koningin en tel die skinkbord op. Die koningin het al die banting melkpap opgeëet maar daar het tog stukkies van die goue doughnuts oorgebly. 

“Waarnatoe dink jy gaan jy?”  gil die mannetjie.  “Staan stil!  Ek het gepraat!  Ek is sekuriteit ek sê en julle sal almal vir my luister. Steek julle hande in die lug. Jy mag nie roer nie! Manne, gryp hulle as hulle so min soos ‘n vinger roer!”  Die klein mannetjie se groot kop wip behoorlik so gaan hy tekere.  Hy besef nie eens hy gee verwarrende bevele nie.

Appeltjie is seker hy gaan enige oomblik van sy kop af gaan.  Rustig, met klein treetjies, stap sy vorentoe met die skinkbord. Die goud op die krummels en oorskiet doughnut skitter in die kerslig.  “Siestog, jy moet seker al moeg wees om heeldag die koningin te beskerm en sy luister nie na jou nie,” praat sy met hom.  Die Towerinne en die koningin staar haar verstom aan.  Het sy nou ook van haar kop af gegaan?  Maar Christa skud haar kop klein bietjies heen en weer vir die ander.  Hier is ‘n plan op pad.  Die mannetjie ruk hom om, watter vermetelheid van die vroumens met haar goue vingers om uit haar eie met hom te praat!  Die rooimiere lig hul gewere effens op.  Maar die Towerin is selfversekerd.  “Faye” roep-praat sy in haar gedagtes met haar feetjie in Rebusfontein, “As ek die skinkbord neersit, strooi goudsand in die mannetjie en rooimiere se oë.  Ons het tyd nodig om ‘n plan te beraam.”

Nou is Appeltjie binne bereik van die mannetjie.  Sy sak effens af en gaan sit voor hom. Haar kop is effens gebuig, haar oë sag.  Sy praat verder met hom. “Wat het die mense gedoen om jou so kwaad te maak?” 

“Julle almal wil net die koningin misbruik vir julle eie gewin! Julle kom hier aan, mergel haar uit met julle vrae en eise en vreemde maniere.  Eers moes my oupa se oupa en toe my oupa en toe my pa en nou ek die heeltyd na haar  kyk.  Dis ek wat sekermaak sy kry net haar suikerkorrels by die rooimiere. Dis ek wat moet sorg dat sy nie haar vorige lewe onthou nie.  Dis ek wat moet koppe afkap en wat kry ek daarvoor?  Niks!  Nie eens ‘n enkele stukkie doughnut of ‘n slukkie pap nie.! Geen dankie nie.  Geen erkenning nie.  Ek is moeg daarvoor, moeg moeg moeg daarvoor.” Die spoeg spat na Appeltjie en sy draai haar gesig effens weg.  Die arme mannetjie is nie net klein nie, hy het ‘n klein selfbeeld, ‘n klein gedagtegang en ‘n klein wêreldjie wat nou bedreig word. 

Die koningin staar na die pikkie-mannetjie.  Sy groot kop is bloedrooi van ergenis. “Mannie, wat vertel jy my?  Watse vorige lewe?  Ek was mos maar altyd hier in Wonderland?”

Die pikkie-mannetjie wip hom na haar toe.  Die rooimiere swaai dreigend hulle gewere rond. Gee sommer ‘n tree vorentoe.  “Nee, jy was nie.  Jy is hiernatoe gebring.  O genade, wat het ek nou gedoen! Ek het genoem wat ek nie mag noem nie!  Dis alles jou skuld.” beskuldig hy nou sommer die arme koningin.  Sy is nou ook hewiglik ontsteld.  “So dis jou skuld dat ek altyd gedink het almal wat hiernatoe kom bedreig my koninkryk en dat mense se koppe afgekap is?” 

Die goue liggie van begrip begin in Appeltjie se kop flikker.  Hier is ‘n grootskaalse kommunikasiegaping teenwoordig.  Sy kyk om na Christa.  Christa se goue pen is in haar hand, reg om die situasie te bestudeer en wetenskaplike oplossings te vind.  Maar aan die ander kant, ons is mos towerinne, goue vroue wat glo aan die bonatuurlike, wat oplossings kan maak waar daar niks te vinde is nie.  Appeltjie is oortuig dat hier ‘n kwessie is van misverstande wat in mekaar pas soos ‘n Matryoshkapop.

Lettie-Ann se poppies

“Faye” roep Appeltjie in haar gedagtes en sit die skinkbord op die grond neer.  Die rooimiere sien hul kans om elkeen ‘n korrel goue doughnut te gryp.  Gewere spat rond soos hulle almal naderstorm.  Maar dan verskyn Faye, strooi goudsand oor die rooimiere en die pikkie-klein mannetjie en almal raak bewegingloos, in ‘n diep trans.

Christa, jou goudheid moet nou skyn asb.

google image

***************************************************************************************************************Hierdie hoofstuk vorm deel van die Towerinne/Goue Vroue se avonture. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar en onverklaarbaar.
As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die hoofstukke te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/18c42a9034594a66af50994043145e

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

12 thoughts on “Van ou wrokke

  1. My goeiste, dat ń mens nou asem kan sit en ophou terwyl jy ń towerstorie lees. Of ń goue storie. Skitterend geskryf, Appeltjie, en ek sien so daarna uit om Christa se deel te verslind. Ek lag steeds in my mou vir Alice in Wonderland. Ons storie oortref daardie een heeltemal! Kan julle net dink as dit in boekvorm gelees kan word met prentjies by al die karakters! En as iemand elkeen van ons kan teken met ons talent. Kyk, hierdie storie sal ek wraggies vir my kleinkinders ook kan lees.

    Liked by 2 people

    1. ek het juis net dit gedoen. ek het al die stories van vooraf in volgorde gedruk, die belangrike gebeure/items/probleme onderstreep en besluit op my konsep. toe hardloop die woorde vanself. maar toe die stories eers in volgorde gedruk is, het dit werklik so lekker gelees.

      Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: