Hom of Haar?

Voornaamwoorde, o die liewe voornaamwoorde. Van kleins af leer ons vir die kinders: gee dit vir my, nie vir ek nie. Mamma is nie jy en jou nie (al het daardie gebruik effens verslap die laaste jare onder invloed van Engels waar “you” die korrekte aanspreekvorm is).

Deesdae sukkel ek met die morele reghelp van woorde. In die gemeenskap waar ek werk, word so baie woorde op ander maniere gebruik en dikwels is die betekenis so anders van aard, dat ek wil bloos. Dink maar aan die verskil tussen Nederlands en Afrikaans. Moer het hier ‘n hele paar verskillende betekenisse. Ek onthou so terloops die dag toe ek vir my dogter die prent van ‘n aartappel in ‘n boer se hande stuur. Die foto het in ‘n landbou-artikel verskyn en die bedoeling was om die goeie gehalte van die aartappel te beskryf. Ons weet die ding waarmee plante begin is sade, maar heelaas, nie ‘n aartappel nie. ‘n Aartappel “saad” word ‘n moer genoem. Dus, sien in jou geestesoog, ‘n aartappelsaad vol grond op die boer se hand met die bo-skrif: Goeie moer! Ek het my siek gelag oor die goeie woordspel. My arme dogter het glad nie die grap gevang nie en was heel verontwaardig oor die onbeskofde woorde.

Terug na my gemeenskap: Dr Michael le Cordeur van die Universiteit van Stellenbosch is baie ernstig oor die aanvaarbaarheid van streekstaal van veral die Bruinmense en ook oor die Kaapse Afrikaans. Die uitspraak van woorde is ook hier ter sprake en ook die vermenging van Afrikaans en Engels. Maar ek wil nou nie hieroor as sodanig praat nie. Wat vir my verskriklik moeilik is en ook nou ‘n morele saak geword het, is wanneer help ek iemand reg en wanneer nie? Is dit reghelp as ‘n kind in sy ouerhuis geleer is om “homne” en jekkit te sê, veral omdat die ouers ook so praat? Maar vir my kind het ek gesê: praat reg poppie, mens sê syne, nie homne nie. In leesboeke, tydskrifte en die bybel word “syne” gebruik, nêrens homne nie. Ek gaan spreek my vakadviseur. Los ek? Help ek reg? Is dit reghelp? Die saak is netelig, antwoord sy, self ‘n goed geleerde vriendin met ‘n ligbruin vel. Fyn opgevoed, kunstig, lief vir mense, ‘n vredemaker. Mens kan nie vir ‘n kultuur voorsê nie, maar in die sakewêreld daarbuite, is daar ‘n aanvaarde taalgebruik wat kan aantrek of wegstoot. Ons kinders moet leer om ‘n taal te gebruik wat nie wegstoot nie.

Nou is een van my gunsteling programme op televisie “Arendsvlei”. Die akteurs is briljant, hulle lewe die karakters, die lewensomstandighede, die werklikheid word lewensgetrou uitgebeeld. Die kinders met wie ek werk, kom uit daardie omgewing. Lieflike mense wat wil wegkom van die omstandighede waarin hulle gebore en grootgeword het. En die mense van Arendsvlei sukkel met dieselfde probleme waarmee my kinders in my klas sukkel. En hulle praat soos die kinders in my klas. Net dikwels is die “tjie” bietjie oordrewe. My kinders lag ook daaroor. Maar nou luister ek mooi – daar is nie ‘n homne of ‘n haane of ‘n hom-in-die-plek-van-sy nie. Jekkit wel.

Dus dans en lag en perform ek in die klas. Ritmies word die woorde opgesê terwyl die heupe swaai, die vingers klap en die laaste woord word op ‘n uitspattige armswaai oor die kop gedoen: jou-ne sy-ne my-ne haa-re. Ons lag en sing en rap en die werkskaartjie word uitgedeel. Ons oefen eers mondeling: Sin 1: Misha sê die pop is …….. haane! / nie myne nie! / in die kas! kom die antwoorde. My moed sak in my skoene. Ons het nou net die regte woorde geleer. Maar juffrou is langmoedig en geduldig en sê kom ons probeer die regte woord wat ons nou net geleer het. Misha sê die pop is …… hare!. Juffrou klap hande en tol in die rondte. Nou pak ons die verskil tussen hom en sy aan. Dit is SY baadjie, dit is SY potlood. ens. En dan hoor ek hoe die mamma na skool vra: het jy hom jekkit vir hom teruggegee? Dan wonder ek weer, mag ek vir ‘n kind sê praat reg? Wat is wysheid ‘n wonderlike ding – die antwoord kom altyd eers later, as woorde verby en klaar gesê is.

Nou vir die storie wat ek eintlik wil vertel: My neef met sy 3 klein seuntjies kom kuier by ons seehuis. Hulle ken net van hom en hy en syne. Geen dogtertjies in sig nie, tot my neef se teleurstelling. Ek het ‘n babadogtertjie van 18 maande oud. Ouboet se babaseuntjie van 10 maande speel saam. Die heeldag leer en herstel my neef: dis ‘n dogtertjie, mens sê haar en sy, nie hom of hy nie. Die 2 peuters sit teen skemer in die badjie in die stort. Die 3 nefies staan voor die badjie en bekyk die gebadtery. Uit die bloute vra my neef onnutsig: hoe weet mens sy is ‘n dogtertjie en nie ‘n seuntjie nie? Doodse stilte. Dan waag die jongste met die wysheid van ‘n 3-jarige: omdat ‘n mens vir hom “sy” sê.

Uit die mond van ‘n suigeling kom die wysheid van die grysheid.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

9 thoughts on “Hom of Haar?

  1. Ek het nou heerlik gelees. Wat die vraag betref, daar mag ‘n verskil wees en die verskil moet na my mening erken word, maar die skryftaal moet korrek wees. En omdfat die skryftaal korrek moet wees, moet die kinders reg geleer word. Al praat pappa en mamma by die huis anders. Ons het self baie woorde wat ons kan gebruik, maar nie doen nie. Omdat dit nie vir skryftaal geskik is nie.

    Hoe verras is ek nou? My kinders (wit, Afrikaans) het in Florida van hane gepraat. En nou hoor ek by jou dit is eg aan Kaapse Afrikaans? Hulle het nie gehomne nie, net gehane. En dan het ek hulle boeke laat lees om vir my te kom wys dat die woord wel so gespel moet word. Hulle kon net hoenderhane kry. Dus het ek verduidelik dat regte spelling noodsaaklik is, al praat jy anders. En dat dit sommer makliker is om te praat soos mens spel.

    Oulike storietjie, jy het seker gewonder wat hulle gaan antwoord. My dogter leer haar dogtertjies die wetenskaplike woorde. Dit is vir my baie onvanpas as kleine dogtertjie so praat, ook met seuntjies. Vir my dra dit ‘n boodskap oor dat die arme onskuldige dogtertjie baie, baie wys is. En wat dan?

    Like

    1. die kinders weet nie wat is die verskil nie. As hulle kan leer van wolkekrabbers en verdubbel, kan hulle ook leer van vagina en penis. Maar dit val glad nie reg op die oor nie, ek stem saam. Ek kan boeke skryf oor die kinders in my klas se uitdrukkings.

      Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website at WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: