Spinnekop

Ek het gisteraand geslaap met ‘n spinnekop in my kamer. ‘n Groot, langbenige, baie-ogige spinnekop. ‘n Reënspinnekop.

Ek kan met oortuiging sê ek is nie bang vir spinnekoppe nie. Ek hou van die klein vlieë vangertjies wat so spring-spring vliegies jag teen ruite. Het selfs al ‘n spinnekop aangehou in my huis. Maar daai een was ‘n gewone Daddy Long Legs. Onskadelik en rustig. (Nie dat ek my vinger gehou het en gesê het “bite me” nie. Volgens die wetenskaplikes is hy glo erg giftig, maar sy kake is te klein om ‘n mens te kan byt en daarom reken ons hy is nie gevaarlik nie). My Daddy Long Legs het in die hoekie tussen die gordynkap en die muur in die kombuis gewoon. Sy oorblyfsels, netjies toegedraai in sysakkies, het soggens op die werktafel gelê en dis gou verwyder. Sodra sy spinnerak te groot geraak het en stof vergader het, het ek hom liggies gepla tot hy op die gordynkap verdwyn het. Dan is die rak vinnig verwyder. Spoedig het ek hom weer gewaar waar hy aan sy nuwe web gewerk het. In daardie tyd het vlieë en muskiete my nie gepla nie. Maar soos die tye van die lewe ook kom en gaan, het hy net eendag nie in sy web gesit nie. Geen nuwe verpakte oorblyfsels het op die rak gelê nie. ‘n Paar dae later moes ek erken dat hy nooit weer gaan terugkom nie. Ek moes afskeid neem sonder ‘n liggaam. Geen ander Daddy Long Legs het sy persoonlikheid gehad nie en nooit weer was daar een wat sy plek kon inneem nie.

Pholcidae (cellar spiders) Archives - SpiderHugger | Peter parker ...
daddy long leg

Terug na my ervaring van gisteraand. Onskuldig stap ek van die badkamer af na my bed toe, draai om om eers die lig af te sit, en daar sit HY – langbenig en dreigend in die hoek.

Huntsman Spider

Hy staar my aan. Liefie, roep ek beangs, kyk daar. Liefie gooi die komberse af en spring op. Wat, skree hy dreigend en grooooot, waar is die vent? (net die vorige week was daar ‘n rondloper wat bewyse gelos het dat hy in ons tuin was). Daar in die hoekie, kerm ek. My geliefde gewaar die spinnekop, blaas sy asem uit, sê ooooo en klim rustig terug in die bed. Ek dog jy sien ‘n man. Daai spinnekop is banger vir jou as hy vir jou.

Red nou ‘n nasie. Liefie, probeer ek weer, spinnekoppe in die natuur is mooi. Ek neem hulle af, bewonder hul webbe en sal lank sit en kyk hoe hulle reageer op wat rondom hulle gebeur. Maar NIE IN MY HUIS NIE. My geliefde kyk nie eers op van sy selfoon af nie. Die spinnekop sal jou niks doen nie, belowe hy. Kom klim in die bed dat ons kan slaap. Slaap? Ek? met ‘n gedrog in my kamer? Ek draai om om my duvet terug te trek en net om seker te maak die ding wil my nie bespring nie, kyk ek vinnig om en o griet, dis weg. Liefie, klop my hart in my keel, die spinnekop is weg. Gaaf, kom die onsimpatieke antwoord, dan kan ons nou slaap. Maar waarnatoe is hy? wil ek bang weet. Hy was net bokant die deur en 3 van my baadjies hang daar. My brein wil nie toegee dat die gang net aan die anderkant van die hoekie is nie. (Dalk het hy regtig ontsnap van die negatiewe seine wat my lyf uitstraal.?) Maar ek klim in die bed en trek die duvet hoog op. My groot man is hier, hy sal my beskerm teen die aanslae van ‘n ou spinnekoppie, nie waar nie? Ek raak aan die slaap.

Vroeg vanoggend, ek word altyd eerste wakker, beskou ek die mure roerloos, maar gewaar geen spinnekop nie. Dis koud toe ek wil opstaan om te gaan koffie maak. Die dreigende koue front het toe wel oor die Kaap van Storms inbeweeg en ek wil my baadjie aantrek. Liefie, maak ek die slapende een wakker, sal jy asb agter die deur kyk of die spinnekop daar sit? Liefie is nie geamuseerd nie, maar een kyk na my mond wat op ‘n dun streep trek, staan hy op en kyk agter die deur. Geen spinnekop nie, Adrietjie, hy is sekerlik uit buitentoe, net soos hy ingekom het. Sal jy asb my baadjies skud om te kyk of hy daar ingekruip het? Hy gehoorsaam plegtig en gee elkeen ‘n stewige skud. Geen spinnekop. Terug in die bed, kry hy ‘n lekker drukkie. En wat maak ek? Ek staan op, stap na die kamer langsaan terwyl ek eers seker maak die spinnekop is nie in die gang in die hoekie nie, kry my vars gewasde baadjie van die droograk af, trek dit aan en gaan maak koffie. Natuurlik nadat ek eers seker gemaak het elke gang en hoekie is spinnekop-vry.

Nou bly die vraag nog – waar is die spinnekop nou. Het hy sy uitgang buitentoe gekry? Ek hoop van harte so.

lees gerus hier verder oor reënspinnekop: https://en.wikipedia.org/wiki/Palystes_superciliosus

lees gerus hier verder oor Daddy Long Legs https://en.wikipedia.org/wiki/Pholcidae

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

10 thoughts on “Spinnekop

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: