Voëltjies

Ons merk op ons huis kry ‘n besoeker.  Sy organiese merk – ovaal, dun en gryswit – is sigbaar langs die broodrooster, op die kombuistafel en selfs in die woonkamer waar ek werk.  Sou dit ‘n kwikstertjie wees? 

Ek en my geliefde maak pakkies droë gemmerbier in die oop garage.  Ek sien uit die hoek van my oog ‘n lieflike oranje-geelbors Jan Frederik wip deur die veiligheidshek tot net binne op die vloer.  Versigtig, asof hy maak of hy nie daar is nie, sit hy ‘n paar sekondes doodstil.  Dan wip hy laag tot skuins agter my, so asof hy kamtig iets sien en die volgende oomblik woerts hy die kombuis in.  Ek beloer hom deur die groot vensters.  Reguit broodrooster toe vlieg hy, bekyk die wêreld en vind geen krummels nie.  Hy draai om  en gaan land op die tafel by die bakkie met grondboontjies en rosyntjies.  Draai sy koppie die kant en daai kant toe.  Gryp ‘n grondboontjie.  Dan kom sy vlugpatroon duidelik deur.  Hy vlieg tot op die kombuisdeur, buk af en kyk of die pad oop is, storm deur die oop spasie, glip agter die mense verby bo-oor die veiligheidshek en weg. ‘n Rukkie later kom hy terug.  Die keer let hy op ons sien hom raak.  Hy verander van koers, wip op van die grond af en kry hoogte tot op die muur.  Daarvandaan wip-wip hy effens na regs en toe hy sy hoek reg het, skiet hy oor ons tot in die kombuis.  Die keer kom hy nie terug nie.  Ons gaan soek hom.  Kry hom waar hy aan ‘n oorskietbroodkorsie pik langs my rekenaar.  Toe hy ons sien, vlieg hy op en verdwyn deur die gleufie van die skuifdeur.  Ons laat dit effens oop vir vars lug, sien.

Wat is die natuur ‘n wonderlike ding. 

Dit herinner my aan die kwikstertjie wat my pa “mak” gemaak het.  Op Waenhuiskrans is daar baie van hulle.  Gewoond aan mense sal hulle nie sommer vlug as een naby kom nie.  Pappa let toe op dat hulle die stukkies kaas wat uitgevee word, van die gras af oppik.  Daarom begin hy bietjies chedderkaas rasper en op die stoep uitstrooi.  Kwikstertjie begin sit later op die deur en roep as Pappa nie naby is nie.  Daarna vorder hy tot op die kombuistafel en wag dat die kaas kom.  Geel kaas, nie wit nie let wel.  ‘n Enkele keer het hy tot op Pappa se arm gewip en sommer sy bekkie vol kaas daar uit Pappa se hand bymekaargemaak.  Later het hy sy wyfie en tot ons verbasing ook die kuiken saamgebring (toe dié al kon vlieg).  Pappa en Mamma het later dorp toe getrek.  Daar het hy die volgende groepie voëltjies gelok met kaas. 

Groot was ons verbasing toe ons wel een naweek Waenhuiskrans toe gaan, strandhuis toe.  Kort nadat ons die voordeur oopgemaak het, het daar ‘n sterk roep deur die huis getrek.  Kwikkie het op die deur gesit en sy teenwoordigheid aangekondig.  Vinnig het ons plan gemaak vir iets om te eet.  Koekiekrummels gestrooi.  Dit het hy eenoogig aanskou en geskel.  Kaas moes dit wees en kaas was dit.  Eers het hy homself vol geëet, toe skep hy ‘n bekkie vol en daar vlieg hy weg, met ‘n kwikkie se besonderse op en af vliegstyl.   

Ek wonder vandag nog of die kwikkies wat agtergebly het, die kennis van kaas by ons huis aan hulle kleintjies oorgedra het.

********************************************

Voeg nou hierby die wonderlike klank van voëls. Die musiek in my wese let altyd op na die geluid van voëls. Hulle sê dis die vroeë voëltjie wat die eerste wurm vang. Vir my is dit altyd, wie is eerste wakker. Buite my woonstel is daar ‘n groooooot bloekomboom met baie plek vir baie geveerde inwoners. Daar het al ‘n uilpaar gewoon en hadidas kom sit gereeld daar en raas in hul hees stemme. Soggens vroeg is ek wakker en dan luister ek na die stilte voor die storm. Dan, asof hy dit nie meer kan hou nie, waag een voëltjie (mossies en vinke) dit met ‘n enkele “tweeeeet?” Iemand sou hom antwoord en dan meteens is al die voëls wakker. Dan sing en groet en raas almal vir ‘n paar sekondes voor hulle wegvlieg om ontbyt te kry. Kort voor lank is dit ‘n gekom en gaan soos min.

Greater Yellow-Finch - Matías Garrido
geel vink
mossie

Later in die seisoen, nader aan herfs, het groot swerms rooivlerk spreeus in die groot bloekom vergader. Dit is die mooiste musiek as hulle gesels. Skielik sou hulle net opvlieg en in patrone in die lug rondswerm, net om weer te kom sit. Dan moet jy mooi kyk om hulle raak te sien tussen die blare. Kamoeflering op sy beste.

Red-winged starling (rooivlerk-spreeu) | South african birds ...
rooivlerk spreeu

Op Bredasdorp buite my huis, het daar kransduiwe gewoon. Soggens met opstaantyd het hulle ‘n baie besondere roep-koer geluid gehad. As daar kuikens in die nes was, het die roep verander na ‘n sagte borsgeluid. Groot was my verstomming toe my dogtertjie een oggend verontwaardig vra om die voëls te verjaag, want sy weet as hulle roep, dan kom ek haar roep vir opstaantyd.

File:Speckled pigeon (Columba guinea guinea).jpg
kransduif

My ikoniese voël is die vis-arend. Hoekom? Hulle is vir ewig trou aan mekaar, hulle sweef moeiteloos op warm lugstrome, maak hulle kleintjies saam-saam met sorg groot en hulle het die mooiste geroep. Hulle vlieg so ver bo in die lug dat hulle lyk soos spikkels, maar daardie lieflike geroep word vir kilometers ver gehoor. Hulle is ook top predatore en as hulle in die omgewing is, heers daar ‘n balans in die natuur. Ek is nie ‘n top predatoor nie, maar dis vir my belangrik dat daar balans in die lewe is.

Free stock photo of africa, fish eagle, zambia
visarend

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

12 thoughts on “Voëltjies

    1. Ek het van ouderdom 7 af in ‘n groterige dorp grootgeword maar ken ook voëltjies. Dis die hart, nie die plek nie, wat mens leer. Mits jou oë oop is vir klein goedjies. In die wildtuin kyk almal vir bloedbekleeus en stinkasem hiënas terwyl ek kyk na bromvoëls, gompoue, kwêvoëls, neushoringvoëls, sysies, tinktinkies, kwikkies…..

      Liked by 1 person

      1. Ek stem saam, en luister na al hulle geluide. Nie een klink dieselfde nie. En die lieflike patrone op hul vere, elkeen se besondere voorkoms, dis so uniek.

        Like

      2. Ons het verhuis en het baie spesies hier, ons word begrens deur ‘n natuurreservaat met fynbos en ‘n paar hektaar woudland.

        Hier is ibisse, hadedas, reiers, kraaie, kanaries, kwikkies, meelogies, malagiet suikerbekkies, tiptolle, laksmanne, janfrederikke, bokmakieries, lemoenduifies, tortelduiwe, kransduiwe, sperwers, valke, visarende, sysies, muisvoëls, geelbekeende, jakkalsvoël aka Russian Steppe Buzzard, spreeus, mossies en ons het gister ‘n houtkappernes opgesit. Ek het nog nie ‘n hoephoep gewaar nie. Uile. Baie uile.

        Jare gelede kwikkies gehad wat by ons voordeur gebroei het totdat ons moedswillige Frieslander aan die eiertjies loop vat het.

        Like

      3. O, hierdie WordPress……ek soek ‘n 747 om na hulle kantoor toe te stuur. Ek het ‘n uitgebreide antwoord gestuur maar hulle gooi dit weg.

        Kom ons probeer weer:
        Of hoep-hoepe uitsterf? Ek reken daar is nou minder as veertig of vyftig jaar gelede. Want elkeen het mos ‘n kat, wat uitheems en volksvreemd is. En dit van veral hoe-hoepe baie maklik.

        Like

  1. Op ‘n stadium lank gelede was die kwikkies net weg – as gevolg van DDT-gif, dink ek. Ek onthou nou nog my mammie se vreugde toe sy weer eendag ‘n kwikkie raakgesien het. Voor die woonstel van my jeug in Sunnyside was daar ‘n palmboom vol kransduiwe, watter lieflike voëls is hulle tog! Het lekker gelees hier by jou.

    Liked by 2 people

  2. Eergistermiddag draai daar V I E R visarende seker so drie, vierhonderd voet bokant ons huis. Ek word wakker uit ‘n middagslapie, weet ek het iets baie bekend gehoor.
    K kom van buite af in. Sy het haar vel afgezip van opgewondenheid. “Kom kyk,” gil sy, hier is ……….”. Die roep van die visarend voltooi haar sin.
    Ek is lief vir arende, dis amper spiritual.
    Maar vier visarende bymekaar in ‘n losse swerm op donneragmirrag is amper te veel. Ek is oorstelp.
    Was dit sommer maar net?
    Was dit ‘n teken?
    Ek dink ek het op my ander blog iets geskryf hieroor.

    Liked by 1 person

  3. In Seepunt het almal mos ‘n bleddiekat wat 200,000 stukkies wildlewe per jaar in die Tafelberg Nasionale Park vermoor. Ek wil elke katmannetjie met ‘n naelknipper ontpit. En hulle wyfies met superglue toeplak.

    Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: