Neef en Musika die eerste vakansie deel 3

volg die skakel na Neef en Musika op vakansie deel 1. https://wordpress.com/block-editor/post/appeltjie.wordpress.com/99

https://wordpress.com/block-editor/post/appeltjie.wordpress.com/181

‘n Seemeeu raas Musika wakker.  Heeltemal te vroeg na haar smaak.  Eerste aand op ‘n nuwe plek, nuwe bed, nuwe tentmaat het haar tog effens onrustig laat slaap.  Op sy kampbed slaap Neef nog vas, op sy maag gedraai.  Sy arms hangs langs die kampbed se kante af.  Hoe so ‘n groot man tog gemaklik kan slaap op so ‘n nou bedjie gaan haar verstand te bowe.  Die seemeeu, vasberade om hul wakker te maak, baklei weer met die res van sy swerm oor ‘n weggooibroodjie langs die swart drom. Neef roer.  Draai sy kop om haar te soek en gee ‘n slaapglimlag.  Môre, lekker geslaap? Lus vir koffie?  Alles in een asem.  Die man is ‘n koffie fanatikus.  Sy hou deesdae ‘n pot duur koffie in haar huis net vir hom.  Net gou fluit die ketel op die gasstofie en is 2 bekers koffie gereed op die tafel.  Neef kyk na Musika waar sy staan langs die tent, haar arms bokant haar uitgestrek om die vars koel seelug in te asem. Mooi was nog nooit lelik nie, was dit?

Tyd wag vir niemand nie en daar is baie om te doen.  Hy raak effens haastig.  Die pad is lank en ‘n man se maag moet vol kom.  Behendig maak hy ontbyt van eiers, gebakte tamatie en die vorige aand se oorskiet braaiwors.  Die afbreek van die tent en oppak gaan verbasend vinnig noudat sy weet wat om te doen.  Kort daarna is hulle op pad, GPS ingestel.  Musika pluk haar notaboekie uit.  Sy het navorsing gedoen voor die trippie.  Ek sien hier is ‘n !Khwa Ttu San Kulturele sentrum, die Weskus Fossielpark en ‘n Crayfish staproete. Gaan ons dit doen?  vra sy.  Nee, sê hy, nie hierdie keer nie.  Ons kamp vanaand en môre-aand by Brand se Baai.  Ons gaan langs die see stap, ons kos uit die see kry, sandduine ry en sommer net doen waarvoor ons lus is, wanneer ons lus is, hoe lank ons daarvoor lus is.  Net ons en die natuur. 

Stadig ry hulle, kyk-kyk omdat die wêreld vir haar nuut is.  Dis Augustus en die blomme is welig  na die reën van ‘n paar weke gelede.   Links loer die see kort-kort vir hulle tussen die duine deur. 

Waar is Brand se Baai?  vra sy.  Dis ‘n privaat strand.  Geen elektrisiteit of lopende water, onthou jy ek het jou vertel?  Hy beduie na ‘n padkaart in die paneelkissie.  Dis ‘n lang sit van waar hulle nou is, maar die gesels loop gemaklik.  Kort-kort raak sy arm aan haar skouer, streel hy oor haar vingers as sy stukkies droë wors uitdeel.  Die man is ‘n vleiseter, het sy lankal agtergekom.   Die verligting is egter groot toe hulle die afdraaipad sien (die GPS het hierdie keer saamgespeel).

Laatmiddag sak hulle af op die sandpad en voor haar verskyn ‘n toneel wat haar asem wegslaan.

Neef soek die regte helling teen die duin met ‘n asemrowende uitsig oor die see.  Die tent word opgeslaan.  Hulle werk saam of hulle dit al jare doen. Daarna kom die afdakkie.  Die eerste vuur word aangepak.  Sy het geleer dat jy wil sien wat jy wil sien voor dit donker raak.  Daarom stap hulle af rotse toe.  Neef neem versigtig haar hand, net om te keer dat sy nie struikel terwyl sy alles rondom haar bekyk nie.  Hy was al hier.  Daarom kyk hy vir haar, geniet haar verwondering.  Die robbe, nie bang vir mense nie,  bak lui-oog in die laaste bietjie hitte van die dag.  Seemeeue voer ingewikkelde danse uit in die lugstrome oor die see. Swart mossels, so groot soos haar hand, pak die rotse toe.  Mag ons hiervan oes vir aandete?  vra sy.    Sy het die visstok gesien op die dakrak.  Vars seekos vir aandete, wat kan dan lekkerder wees.  Sy wonder by voorbaat of hy gaan kla as sy die vis met haar hand eet.    

Versadig na ‘n ete wat jy nie in ‘n restaurant sal kry nie, trek Neef Musika se kampstoel styf teen  syne, neem haar hand en laat die rustigheid van die oer-oue landskap hulle oorneem.  Nie lank nie of ‘n ligte seebries begin dit ongemaklik maak om buite te wees en hulle verskuif tent toe.  Wil jy bietjie lees voor ons slaap? steel hy haar hart van vooraf.  Nee wat, antwoord sy, dit wat ons vandag ervaar het, klop ‘n liefdestorie by verre.  Sy hart bons so hard, hy is seker sy kan dit hoor.

‘n Paar uur later skrik hulle wakker van ‘n harde geflap.  Musika is ontsteld, gaan hulle tent wegwaai?  Buite het die ligte briesie verander in ‘n kwaai wind wat aan hulle kampplek pluk.  Neef gee opdragte van items wat omgedop moet word, in die tent ingedra moet word, agter die voertuig moet kom.  Die vuurmaakplek is reeds vroegaand veilig gemaak.  Musika sluk haar bang en bly besig.  Neef slaan die tentpenne stewiger in, trek die stormseil bo-oor vas.  Maar hy sien hy kry haar vanaand nie weer in die tent nie.  Hy gryp ‘n paar komberse en kussings, sluit die 4X4 oop en bondel hulle binne voor die wind die deur ook gryp.  Buite kan hulle die wind nog hoor, maar binne is dit meteens stil.  Sjokolade? vra hy.  Dit sal haar aandag aftrek. Hy vat weer haar hand, trek haar nader sodat sy teen sy skouer sit-lê.  Nie een van hulle slaap vas nie, gaan kyk gereeld of die tent nog aandag nodig het.  Hulle sluimer later tog in en so, tussen slaap en wakker, vind die son hulle die volgende môre.  Die wind het homself weggewaai en ‘n kalm see begroet hulle.

Neef wag vir ‘n omgekrapte Musika versoek om terug beskawing toe te gaan, maar weer eens verras die vrou van sy hart hom.  Met slaap-deurmekaar hare en ‘n kombers om haar skouers stap sy af see toe om te gaan kyk watter skatte die see op die sand uitgespoel het.  Sy wil ‘n onthou-skat terugneem huis toe.   Hy gaan staan agter haar, vou sy arms  om haar, snuif haar geur in sy neus in.  Met sy hart in sy keel praat hy. Musika, ons het nog 2 dae wat vir ons voorlê.  Ons gaan seekos uithaal, ver ente stap in die veld, rustig wees, op die duine ry, dalk ‘n keer of wat vassit.  Is jy bereid om saam met my te ry, te help om vastigheid onder die wiele kry wanneer die sand te sag raak en die kar vassit?  Sal jy my liefde wees?

Musika besef dat hierdie vassit waarvan hy praat, nie vandag en môre is nie, maar vir baie môres wat hierna gaan volg.  Sien sy kans daarvoor?  Beslis.  Hy is die een waarop sy so lank gewag het.   Sy glip haar hande oor syne waar dit voor haar kruis. 

Asseblief, antwoord sy.

Inligting bekom uit: https://www.wesgro.co.za/travel/places/cape-west-coast-weskus en google fotos

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

6 thoughts on “Neef en Musika die eerste vakansie deel 3

  1. Musika,ek kon vandag die liefde en deernis tussen julle twee aanvoel. Dis wonderlik om die eerste treë van ‘n nuwe pad voel-voel te ontdek. ‘n Hand wat versigtig uitgesteek word, ‘n handvryf oor die hare, ‘n uitgerekte stukkie oogkontak wat jou blik vir ewig in sy hart wil vashou. Die lyftaal wat jou onderbewussyn uitbasuin terwyl jou bewussyn verstom toekyk.

    Liked by 1 person

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: