Neef en Musika die eerste vakansie deel 2

volg die skakel na Neef en Musika op vakansie deel 1. https://wordpress.com/block-editor/post/appeltjie.wordpress.com/99

Vroegmiddag, 2 weke na Neef met die roadtrip langs die Weskus idee na vore gekom het, staan hy langs Musika waar sy die volgepakte FJ staan en bekyk. Alles is daarin, tentgerei, bagasie, inkopies. Dis volgepak tot bo teen die dak. Sy het nie geweet ‘n langnaweek weg het soveel voorbereiding en gereedskap nodig nie. Sy dink terug aan die gesprekke wat sy en Neef gehad het die vorige paar dae. Jy hoef regtig niks te doen nie, ek het alles onder beheer, het hy haar keer op keer verseker. Maar haar vrae het nie opgehou nie. Sy was gewoond daaraan om haar doen en late self te beheer. Neef, self nie gewoond daaraan om reëlings uit sy bekwame hande te laat gaan nie, moes oor en oor verseker dat hierdie naweek ‘n bederf vir haar gaan wees. Sy hoef regtig niks te doen nie, behalwe om haar eie persoonlike goedjies in te pak. Wag en kyk, verseker sy innemende glimlag haar, na dese gaan jy nooit weer anders wil vakansie hou nie.

Neef weet dat hy hierdie vakansie glad moet laat verloop as hy hierdie pragtige vrou se hart vir ewig wil verseker. Op sy ouderdom moet ‘n man egter seker maak dat hy die regte keuse doen. As dit beteken ure saam in die gemaklike kajuit van sy 4X4 voertuig, en eenvoudig leef so na aan die natuur as moontlik vir ‘n paar dae, dan is dit net wat hy gaan doen. ‘n Paar pakkies donkersjokolade met lemoenstukkies (haar gunsteling) in die paneelkissie, mooi musiek op die flashstick, bottels sprankelwater vir elkeen en hy is gereed.

Waar is ons eerste stop? vra sy toe hulle inklim. Yzerfontein, kom die rustige antwoord. Ons gaan een aand oorslaap in die kampeerterrein daar. Hy het gereken ‘n sagte inbreek is net die ding. Sal jy asb die GPS instel, vra hy. Haar hart gaan sit in haar skoene. Neef, begin sy, ek dink ons moet mekaar op hierdie punt mooi verstaan, rigting hou is nie my sterk punt nie. My links en regs is omgedraai na ‘n leeftyd van in spieëlbeeld klasgee vir 8-jaar oud kleintjies. Ek weet ek gaan baie onhandig wees op my eerste kampervaring, en ek gaan my bes probeer om te leer, maar jy gaan moet verantwoordelikheid aanvaar vir hoe ons by ons bestemming aankom. Neef knik, die GPS het hom nog nooit in die steek gelaat nie, verseker hy haar. Dis net die vorige naweek opgedateer.

Die instellery neem ‘n tyd om gedoen te kom, maar uiteindelik is Yzerfontein ingesleutel. Veiligheidshalwe stel sy haar selfoon ook in, net om seker te maak. Maar dis nie lank nie of daar is probleme. Net daar waar hulle moet reguit aanhou volgens haar foon se aanduidings, wil die GPS hulle laat afdraai, ander pad om. Neef vertrou sy voertuig, draai af en haar sel klink vertroostend op: “recalculating” in ‘n singende toon. Net gou besef hulle daar is wel fout. Die eerste garage langs die pad lewer ‘n vriendelike verkoopsman op wat vasstel dat die opdatering alle stellings verander het en dat die GPS hulle wegneem van die hoofroetes af. Neef sluk verlig. Gelukkig dat die probleem nou opgetel is, voor hulle op die vreemde paaie begin ry. Terug op die pad beduie hy haar na die pakkie donkersjokolade met lemoenstukkies in die paneelkissie. Dit werk. Haar hartklop bedaar.

Het ons genoeg koeldrank, vra sy toe hulle Yzerfontein inry. Yip, en tjips en biltong en bier en bottels sprankelwater, kom die antwoord gerusstellend. Sy verkyk haar aan die lieflike dorpie, die mooi plantegroei en asem die geur van die seelug diep in. ‘n Opgewondenheid begin versigtig in haar plaasvind. Hulle is hier.

Yzerfontein

Gewoond daaraan om dinge self te doen, wil sy help met afpak. Maar Neef, wat selfstandigheid waardeer, reken dat swaar goed ‘n man se werk is. Sy kan nethou help aanvat as hy die tent opslaan. Sy leer vinnig. Kyk hoe hy sistematies die tentgereedskap langs mekaar neersit. Help vinnig om die grondseil gelyk te trek. Plaas die tentpenne wat bymekaar pas volgens kleur in groepies. Is opgewonde toe sy haar eerste stel penne reguit trek en dit seepglad inmekaar glip. Neef gee behendig instruksies en kort voor lank is die raamwerk opgeslaan. Die seil word oorgetrek en sy verkyk haar aan die gemak waarmee hy die toue styftrek en met ‘n hamer die penne inslaan. Mmmmmmmm, dis nou iets moois om te aanskou. Nog net die seilmuur rondom en die beskutting vir die nag is gereed.

Waar wil jy die opslaantafel hê? probeer Neef haar betrek by die uitpak van die gereedskap en kos. Waar het jy dit voorheen gesit? vra sy, die onervare een. Daar waar die son nie bykom nie, is die antwoord. Links en regs is omgeruil, noord en suid is erger. En presies waar kom die son nie op nie? soek sy duideliker rigtingwysers. Roosters op die vuurmaakplek, stoele onder die afdak, lyk dit later heel gesellig. In die tent is die twee opslaanbeddens opgemaak. Mens plaas altyd jou beddens weg van die kant waar die son opkom, het Neef geselserig opgemerk. Anders skyn die son jou vroeg uit. Voor sy kon vra, het hy die beddens wel geskuif.

Sy hou van braai. Het nog altyd gehou van die gloei van die kole in die donker aandlug. Dit verskaf so ‘n warm, intieme atmosfeer. En wat is lekkerder om die vleisie of stukkie wors sommer so van die rooster af te haal? Baie beslis word haar aandete egter op ‘n bord vir haar aangegee. Nie ‘n papierbord nie, sous maak mens se hande vuil, antwoord hy haar vraag. Wors, lekker dik en sappig gaar gebraai in die hand, val sy weg aan die ete, tot sy sien hy beloer haar terwyl sy mes net so bokant syne in die lug bly hang. Oeps, hy deel beslis nie hierdie voorliefde van haar nie. Maar om met ‘n mes en vurk braaivleis te eet, is ‘n klein toegewing om te maak. Sy sit haar voet neer toe dit by die vleisbeentjie kom. Dit sal afgeknibbel word.

Related image
Free photos: Burning - 1326 images, Burning photos, Burning ...

Toe die maan grootoog en mistig oor die see opkom, neem hy haar vir ‘n stappie langs die strand. In die sagte maanlig skuif hy nader tot haar hand teen syne raak en hy vou sy vingers om hare. Voel hoe sy terug vashou. Laat skuif later sy arm om haar skouer en trek haar onder syne in. Dis mos koud en sy moet warm bly.

Hierdie foto het 'n leë alt kenmerk; die lêernaam is 2Q==

Terug by die tent is dit slaaptyd. Sy bekyk die opslaanbed. Sal dit nie tip as sy langs die kant gaan sit nie? Nee, verseker hy. Hy het al baie op een geslaap en dit het nog nooit iets oorgekom nie. Sy maak haar versigtig gemaklik. Sy hoop dat nie een van hulle sal snork nie. Dit sal die samesyn bederf. Dan raak sy rustig weg in die sterrehemel van die Weskus.

Deel 3 verskyn volgende keer.

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

3 thoughts on “Neef en Musika die eerste vakansie deel 2

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website with WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: