Neef en Musika: die eerste vakansie deel 1

Wat is jy lus om in die vakansie te doen? vra Neef.  Musika se gedagtes glip terug na Skoonseun se raad:  Ma, vra hom waarvoor hy lus is.  Dis sy manier om te sê hy het ‘n idee en hy hoop eintlik Ma se idee is dieselfde as syne.  Sy volg Skoonseun se raad.  Waarvoor is jy lus? gee sy Neef die geleentheid om sy idee voor te lê.  En hy sluk die aas.  Kom ons gaan toer teen die Weskus op tot doer waar mens nie meer mag verder ry nie. 

Haar lyf kry sommer by voorbaat koud.  Sy weet die Weskus se seewater is koud. Het dit by genoeg mense gehoor.  En sy hou van swem.  Die suidkus se water is uiters swembaar.  Hoe gaan mens see toe as jy nie kan swem nie?  Maar die geliefde het ‘n idee voorgelê en ‘n bespreking moet volg.  Dit klink na ‘n regte road trip en daarvoor is Musika altyd gereed. 

Ken jy iemand met ‘n huisie langs die Weskus of gaan ons in ‘n gastehuis bly? vra sy opgewonde.  Neef se hande raak stil.  Kamp, sê hy met ‘n veraf lig in sy oë, ons gaan kamp.

Nou is dit haar beurt om stil te raak.  Haar hande is altyd besig maar lê nou gevou in haar skoot.  Kamp?  Met ‘n karavaan?  waag sy en probeer om  nie haar onrus bloot te stel nie.  ‘n Road trip  is ‘n road trip maar nog nooit het sy een gehad wat  kamp ingesluit het nie.  Ook nie juis verblyf in ‘n 5-ster hotel nie, maar nogtans.

Nee, kom Neef se stem opgewonde deur, kamp in ‘n tent.  Eintlik ‘n grote, met 2 kamers en ‘n windmuur rondom.  En saans braai ons.  Ek moet net vir jou ‘n opslaanbed koop, dink nie die opblaasmatras en jou rug gaan saamwerk nie.  

Nou is Musika bekommerd.  In haar lewe was sy nog nooit op ‘n tent-vakansie nie.  Dadelik spring ‘n duisend  vrae in haar kop rond, want sy is ‘n planmaker, ‘n oplosser van probleme.  Sy probeer positief bly en in ‘n samewerkende toon vra sy dus verder:  is daar baie mense by die kampeerterrein? 

Nee, kom die antwoord vrolik.  Daar is niks.  Ons ry met die FJ 4X4, want dis alles sandpaaie naby die kus.  Ons slaan die tent in die natuur op die sand op, naby die see.  Swaer sal sy composting toilet en opslaanstort  vir ons leen.  Die boer op wie se grond ons staan, trek ‘n wa met ‘n Jo-Jo tenk vol vars water vir stort op die boonste sandduin, so ons hoef nie waterkanne ook saam te neem nie. Net drinkwater.

Neef leer ken nog sy geliefde.  Maar dat daar ‘n storm opsteek in daai blou oë wat sy knieë kan lam maak, is duidelik.  Nog nooit getroud nie, is hy nie seker hoe hy die saak anders moes aanpak nie.  Sy het mos gevra wat hy wil doen, nie waar nie?  En hy het eerlik geantwoord.  Hoe dan nou?

Musika wens Skoonseun is naby.  Wonder watter raad hy vandag sou gee.  Maar nou is hy ver en dus stroom haar gemoed oor.  Ek het nog nooit gekamp nie, wat nog te sê op ‘n plek waar daar nie elektrisiteit is nie!  O hel, elektrisiteit! Hoe gaan ek my tablet laai?  En my hare droogmaak? En as dit donker raak, hoeveel kerse het mens nodig vir lig?  En vleis, hoe gaan mens die vleis vars hou?  Neef, is daar selfoonsein? 

Neef sien hy gaan mooi moet werk.  Hierdie edelgesteente wat hy so laat in sy lewe raakgeloop het, is baie ontsteld.  Saggies vat hy haar met sy groot hande aan die skouers, trek haar nader, hou haar vertroostend teen hom vas en praat rustig.  Dis alles reg, liefie, ek weet wat om te doen, het al baie so gekamp.  Kom ek wys vir jou die foto’s van al die plekke waar ek al was.  

Sag-pratend gaan sit Neef met haar op die diep rusbank, kry sy selfoon sonder ‘n gesoek hierdie keer en scroll af tot by ‘n lêer: kamp.  Eers wys hy die mooi natuurtonele.  Hy moet darem haar aandag trek na die mooi.

Daarna kom die kampplek met die groot sterk tent, wat sykante het wat nie sal flap in die wind nie, na die vuurmaakplek, die LED lampe wat wit lig gee.

 Hy vertel daar is plekke waar ‘n sein wel beskikbaar sal wees en hoe die FJ se enjin wel haar tablet sal kan laai as hulle ry so sy sal kan lees en net daar vermurwe haar hart.  Lees – die towerwoord.  

Meteens lyk alles nie meer so donker en primitief nie.  En wie weet, as sy en Neef so ‘n naweek sal kan oorleef, is hulle dalk vir mekaar bedoel?  Haar vriendin reken hoeka, vra ‘n man om te help om ‘n portret op te hang en jy sal weet of julle kan saamleef.  Miskien sal  ‘n naweek in die boendoes ook werk? 

Wanneer vertrek ons?  vra sy.

fotos: google

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

8 thoughts on “Neef en Musika: die eerste vakansie deel 1

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website at WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: