‘n Brief aan myself

Liewe Ek

Dis koud en ek sit onder my kombersie in die son op die dek van Neef se huis en ek dink aan jou waar jy op 30 alleen sit met ‘n klein kindjie. Ek voel nog die hartseer, die verlatenheid, die onbegrip oor waarom alles met jou moes gebeur. En weet jy, eers wou ek jou terugneem op al die besluite wat jy gemaak het die vorige 5 jaar. Ek het gewonder hoe ek jou kan waarsku sodat foute nie gemaak kan word nie.

En dan sien ek die lieflike 2-jaar oud dogtertjie wat gelukkig rondom jou speel. Sy is die vervulling van ‘n droom, die kindjie wat jy nog altyd wou gehad het. Sou jy enige ander besluite gemaak het, sou sy nie vandag hier gewees het nie.

Ek moet jou waarsku dat daar nog moeilike tye voorlê met alleen-mamma wees. Om ‘n tienerdogter groot te maak, is nie ‘n grap nie. Maar ek kan jou vandag sê dat jy net moet aanhou met die manier waarop jy dit wel doen. Jy het ‘n lieflike, selfstandige kind grootgemaak. Een wat ‘n sukses gemaak het van haar loopbaan, ‘n goeie huwelik aangegaan het en nou ‘n pragtige babatjie het. Ek moet hierdie dinge vir jou sê, want daar gaan dae kom wat jy lang trane gaan huil oor daardie einste meisiekind. Dae wanneer jy gaan wonder waar jy moed gaan kry om nog dag op te staan.

O, en so terloops, jy moenie jou blokfluite wegmaak nie. Jy gaan dit baie nodig kry vir die 4 jaar van musieklesse tuis. En jy gaan die mooiste musiek skryf vir die blokfluitgroep. Maar ongelukkig is dit en jou speelskool nie genoeg om jou te onderhou nie. Aanvaar asb die uitnodiging om die alleen-onderwyseres vir die Engelse privaatskooltjie te wees. Jy gaan baie hard werk, maar die ervaring wat jy daar opdoen, sowel as by al die volgende skole, gaan jou voorberei vir jou pos op die Appeldorp. Geen van jou ervarings is verniet nie: van ‘n allergiese hiperaktiewe kind tot onderwysers onder jou bevel wat aangepraat moet word, van leesreekse ontwikkel omdat daar nie geld is vir nuwe boeke nie, tot ‘n spesiale toekenning vir ‘n groentetuin, jou na-uurse studies wat modules oor leierskapstyle bevat, die skoolhoofskap by nog ‘n klein skool, en dan die lieflike orrel wat jy leer speel op Stanford. Dit alles gaan jou vorm tot die persoon wat jy eendag gaan wees. Selfs die aanvanklik verkeerde keuse van ‘n lewensmaat gaan jou laat besef waarna jy eintlik op soek is, en ek wil ‘n geheim weggee – jy gaan weer iemand raakloop.

Dus, moet niks aan jou lewe verander nie. Hou aan met glo, wees sterk, staan vas. Jou natuurlike sterk leiereienskap wat jy altyd onbewustelik onderdruk het, gaan met tyd ontwikkel en jy gaan baie mense met jou saamtrek, leiding gee vir ‘n gemeenskap, ondersteuning verskaf aan jou geliefdes. Jy sal soos ‘n wingerdloot gesnoei word om baie vrug te dra. Snoei is seer, dit laat merke, maar daardie merke gaan bewyse word van ‘n vrugbare lewe.

Geniet jou babatjie. Die tyd snel verby. Ek weet, ek was daar.

met liefde en seënwense

Ek in 2020

Published by appeltjie

Ek is 'n mamma, 'n juffrou, 'n geliefde. Om woorde te gebruik om kreatief te wees, is 'n nuutjie. Maar wat 'n fees.

6 thoughts on “‘n Brief aan myself

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Create your website at WordPress.com
Get started
%d bloggers like this: